Bible Society of South Africa

Dag 90 – Die wederkoms van die Here

Lees oor die wederkoms van die Here.

Bybelteks(te)

Die opstanding uit die dood

13Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. 14Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

15Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. 16Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

18Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Die wederkoms van die Here

1Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. 3Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos 'n dief oorval nie. 5Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7Dié wat slaap, is van die nag; en dié wat hulle dronk drink, is van die nag. 8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

1 TESSALONISENSE 4:13-5:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS