Bible Society of South Africa

Dag 95 – Wees lief vir mekaar

Lees oor hoe belangrik dit is om mekaar lief te hê.

Bybelteks(te)

Liefde vir mekaar

11Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. 12Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s'n reg.

13Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. 14Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. 15Elkeen wat sy broer haat, is 'n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. 16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?

'n Goeie gewete voor God

18Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid. 19Hierdeur kan ons ook te wete kom dat ons aan die ware God behoort en kan ons ons gewete voor Hom tot rus bring. 20As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.

21Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; 22en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy goedvind. 23En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het. 24Wie sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee.

Die vals profete

1Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is. 2Hiéraan ken julle die Gees van God: elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. 3En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is.

4Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is. 5Hulle behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. 6Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei.

God is liefde

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy 'n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

1 JOHANNES 3:11-4:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS