Bible Society of South Africa

Dag 98 – Die hemelse troon

Lees oor die troon van die hemel.

Bybelteks(te)

God sit op die troon

1Hierna het ek, Johannes, in die hemel 'n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van 'n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.”

2Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan 'n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 3Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar 'n reënboog met die glans van smarag. 4Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone. 5Daar het weerligstrale, dreunings en donderslae van die troon af gekom. Vlak voor die troon het sewe fakkels helder gebrand. Dit is die sewe Geeste van God. 6Voor die troon was dit soos 'n spieëlgladde see, helder soos kristal.

Naby, rondom die troon, was daar vier lewende wesens, vol oë van voor en van agter. 7Die eerste lewende wese het soos 'n leeu gelyk en die tweede soos 'n bul; die derde het 'n gesig soos dié van 'n mens gehad en die vierde het gelyk soos 'n arend wat vlieg. 8Elkeen van die vier lewende wesens het ses vlerke gehad, wat aan die bokant en aan die onderkant vol oë was. Hulle het dag en nag sonder om te rus, gesê:

“Heilig, heilig, heilig

is die Here God, die Almagtige,

Hy wat was en wat is en wat kom.”

9Elke keer wanneer die lewende wesens heerlikheid, eer en dank toebring aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, 10kniel die vier en twintig ouderlinge voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hulle sit dan hulle krone voor die troon neer en sê:

11“Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het;

deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep.”

Die Lam is waardig om die boek oop te maak

1In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek 'n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. 2Toe het ek 'n sterk engel gesien wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?”

3Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 4Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 5Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”

6Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, 'n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. 7Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.

8Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. 9Toe sing hulle 'n nuwe lied:

“U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

10U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.”

11Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge 'n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12uitroep:

“Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”

13Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê:

“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”

14Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.

Die eerste vier seëls word oopgemaak

1Ek het gesien toe die Lam die eerste van die sewe seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die knal van 'n donderslag: “Gaan uit!”

2Ek het gesien: daar was 'n wit perd. Sy ruiter het 'n pyl en boog gehad. 'n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin.

3Toe Hy die tweede seël oopmaak, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”

4Daar het 'n ander perd, 'n vuurrooie, uitgegaan. Aan sy ruiter is opdrag gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat die mense mekaar sal uitmoor. 'n Groot swaard is aan hom gegee.

5Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”

Ek het gesien: daar was 'n swart perd. Sy ruiter het 'n skaal in sy hand gehad. 6Toe het ek iets soos 'n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir 'n dagloon en net drie skeppies gars vir 'n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.”

7Toe Hy die vierde seël oopmaak, het ek die stem van die vierde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”

8Ek het gesien: daar was 'n vaal perd. Sy ruiter se naam was Die Dood, en die doderyk het agter hom aan gegaan. Aan hulle is mag oor 'n kwart van die aarde gegee om die mense dood te maak met die swaard en met hongersnood en met pes en deur die wilde diere van die aarde.

Die vyfde seël word oopgemaak

9Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”

11Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog 'n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.

Die sesde seël word oopgemaak

12Ek het gesien toe die Lam die sesde seël oopmaak: daar het 'n groot aardbewing gekom. Die son het swart geword soos rouklere, en die maan het heeltemal soos bloed geword. 13Die sterre aan die hemel het op die aarde geval soos die navye van 'n vyeboom afval as dit deur 'n sterk wind geruk word. 14Die hemel self het verdwyn soos 'n boekrol wat opgerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke geskud. 15Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. 16Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. 17Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”

Die honderd vier en veertig duisend

1Daarna het ek vier engele by die vier hoeke van die aarde sien staan. Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind op die land en op die see en teen enige boom sou waai nie.

2Ek het ook 'n ander engel van die ooste af sien kom met die seël van die lewende God. Hy het met 'n harde stem geroep na die vier engele aan wie mag gegee is om die land en die see te tref, 3en het vir hulle gesê: “Moenie die land en die see en die bome tref nie. Ons moet eers die dienaars van ons God op hulle voorkoppe merk met die seël.”

4Ek het die getal gehoor van dié wat gemerk is: daar was honderd vier en veertig duisend. Hulle was uit elke stam van die volk Israel:

    5uit die stam van Juda is daar twaalf duisend gemerk,
    uit die stam Ruben twaalf duisend,
    uit die stam Gad twaalf duisend,
    6uit die stam Aser twaalf duisend,
    uit die stam Naftali twaalf duisend,
    uit die stam Manasse twaalf duisend,
    7uit die stam Simeon twaalf duisend,
    uit die stam Levi twaalf duisend,
    uit die stam Issaskar twaalf duisend,
    8uit die stam Sebulon twaalf duisend,
    uit die stam Josef twaalf duisend, en
    uit die stam Benjamin is daar twaalf duisend gemerk.

'n Groot menigte

9Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”

11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê:

“Amen! Die lof en die heerlikheid,

die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God

tot in alle ewigheid. Amen!”

13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”

14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”

Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en 'n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

DIE OPENBARING 4:1-7:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS