Groei ’n Geestelike Tuin – Dag 12
Hemelse en ander tuine.
Bybelteks(te)
GENESIS 3
2 KORINTIËRS 2
Hier aan die einde van twee weke aan die begin van ʼn nuwe jaar, is dit dalk te gou om te vra watter vrugte of blomme jy al in jou tuintjie sien opkom. Nog niks? Moenie moed opgee nie. Dink terug aan daardie boontjiepit wat jy as kind in ʼn lagie watte vertroetel het of daardie avokadopeerpit in ʼn bottel vol water wat jy met ʼn arendsoog dopgehou het vir tekens van groei. Soms het jy geluk en soms moet jy erken jy het net te gou moed opgegee wanneer jy een oggend begroet word deur ʼn verdroogde saadjie of ʼn verlepte plantjie in ʼn fles. Maar as jy jou kom kry het jy maar weer probeer tot daardie plantjie uiteindelik in die agterplaas verplant kon word en kon groei en vrugte dra.
Dis hoe dit is met God se onhandige tuiniers hier op sy aardse akker. Soms vergeet ons om God se Tuingids te raadpleeg wanneer ons tuinmaak. Ons wil die blomme ruik maar vergeet van die harde werk wat nodig is om die tuin in stand te hou. Ons begin fluks maar soms laat ons na om nat te lei, onkruid uit te trek en kunsmis te gee. Partykeer verwar ons goeie plante met dorings en distels en soms lyk die onkruid vir ons al te mooi. Tog wandel God gereeld in ons deurmekaar tuin en vind tog plek-plek ʼn nederige vergeetmynietjie of skaamrosie, of selfs ʼn gesiggie wat hemelwaarts kyk saam met ʼn trotse roos wat smag na ʼn bietjie aandag. Dis dan wanneer God sy genade sprei oor ons trietsige tuintjie en alles nuut maak soos in die Tuin van ouds.