Gebed – Dag 5

ʼn Gebed uit die donkerste dieptes

Die gebed in Jona 2 is seker die eienaardigste gebed wat nog ooit gebid is, nie omdat dit ʼn modelgebed was nie, maar omdat dit uit die diepste dieptes van die see en uit die maag van ʼn reusevis gebid word. Dis soos om te bid uit die diepste, donkerste riool sonder uitkomkans.

Ons almal weet Jona was nie ʼn modelprofeet nie. Tog is sy gebed wat ons in hoofstuk 2 van die boek Jona lees, ʼn absolute modelgebed. Eerstens beskryf Jona hoe diep (letterlik!) sy nood is. Die ergste was egter sy gevoel van godverlatenheid (2:4). Daarmee saam erken hy dat hy deur sy eie toedoen in hierdie penarie beland het (2:8).

In sy nood wend Jona hom tot die Skrif en haal nie minder nie as 14 Psalms sowel as die woorde van verskeie profete aan (hy het seker geweet dis maak of breek in hierdie stadium)! Hierdie grepe uit die Skrif herinner ons egter opnuut dat God barmhartig en genadig is. God het rede gehad om sy koppige profeet in die steek te laat, maar Jona is vas oortuig in sy nood dat hy weer God se heilige tempel, die plek van herstel en vergifnis, sal aanskou.

Ons, soos arme Jona, bevind ons ook soms in duistere plekke sonder uitkomkans. Dit is dan die tyd om jou daaraan te herinner dat God getrou is al is ons ontrou. Hy hou sy oog voortdurend op ons, maak nie saak waar ons probeer wegkruip nie.