Loof Hom – Dag 21
Verering
Bybelteks(te)
ROMEINE 13
Die mens is baie kreatief om aan maniere te dink om mense te vereer en geen kostes om dit te doen, word ontsien nie. Toesprake, standbeelde, hoekstene gegraveer met belangrike mense se name, strate wat vernoem is na bekendes en selfs die Nobelprys vir vrede … dit is maar enkele maniere hoe mense vereer kan word.
En tog worstel ons om die onvergelykbare Presteerder, Vredemaker en Gewer – die enigste God – te vereer op ʼn maklik uitvoerbare, eenvoudige en ekonomiese manier wat in die Woord uiteengesit word. Spreuke 3:9-10 leer ons: “Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit (jou goed) en met die beste uit jou oes (die eerstelinge van jou oes)”.
Kain en Abel het offergawes aan God gebring, en tiendes kom ter sprake ná Abram se oorwinning om Lot te bevry. Na die oorwinnning het Melgisedek, die koning van Salem en priester van God, vir Abram geseën en aan hom brood en wyn gegee. Abram was daarvan bewus dat hy hier met iemand te doen het wat veel groter is as hyself. Daarom het Abram aan hom ʼn tiende van al die besittings gegee wat hy deur sy oorwinning gekry het (Genesis 14:18-20). Hy het nie gegee omdat die een of ander wet dit vereis het nie, maar in nederige erkenning van “die koning van Salem, wat ʼn priester van God, die Allerhoogste” was (Genesis 14:18).
Abraham se geloof en sy respek vir God word ook die dryfkrag vir sy gewilligheid om sy belofte-kind aan Hom te offer (Genesis 22). ʼn Arm weduwee gee alles wat sy besit om aan God eer te bewys (Lukas 21:1-4), en ʼn skatryk tollenaar se lewe word só onherroeplik verander deur sy ontmoeting met Jesus, dat hy uit dankbaarheid alles weggee en teruggee aan diegene wat hy verontreg het (Lukas 19:1-10).
Ons het ook nodig om God te vereer vir wie Hy is. Hy is die God van lig, die God van liefde, die Gewer van goeie gawes, ons Voorsiener. Ons verering moet ʼn uitvloeisel wees van ons dankbaarheid dat Hy betrokke is in ons lewens. As ons nie weet hoe om dit te doen nie, leer Deuteronomium 26:10-11 ons: Eerstens, “Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, Here, my gegee het”; tweedens, “Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die Here jou God”; en derdens, “en jou neerbuig voor die aangesig van die Here jou God.” En dan word die gesindheid waarmee ons dit moet doen, uitgespel: “En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het.”