Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 8

Oop ore vir hoor en praat

Bybelteks(te)

JESAJA 50

Wie wil my aankla?

4Die Here my God het my geleer

om die regte woorde te gebruik

sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,

Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

Ons het in die vorige dagstukkie gesels oor die verskil wat die regte woord op die regte tyd in mense se lewens kan maak. Die geskrewe Woord word die rhema woord wanneer die Heilige Gees dit “lewend” maak sodat jy omstandighede in jou eie lewe en ander gelowiges se lewe kan aanspreek.

Maar hoe weet iemand te midde van ʼn besige lewe en sy eie uitdagings dat dit die Here is wat met daardie raak woord nou deur sy tong praat? “Die Here HERE” wat die geoefende tong gee, is ook die Een wat ore wakker maak om te luister: “Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ʼn leerling moet luister” (Jesaja 50:4). Hierdie soort luister vra ʼn bewustelike stilbly, stilsit en afsluit van alle dwalende gedagtes sodat ʼn mens kan hóór wat die Here vir jou sê.

Wanneer ons biddend met die Woord omgaan tydens ons doelbewuste stiltetyd, kom die Heilige Gees ʼn op misterieuse manier en maak God se stem hoorbaar in ons gees. Dan wéét ons: Dit is Hy wat nou aan die woord is! En ons wíl luister!

Maar dit bring verantwoordelikheid: Ons mond, hande en voete moet by ons ore aansluit en ons moet dóén; daar is geen ruimte vir teëstribbeling, opstandigheid of ontrouheid rakende dit wat God vir ons sê nie (Jesaja 50:5).

Ons Vader se hart is om met elke gelowige persoonlik te praat, maar ons weet reeds uit Jesaja 50:4 dat Hy ook mense gebruik om sy kinders te bemoedig. Wanneer jy bevoorreg is om in iemand se krisistyd teenwoordig te wees, met ander woorde, iemand “wat moeg is, moed in te praat”, doen dit in diep afhanklikheid met ʼn rhema woord, “wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29b).

Vandag sien jy dalk geen uitkoms in jou hopelose situasie nie. Hagar was ook op so ʼn plek – sy en haar seun was in die woestyn met net brood en water. Haar kind lê sterwend en sy wil dit nie aanskou nie. Haar harde geroep en bitter trane word gehoor: “Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ʼn groot nasie maak” (Genesis 21:17-18). Ons hemelse Vader weet van jou en jou gesin; Hy weet van jou onmoontlike situasie en Hy sál ingryp. Luister net soos Hagar na wat Hy vir jou sê om te doen: 1) Moenie bang wees nie – Hy hoor; 2) staan op; 3) tel jou kind (jou hart) op en troos hom.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS