Is jy dankbaar? – Dag 20
Dankbaar dat ons leef
Bybelteks(te)
EFESIËRS 5
1 TESSALONISENSE 5
PSALMS 118
Ek wil die dankbaarheidsreeks afsluit deur jou van ’n klein held te vertel. Ten spyte van al die geweldige pyn en trauma wat hy al in sy lewe ervaar het, bly hy vol lewenslus en leef hy daagliks dankbaar. Sy naam is Ulrich van Pletzen.
In 2009 het Ulrich, wat in daardie stadium vier en ʼn half jaar oud was, saam met sy ouers op Nuwejaarsdag in Struisbaai aangekom. Sy ouers was besig om af te pak terwyl hy en sy broer met hulle fietse rondry. Skielik het ʼn vreemde hond uit die niet verskyn en Ulrich in die gesig gebyt. In ʼn oogwink is sy pragtige, onskuldige seunsgesiggie vermink.
By die hospitaal het trane oor beide die teatersuster en die narkotiseur se wange gestroom waar hulle Ulrich regop moes hou om hom in die teater te verdoof. Hulle was bang dat hy aan die baie bloed op sy gesig sou verstik. Die hond se bytplek het veroorsaak dat die middel van Ulrich se gesig geamputeer moes word. Ulrich het reeds verskeie operasies ondergaan en ʼn lang herstelpad lê steeds voor. Tog bly hy ʼn bondel vreugde wat aan verskeie sportsoorte deelneem en selfs provinsiale klere in gimnastiek verwerf het.
Ulrich se woorde aan die einde van ʼn videogreep wat sy storie vertel, het my diep geraak. Hy sê: “Ek wil net baie dankie sê aan almal wat my ondersteun en liefhet. Ook wil ek vir Jesus dankie sê dat Hy my gehelp het dat ek nie doodgegaan het nie. Ek weet Hy het nog ʼn groot plan met my lewe.” Leef jy, soos Ulrich, dankbaar vir elke dag wat tot jou lewe toegevoeg word ten spyte van die pyn, teleurstelling en hartseer wat ons soms ervaar?
Ek wil jou weereens aan die woorde in Efesiërs 5:20 herinner: “Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.” Ook in 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” En in Psalm 118:24 staan geskryf: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”
ʼn Dankbare hart hou ons oë op God. Dit herinner ons aan wat Hy kan doen en stel ons in staat om sy liefde en krag in ons situasies te ervaar. Mag ons nooit ophou om dankbaar te leef nie. God ken immers ons toekoms en dankbaarheid is die sleutel tot ʼn gelukkige lewe. Sterkte.