Bible Society of South Africa
Neville Turley

Jesus, ons Messias – Dag 1

ʼn Tyd van blydskap

Bybelteks(te)

GENESIS 3

15Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou,

tussen jou nageslag en haar nageslag.

Haar nageslag sal jou kop vermorsel

en jy sal hom in die hakskeen byt.”

GENESIS 3:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 7

14Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (Lukas 2:11)

Oor die feesseisoen skarrel mense in die winkels rond om alles te koop wat hulle benodig. Baie van ons sal gasheer wees vir geliefdes wat kom kuier om saam fees te vier, terwyl baie weer hul jaarlikse vakansie weg van die huis gaan geniet. Baie mense gaan ook weens faktore buite hulle beheer hierdie Kersfees alleen deurbring. Dink spesiaal aan hulle in jou gebede.

Wat ook al ons omstandighede, dit is ʼn tyd van blydskap en welwillendheid. Christene regoor die wêreld herdenk in hierdie dae die geboorte van Christus die Here – en die geboorte van ʼn kind is altyd ʼn kosbare tyd van blydskap.

Die geboorte van Jesus was ʼn langverwagte gebeurtenis. Hy was die Messias wat in die vorm van ʼn mens na die aarde gekom het om die koninkryk van die hemel onder die kinders van God te vestig.

Adam en Eva was, terwyl God hulle vir hulle ongehoorsaamheid aan Hom gestraf het, eerste om sy belofte te hoor van ʼn reddingsboei wat Hy aan die mensdom sou stuur. In die bestraffing van die slang wat hulle verlei het, het God die slang se lot bepaal: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15)

Wie was die nageslag van die vrou wat na die aarde sou kom? Selfs al moes hy deur die toedoen van die duiwel en sy trawante ly, sou hy die kop van die slang vermorsel en as oorwinnaar uit die stryd tree.

Die profeet Jesaja vertel ons meer oor die identiteit van die nageslag van die vrou: “Die Here sal daarom self vir julle ʼn teken gee: ʼn Jong vrou sal swanger word en ʼn seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” (Jesaja 7:14)

Die besef dat Maria se Seun, Jesus Christus, die Messias is, is die rede hoekom Christene Kersfees vier. Hy het die duiwel op Golgota oorwin en stel ons in staat om ons verhouding met God reg te stel. Baie mense weet van Jesus, maar aanvaar Hom nie as die Messias nie. Dit is egter eers wanneer hulle dit doen, dat hulle die ware betekenis en vreugde van Kersfees sal ervaar. Mag die Here gee dat dit vir baie mense vinnig waar sal word.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS