Groei ’n Geestelike Tuin – Dag 9
Kweek Christenetiket en goeie maniere.
Bybelteks(te)
KOLOSSENSE 4
“Waar’s jou maniere?” is ʼn vraag wat ons graag vra wanneer mense na ons mening die reëls van etiket oortree of sommer net ongeskik is. Dit steek jou dwars in die krop as iemand voor jou indruk of lelik praat in die publiek. Maar wat van ons Christelike maniere? Ons kom dikwels te staan voor etiese kwessies wat op die oog af nie ʼn noemenswaardige impak op die samelewing het nie. Byvoorbeeld: kom ek my beloftes na? Vertel ek altyd die waarheid? Betaal ek my skuld? Gee ek my deel aan die kerk en ander hulpbehoewendes? Hoe behandel ek my bejaarde ouers? En tog spreek dit van ʼn sekere ingesteldheid teenoor die lewe.
As Christene behoort ons so ʼn besondere houding teenoor die lewe te weerspieël dat dit ons van die res van die gemeenskap onderskei. In ons gedagtes behoort ons pal Jesus se vraag aan sy dissipels “Wat maak jou anders as al die ander” te oordink. In ʼn samewelewing waar die enigste dankie waarvan jy seker kan wees van die goedgemanierde OTM kom, is die uitdaging soveel groter om “anders” te wees.
Die volgende verhaal vertel iets van hierdie anderswees. ʼn Vriendin wat onlangs op ʼn vlug van London na New York toe was, kom te lande langs ʼn vrou wat vreeslik hartseer is. Dit blyk toe dat haar man wat saam met haar op die vlug sou wees, skielik oorlede is. Die vriendin het dus die sitplek waar hy sou sit gekry. As ʼn toegewyde Christen begin die vriendin stilweg bid en vir God vra wat sy kan doen om die vrou te troos. “Vat haar hand!” kom die antwoord hard en duidelik! “Maar ek kan mos nie …” protesteer sy. “Here, is U seker dis wat ek moet doen?” vra sy weer. Weer kom die antwoord: “Vat haar hand!” Sy doen dit toe. En so sit sy en die dame vir die res van die vlug woordeloos terwyl die trane oor die vrou se wange rol. Aan die einde van die vlug sê die vrou vir haar: “Jy sal nooit weet wat dit vir my beteken het nie.”
Sulke dade is geestelike maniere wat uit die hart uit kom. Eeue gelede het Sint Fransiskus van Assisi iets hiervan begryp toe hy die hande en gesig van ʼn bedelaar gesoen het terwyl hy ʼn muntstuk in sy hand plaas.