Gebed – Dag 8

Hoe moet ons dan bid?

Die Gebed van Christus of die “Onse Vader” soos dit in die volksmond bekend staan, is oorspronklik gebid in Aramees, ʼn taal wat aan Hebreeus verwant is en heel waarskynlik Jesus se moedertaal was. Sedert die tyd van Augustinus in die vierde eeu, is die gebed op ʼn didaktiese wyse gebruik om volgelinge van “Die Weg” te leer oor gebed.

Die manier waarop die gebed saamgestel is, is in sterk kontras met die wyse waarop die Jode hulle gebede gebid het. Hulle het naamlik op straat en in die sinagoges gestaan en bloot gebede afgerammel om deur ander gesien te word. In teenstelling daarmee bied Jesus aan ons hierdie gebed as ʼn private gesprek met ons hemelse Vader, wat ons daaraan herinner dat God ʼn God van relasies is en wat die mens se hart en sy diepste gedagtes ken. Hy herinner ons ook dat “ons Vader weet wat ons nodig het nog voor ons Hom gevra het” (6:8).

Die Ons Vader-gebed is tradisioneel opgedeel in die inleiding, “Ons Vader wat in die hemel is” gevolg deur sewe petisies. Die eerste drie word gerig aan God en gee iets te kenne van sy karakter (“laat u Naam geheilig word”) en oor die koninkryk (“laat u koninkryk kom”; “laat u wil geskied”). Hierin lê ʼn opdrag om ons aan God se saak toe te wy en om te bid dat sy koninkryk sal heers in die hemel en op aarde.