Bible Society of South Africa

Dag 79 – Verdere sendingreise

Lees oor die ander sendingreise.

Bybelteks(te)

Timoteus sluit by Paulus aan

1Paulus het in Derbe gekom en daarna in Listra. Dáár was 'n gelowige met die naam Timoteus. Sy ma, ook 'n gelowige, was 'n Joodse vrou en sy pa 'n Griek. 2Die gelowiges in Listra en Ikonium het net goed van hom gepraat. 3Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem, het hy hom besny. Dit het hy gedoen ter wille van die Jode wat in daardie gebied gewoon het, want hulle het almal geweet sy pa is 'n Griek.

4Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hulle beveel om daarvolgens te handel. 5So is die gemeentes in die geloof versterk, en die getal gelowiges het by die dag groter geword.

Die gesig in Troas

6Hulle het daarna deur die gebied van Frigië en Galasië gereis, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om die woord in die provinsie Asië te verkondig. 7Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie. 8Hulle het toe deur Misië gereis en na Troas toe gegaan. 9Daar het Paulus in die nag in 'n gesig 'n Masedoniese man gesien wat by hom staan en hom smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10Nadat Paulus die gesig gesien het, het ons so gou as moontlik gereed gemaak en na Masedonië toe vertrek, omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig.

Lidia se bekering

11Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na Samotrake en die volgende dag na Neapolis toe. 12Daarvandaan is ons na Filippi toe, 'n belangrike stad in daardie deel van Masedonië en ook 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae gebly.

13Op die sabbatdag is ons na die rivier toe buitekant die stadspoort, omdat ons gedink het daar sou 'n Joodse bidplek wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was. 14Een van dié wat geluister het, was 'n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. 15Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”

En sy het ons oorreed om dit te doen.

In die tronk in Filippi

16Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons 'n slavin teëgekom in wie daar 'n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 17Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

18Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!”

Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.

19Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep. 20Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. 21Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie.”

22Die skare het ook teen hulle gekant geraak. Die stadsbestuur het toe hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle lyfstraf moet kry. 23Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. 24Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.

25Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar 'n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak. 27Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”

29Toe het die bewaarder 'n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”

31Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. 33Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. 34Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle 'n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.

35Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”

36Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”

37Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”

38Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers. 39Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.

40Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.

Die oproer in Tessalonika

1Paulus-hulle het deur Amfipolis en Apollonië na Tessalonika toe gereis, waar daar 'n Joodse sinagoge was. 2Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. 3Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus.”

4Party van die Jode het oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. 'n Groot aantal godvresende Grieke en 'n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.

5Maar die Jode was hieroor afgunstig en het met die hulp van 'n klomp nikswerd leeglêers 'n betoging op tou gesit wat die stad in oproer gebring het. Hulle het na Jason se huis toe opgeruk en wou vir Paulus en Silas hê om hulle voor die volk te bring. 6Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en 'n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: “Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad, 7en Jason het vir hulle huisvesting gegee. Hulle handel almal in stryd met die keiser se wette en sê dat daar 'n ander koning is, Jesus!”

8Die mense en die stadsbestuur was ontsteld toe hulle dit hoor, 9maar nadat hulle van Jason en die ander gelowiges die nodige waarborg gekry het, is hulle losgelaat.

Paulus en Silas in Berea

10Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan.

11Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. 12Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.

13Toe die Jode in Tessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die mense opgesweep. 14Die gelowiges het dadelik vir Paulus na die kus toe laat wegbring, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. 15Die mense wat vir Paulus begelei het, het hom tot by Atene gebring en toe teruggegaan met die opdrag van Paulus aan Silas en Timoteus om so gou as moontlik na hom toe te kom.

Paulus in Atene

16Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. 17Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 18'n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy 'n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.

19Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? 20Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.”

21Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. 22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god.’

“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ 29Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.

30“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, 31want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”

33So het Paulus van hulle af weggegaan. 34'n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

Paulus in Korinte

1Hierna het Paulus Atene verlaat en na Korinte toe gegaan. 2Daar het hy vir Akwila, 'n Jood wat in Pontus gebore is, ontmoet. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom, nadat keiser Claudius beveel het dat al die Jode Rome moet verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek, 3en omdat hulle net soos hy tentmakers van beroep was, het hy by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. 4Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig.

5Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af gekom het, het Paulus al sy tyd bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Christus is. 6Maar toe hulle hulle aanhou verset en hom beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie. Van nou af gaan werk ek onder mense wat nie Jode is nie.”

7Toe het hy die sinagoge verlaat en na die huis toe gegaan van 'n godvresende man met die naam Titius Justus. Sy huis was net langs die sinagoge. 8Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin het tot geloof in die Here gekom. Ook baie ander mense in Korinte wat die boodskap gehoor het, het gelowig geword en is gedoop.

9Een nag het die Here in 'n gesig vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, 10want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

11Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en die mense onderrig in die woord van God.

12Nadat Gallio goewerneur van Agaje geword het, het die Jode egter soos een man teen Paulus in opstand gekom en hom voor die hof gebring. 13“Hierdie man,” het hulle gesê, “probeer die mense oorhaal om God op 'n manier te vereer wat in stryd is met ons wet.”

14Paulus wou praat, maar toe sê Gallio vir die Jode: “As dit oor 'n onreg of 'n ernstige misdaad gegaan het, was dit my plig om geduldig na julle Jode te luister. 15Maar aangesien dit 'n geredekawel is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle self daaroor beslis. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16Daarna het hy hulle uit die hof uitgejaag. 17Hulle het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter niks daaraan gesteur nie.

Paulus kom terug na Antiogië toe

18Nadat Paulus nog 'n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het, het hy van hulle afskeid geneem en saam met Priscilla en Akwila na Sirië toe vertrek. Voordat hy in Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy hare laat afsny, omdat 'n gelofte wat hy afgelê het, vervul was.

19By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote verlaat en in die sinagoge ingegaan, waar hy met die Jode geredeneer het. 20Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. 21Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: “As God wil, kom ek na julle toe terug.”

Hy het van Efese af weggegaan 22en in Sesarea aangekom. Daarvandaan het hy Jerusalem toe gegaan en die gemeente gegroet, en toe na Antiogië toe vertrek, 23waar hy 'n tyd lank gebly het.

Derde sendingreis

Daarna het hy weer vertrek en deur die landstreek van Galasië en Frigië gereis. Oral het hy die gelowiges geestelik versterk.

Apollos preek in Efese

24Intussen het daar 'n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was 'n begaafde spreker met 'n deeglike kennis van die Skrif. 25Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes. 26Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak.

27Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom 'n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, 28want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.

Paulus in Efese

1Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy 'n groepie gelowiges gekry 2vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”

“Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord.

3“Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe.

“Die doop van Johannes,” antwoord hulle.

4Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.”

5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. 7Hulle was altesaam omtrent twaalf.

8Paulus het drie maande lank met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. 9Maar party was koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook in die openbaar die leer van die Here belaglik probeer maak. Toe het Paulus hulle verlaat en die gelowiges afsonderlik geneem en daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou. 10Dit het twee jaar lank so aangehou, sodat al die inwoners van die provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het.

Die seuns van Skeva

11God het deur Paulus wonderbaarlike dinge gedoen. 12Selfs doeke of voorskote wat aan sy lyf geraak het, is op siekes gesit en dan het hulle siektes verdwyn; en die bose geeste het uit hulle uitgegaan.

13Party Jode wat rondgegaan het om bose geeste te besweer, het dit ook gewaag om die Naam van die Here Jesus daarvoor te gebruik. Hulle het gesê: “Ek besweer julle in die Naam van dié Jesus wat deur Paulus verkondig word.” 14Dit was die sewe seuns van 'n Joodse priesterhoof, Skeva, wat dit gedoen het.

15Maar een van die bose geeste het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?”

16Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het.

17Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys. 18Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak. 19Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was.

20So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.

Die oproer in Efese

21Na hierdie gebeurtenisse het Paulus besluit om deur Masedonië en Agaje te reis en na Jerusalem toe te gaan. “Nadat ek daar was,” het hy gesê, “moet ek Rome ook besoek.”

22Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, vooruit gestuur Masedonië toe, maar self nog 'n tyd lank in die provinsie Asië agtergebly.

23Juis toe het daar 'n groot opskudding ontstaan oor die leer van die Here. 24'n Silwersmid met die naam Demetrius het silwerbeelde van die tempel van Artemis gemaak en vir die vakmanne 'n goeie verdienste verskaf. 25Hy roep hulle en ander mense wat soortgelyke werk doen, toe bymekaar en sê vir hulle: “Mense, julle weet dat ons voorspoed van hierdie werk afhang. 26Julle sien en hoor self dat hierdie Paulus daarin geslaag het om nie net in Efese vir hom 'n groot aanhang te kry nie, maar ook in byna die hele provinsie Asië. Hy sê dat goed wat met die hand gemaak word, nie gode is nie. 27Ons bedryf staan in gevaar om 'n slegte naam te kry. En nie net dit nie. Die gevaar is ook dat die tempel van die groot godin Artemis sy betekenis sal verloor en dat sy van haar grootheid berowe sal word, hierdie godin wat in die hele provinsie Asië en oor die hele wêreld vereer word.”

28By die aanhoor hiervan het hulle woedend geword en geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29Die oproer het oor die hele stad uitgebrei. Soos een man het die mense na die amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargos, twee Masedoniërs wat saam met Paulus gereis het, gegryp en saamgesleep.

30Paulus wou self met die skare gaan praat, maar die gelowiges wou hom dit nie toelaat nie. 31Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat goedgesind was teenoor Paulus, vir hom 'n boodskap gestuur om hom te waarsku om nie na die amfiteater toe te gaan nie.

32Almal het deurmekaar geskreeu, en die hele vergadering was in die war. Die meeste mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie. 33Toe die Jode vir Aleksander vorentoe stoot, het party van die mense vir hom gesê wat aan die gang is. Hy het met sy hand gewys dat hy iets vir die volk wil sê. 34Maar toe hulle merk dat hy 'n Jood is, het hulle almal byna twee uur lank uit een mond aangehou skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35Uiteindelik het die stadsklerk daarin geslaag om die skare tot bedaring te bring. “Efesiërs,” het hy gesê, “watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die tempel van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie? 36Niemand kan dit betwis nie. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie. 37Julle het hierdie mans hierheen gebring alhoewel hulle nie die tempel berowe of ons godin belaster het nie. 38Die hofsittings word gehou, en daar is regters. As Demetrius en sy vakmanne 'n klag teen iemand het, laat hulle mekaar daar gaan aankla. 39En as julle verder wil gaan, moet die saak op 'n wettige volksvergadering behandel word, 40want ons loop gevaar om van opstand aangekla te word oor die dinge wat vandag hier gebeur het. Daar is geen rede vir hierdie oploop nie, en ons sal dit nie kan verantwoord nie.”

Deur dit te sê, het hy die byeenkoms uitmekaar laat gaan.

Paulus gaan na Masedonië en Griekeland toe

1Nadat die oproer bedaar het, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek. 2Op sy reis deur daardie gebiede het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig.

Hy kom toe in Griekeland aan, 3waar hy drie maande gebly het. Toe hy op vertrek gestaan het Sirië toe, het hy van 'n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om deur Masedonië terug te gaan.

4Pirrus se seun Sopater van Berea het saam met Paulus gereis, en ook Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië. 5Hulle het vooruitgegaan en in Troas vir ons gewag. 6Na die fees van die ongesuurde brood het ons van Filippi af met 'n skip vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons sewe dae gebly.

Paulus in Troas

7Ons het die Sondag bymekaargekom vir die gemeenskaplike maaltyd. Paulus het die gelowiges toegespreek, en aangesien hy die volgende dag sou vertrek, het hy tot middernag aangehou. 8Daar was heelwat lampe in die bovertrek waar ons bymekaar was.

9'n Jongman met die naam Eutigus het op die vensterbank gesit. Hoe langer Paulus gepraat het, hoe vaker het Eutigus geword. Hy het naderhand vas aan die slaap geraak en uit die derde verdieping tot op die grond geval. Toe hulle hom optel, was hy dood.

10Paulus het ondertoe gegaan, hom oor Eutigus uitgestrek en hom teen hom vasgedruk en gesê: “Moet julle nie ontstel nie. Hy lewe!”

11Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog lank met hulle gepraat, tot dagbreek, en daarna vertrek. 12Die mense het toe die seun lewend weggebring huis toe.

Hulle was buitengewoon bemoedig deur alles.

Die reis van Troas na Milete

13Ons het vooruit per skip na Assus toe vertrek, waar ons vir Paulus aan boord sou neem. Dit was sy opdrag, omdat hy self oor land daarheen wou gaan. 14Toe hy ons in Assus kry, het ons hom aan boord geneem en na Mitilene toe gevaar. 15Daarvandaan het ons die volgende dag verder gevaar en tot regoor Chios gekom. Die dag daarna het ons Samos bereik en nog 'n dag later Milete.

16Paulus het besluit om by Efese verby te vaar, sodat hy nie tyd in die provinsie Asië sou verloor nie, want hy was haastig om, as dit kon, op pinksterdag in Jerusalem te wees.

Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe

17Van Milete af het Paulus 'n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te laat roep. 18Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet hoe ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het, onder julle geleef het; 19hoe ek die Here in alle nederigheid gedien het te midde van droefheid weens die vervolginge wat ek deur die komplotte van die Jode moes verduur. 20Julle weet dat ek niks teruggehou het wat vir julle voordelig kon wees nie, toe ek by julle in die openbaar gepreek en julle in julle huise onderrig het. 21Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo.

22“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie. 23Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. 24Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.

25“Ek het onder julle almal rondgegaan en die koninkryk van God verkondig, maar nou weet ek dat julle my nie weer sal sien nie. 26Daarom verklaar ek vandag dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie, 27want ek het nie nagelaat om die heilsplan van God in sy volle omvang aan julle te verkondig nie. 28Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters 'n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. 29Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. 30Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei. 31Wees waaksaam. Onthou dat ek elkeen van julle drie jaar lank onderrig het, aanhoudend, dag en nag, baie keer met trane. 32Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy genade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het.

33“Ek het niemand se geld of klere begeer nie. 34Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. 35Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang.”

36Nadat Paulus dit gesê het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid. 37Almal het baie gehuil en hom omhels en gesoen. 38Hulle was veral hartseer omdat hy gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie.

Daarna is hulle saam met hom na die skip toe.

HANDELINGE 16:1-20:38AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS