Loof Hom – Dag 6
Hoop in vertwyfeling
Bybelteks(te)
PSALMS 42
Tydens die lenteseisoen, wanneer nuwe lewe in die natuur deel het aan die sigbare en vertel van God se skeppingskrag, dink ʼn mens selde aan droogtetye wat die mooi kan verskroei. Wanneer dit tóg eendag gebeur, word verlepte blare, dooie blomme en stof wat deur die wind aangejaag word, ʼn noodkreet vir water.
Dit is presies wat gebeur in hierdie gedig in Psalm 42:6. Droogte het toegeslaan op die menswees van die skrywer en nou roep sy dorre siel vol vertwyfeling, vrae en verlange uit na God. Hoe dan anders? Mense vra leedvermakerig vir hom waar sy God is (vers 4); hy is nie meer in aanraking met God nie, want hy kan nie alleen of saam met ander gelowiges na die tempel gaan om te aanbid nie (verse 3,5); hy is ʼn balling in ʼn vreemde land (vers 7) en uiteindelik bereik hy ʼn punt waar hy vir God reguit vra waarom Hy van hom vergeet het (vers 10).
Maar dan onthou hy: God was teenwoordig toe hy soveel vreugde ervaar het om mense na God se tempel te lei! Het God dan nou skielik verdwyn? Nee, Hy is ook teenwoordig in die vreemde en slegte situasie waarin hy hom bevind en óók daar waar mense hom bespot oor die “afwesigheid” van sy God.
En toe breek hoop ʼn pad deur die droë kors van sy droogte: hoop op God. Hoop op sy God – sy Helper en sy Rots.
Hierdie hoop motiveer hom tot ʼn ernstige interne dialoog: “Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer prys vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring” (Psalm 42:6).
Elke mens ervaar in sy leeftyd soortgelyke omstandighede wat hom onrustig maak, laat kerm, wegkwyn en laat twyfel aan God se teenwoordigheid. Maar is dit hoegenaamd vir God moontlik om sy eie skepping, sy kind, te vergeet? Nie as ons luister na wat Hy self daaroor te sê het nie: “Kan ʼn vrou haar suigling vergeet … Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer …” (Jesaja 49:15b-16).
Hierdie belofte gee genoeg hoop vir jou omstandighede. Maak soos die psalmdigter: Praat met jouself en betig jou swaarmoedigheid dringend en met erns; verklaar hardop jou hoop op God se vermoë om dinge te verander en neem ʼn besluit om Hom te loof – in jou huidige omstandighede en ook wanneer Hy dit verander het.