Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 2

Die grootste vyand vir dankbaarheid?

Bybelteks(te)

1 PETRUS 5

Weerstaan die duiwel, God sal die krag gee

8Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

1 PETRUS 5:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 12

2Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

ROMEINE 12:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al twee boksers in ʼn kryt dopgehou tydens ʼn boksgeveg? Hulle dans om mekaar en sodra een ʼn goeie vuishou inkry, steier die opponent terug in ʼn poging om sy balans te behou. In ons gedagtewêreld is daar ook daagliks ʼn boksgeveg aan die gang. Een bokser se naam is Dankbaarheid, die ander Onvergenoegdheid.

Onvergenoegdheid kry die oorhand sodra ons in die strik trap om onsself met ander te vergelyk en ontevrede te voel met wat ons het. Só begin ons ʼn groter huis, ʼn spoggeriger motor, ʼn meer romantiese man, ʼn maerder postuur, ʼn mooier vrou of ʼn beter werksgeleentheid begeer. Hoewel daar niks daarmee verkeerd is om gesonde doelwitte te stel vir dinge wat jy graag wil bekom nie, bly die vraag: Is jy tevrede met wat jy tans het en waar jy in jou lewe is? Indien nie, is die kanse goed dat jy ook nie gaan wees wanneer jy wel daardie dinge bekom wat jy graag wil hê nie.

Dankbaarheid, aan die ander kant, kry ʼn vuishou in wanneer ons doelbewus dankbaar is vir wat en wie ons wel in ons lewens het – en ook vir God dankie sê daarvoor.

In 1 Petrus 5:8 lees ons: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Die vyand doen dit deur gedagtes in ons te plaas om onsself met ander te vergelyk – hy weet dat ons ontevrede begin raak wanneer ons voel ons steek sleg af by ander. Juis daarom lees ons in Romeine 12:2: “Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Een van die beste maniere vir Dankbaarheid om terug te veg wanneer Onvergenoegdheid ʼn vuishou ingekry het, is om bewus te wees van wat in jou gedagtes aan die gang is. Sodra jy agterkom dat jy besig is om jouself met ander te vergelyk, kan jy die gedagtes stopsit en doelbewus dink aan iets in daardie konteks waarvoor jy wel dankbaar kan wees. Byvoorbeeld, jou vriendin vertel jou van ʼn romantiese uitstappie waarop haar man haar geneem het. Jy hou ook van uitstappies, maar jou man is nie romanties nie. In plaas daarvan om hom te verwyt kan jy jouself daaraan herinner dat hy ten minste lojaal is aan jou en jou met die kinders help. Of jy hou dalk niks van jou huidige werk nie. Onthou egter dat daar heelwat werkloses is wat enigiets sou gee vir ʼn werksgeleentheid – ook joune.

Wie loop tans voor op die telbord in jou gedagtewêreld – Dankbaarheid of Onvergenoegdheid? Kom ons herken die stryd en beveg dit sodat ons aan die einde kan verseker dat Dankbaarheid onder ʼn luide applous met hande in die lug sal staan omdat hy as die wenner uit die stryd tree! Sterkte.

Waarvoor is jy dankbaar? Drie lesers is dankbaar vir die volgende:

  • Talana Westvig: “In die laaste paar jaar het die Here my seun na Hom gelei. Hy het ook my man veilig na ons familie teruggebring en ons uit ʼn put van bankrotskap en skaamte gelig na ʼn plek van oorwinning. Ons is tans besig om ons eie huis te koop, ons het beide fantastiese werke en ons familie is weer bymekaar. Ek prys en dank God vir sy diepe genade en seëninge.”
  • Katrien van der Merwe: “Ek is dankbaar dat die Vader my van Februarie 2013 tot nou as instrument gebruik om die evangelie hier op die eiland Koh Phangang in Thailand te verkondig. Ek is dankbaar vir elke seëning uit sy hand.”
  • Henk du Plessis: “Dankie, Here, vir die wonderlike reën wat die reënseisoen geval het en die hartseer en swaar van die droogte kom afwas het. Ek bid vir elke droogteplek waar daar nog reën so nodig is dieselfde genade toe. Dankie vir my gesondheid, Here, dankie vir my gesin, huwelik, meisiekind en elke asemteug. Dankie dat ek aan U kan behoort!”

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS