Bible Society of South Africa
Carina Francke

Loof Hom – Dag 23

Maak my …

Bybelteks(te)

PSALMS 86

17Maak my 'n voorbeeld van u goedheid,

sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesien

dat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.

PSALMS 86:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het in die vorige dagstukkie gesels oor gebed wat die blitslyn van hoop is wat ons in kontak hou met God. Deur gebed kry ons krag sodat ons kan leef soos God verlang. Gebed is ook die rou, naakte erkenning van ons onvermoë om onsself te verander, maar is terselfdertyd ook ʼn verklaring van ons afhanklikheid van sy vermoë as ons vra: “Here, maak my …”

Dawid ly onder mense wat hom sleg behandel, aanval en selfs wil doodmaak; daarom begin sy gebed in Psalm 86 met die woorde: “Luister tog na my, Here, verhoor my gebed, want ek is hulpeloos en arm”. In die versoeke wat daarop volg, is dit duidelik dat hy beskerming, redding, genade, vergifnis en blydskap van God in sy lewe nodig het (Psalm 86:1-5). Hy laat egter nie na om te midde van hierdie neerdrukkende omstandighede God se vermoë en grootheid te besing nie en dit motiveer hom uiteindelik tot so ʼn mate dat hy vra: “… gee U my tog krag en red my. Maak my ʼn voorbeeld van u goedheid …” (Psalm 86:16-17). Hy vra eintlik vir God ʼn teken, ʼn wonderwerk in sy lewe sodat die vyand se mond gesnoer kan word as hulle sien wat God vir mense kan doen. Hy wil trouens sélf die voorbeeld wees.

Daar is nog iemand wat met ʼn soortgelyke versoek gekom het. ʼn Arrogante jongman eis dat sy pa sy erfporsie voortydig vir hom gee. Hy verkwis toe die hele erfporsie en beland sonder ʼn sent in groot ellende. Met ʼn diep bewustheid van sy sonde teenoor sy pa en die hemel, neem hy ʼn besluit om na sy vader terug te gaan en hom te vra: “Maak my soos een van u huurlinge” (Lukas 15:19).

Soms is ander mense die oorsaak van ons ellende – soos in Dawid se geval – maar dikwels is dit ons eie verkeerde keuses en foute wat ons in stormagtige waters laat beland – soos die seun wat sy erfporsie verkwis het. Albei van hulle het egter die “maak my”gebed vanuit opregte bedoelings en ʼn berouvolle hart gebid, en albei se gebede is verhoor. Die wonder van hierdie twee verhale is dat ʼn liefdevolle vader gestaan en wag het vir sy kind, gereed om hom met oop arms te ontvang en te seën.

Jou Vader wag ook vir jou.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS