Is jy dankbaar? – Dag 4
Byvoorbaat dank ...
Bybelteks(te)
FILIPPENSE 4
2 KRONIEKE 20
Byvoorbaat dank. Dít is die woorde wat ons aan die einde van ʼn formele brief of e-pos gebruik nadat ons ʼn versoek gerig het in die hoop dat die ontvanger dit gunstig sal hanteer. Ons sê dus dankie nog voordat ons die antwoord op hierdie versoek ontvang het.
In Filippense 4:6-7 sê Paulus dat ons hierdie beginsel ook in ons geloofslewe moet toepas: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
In 2 Kronieke 20 sien ons hoe koning Josafat hierdie beginsel prakties toepas in ʼn uitdagende tyd in die geskiedenis. Drie weermagte – die Moabiete, Ammoniete en Meüniete – span saam om ʼn oormag teen Juda te vorm. Toe hy tot die besef kom dat hulle Juda totaal kan uitwis, het Josafat bang geword. Hy het ʼn vasdag vir die hele volk uitgeroep waartydens hulle voor God gaan staan het. In 2 Kronieke 20:12 bid hy: “Ons God … ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, te weerstaan nie. Ons weet nie wat om te doen nie. Ons oë is op U gerig.”
Die Gees van die Here het hierna ʼn boodskap aan hulle gestuur deur een van die mans in die byeenkoms, en hy het gesê: “So sê die Here: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ʼn saak vir julle nie, maar vir God … Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle.” Josafat en die volk het hierna voor God gekniel en Hom gedank – ʼn “byvoorbaat dank-oomblik”.
Die volgende oggend het Josafat se weermag begin optrek. Nie met die sterkste krygers aan die voorpunt nie, maar met die lofsangers terwyl hulle uit volle bors sing: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Nog ʼn “byvoorbaat dank-oomblik”.
Die uiteinde? Toe die Judeërs by die uitkykpos kom en na die magtige vyand soek, het daar net lyke op die grond gelê. Die Here het onverwagte aanvalle bewerk. Die volke het die een nederlaag na die ander gely en daar was geen oorlewendes nie.
Wat is tans jou behoefte of uitdaging? Benodig jy ʼn finansiële deurbraak, ʼn werksgeleentheid, ʼn huweliksmaat, ʼn baba, genesing van ʼn siekte of staan daar dalk ook in jou lewe ʼn reus in jou pad wat voel of hy jou gaan uitwis? Het jy al jou begeertes met gebed en smeking voor God uitgestort? Het jy hom al gedank – byvoorbaat gedank? Stap nou met lofprysing die stryd tegemoet met die wete dat God namens jou sal veg. Neem jou posisie in, staan dankbaar en wag op sy deurbraak. Sterkte.