Bible Society of South Africa

Lewenskrag – Dag 13

- Standvastigheid en bemoediging
- Die liefde
- Die oorwinning

Bybelteks(te)

4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.

ROMEINE 15:4-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die liefde

1Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense en engele,

maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe van profesie

en ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis,

en al het ek al die geloof om berge te versit,

maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3Al deel ek al wat ek het aan ander uit,

en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,

maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

4Die liefde is geduldig,

die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.

5Dit handel nie onwelvoeglik nie,

soek nie sy eie belang nie,

is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.

6Dit verbly hom nie oor onreg nie,

maar verheug hom oor die waarheid.

7Dit bedek alles,

glo alles,

hoop alles,

verdra alles.

8Die liefde vergaan nooit nie,

maar die gawe

van profesie sal verdwyn,

die gawe

om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,

en dié van kennis sal uitgedien raak.

9Want ons ken maar gedeeltelik,

en ons profeteer maar gedeeltelik,

10maar wanneer die volledige kom,

sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.

11Toe ek 'n kind was,

het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind.

Maar noudat ek 'n man is,

is ek klaar met die dinge van 'n kind.

12Nou kyk ons nog

in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,

maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.

Nou ken ek net gedeeltelik,

maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

13En nou:

geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.

En die grootste hiervan is

die liefde!

1 KORINTIËRS 13:1-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

54En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

55“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

56Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. 57Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

58Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

1 KORINTIËRS 15:54-58AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS