Bible Society of South Africa

Dag 77 – Die eerste sendingreis

Lees oor die eerste sendingreis.

Bybelteks(te)

Eerste sendingreis: Barnabas en Saulus word uitgestuur

1Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus. 2Toe hulle op 'n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

3Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.

Barnabas en Saulus preek op Siprus

4So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees uitgestuur. Hulle het na Seleukië toe gegaan en daarvandaan na Siprus toe oorgevaar 5en in Salamis aangekom. Daar het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes by hulle gehad om hulle te help.

6Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle 'n Joodse towenaar met die naam Barjesus teëgekom het, wat voorgegee het dat hy 'n profeet is. 7Hy was by die goewerneur, Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die goewerneur het vir Barnabas en Saulus laat roep, want hy wou graag die woord van God hoor. 8Die towenaar, Elimas, soos hy in Grieks genoem is, het hulle egter teëgestaan omdat hy wou verhoed dat die goewerneur in Jesus glo. 9Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk 10en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! 11Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son 'n tyd lank nie sien nie.”

Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei. 12Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië

13Paulus en sy reisgenote het met 'n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom.

Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk 'n woord van bemoediging het, praat maar.”

16Paulus het opgestaan, met 'n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister! 17Die God van hierdie volk Israel het ons voorvaders uitgekies en hulle 'n groot volk gemaak toe hulle as vreemdelinge in Egipte gewoon het. Hy het hulle deur sy groot mag daarvandaan uitgelei 18en hulle in die woestyn ongeveer veertig jaar lank geduldig verdra. 19Daarna het Hy sewe nasies in die land Kanaän uitgewis en hulle land aan die Israeliete gegee. 20Dit alles het omtrent vier honderd en vyftig jaar lank geduur.

“Daarna het Hy rigters oor die land laat regeer tot die tyd van die profeet Samuel. 21Toe die Israeliete daarna 'n koning wou hê, het God vir Saul, seun van Kis uit die stam Benjamin, aan hulle gegee. Hy het veertig jaar lank geregeer. 22Nadat God hom van sy amp onthef het, het Hy Dawid as koning oor hulle aangestel. Van hom het God gesê: ‘Ek het in Dawid seun van Isai 'n man na my hart gevind. Hy sal al my opdragte uitvoer.’ 23Uit hierdie man se nageslag het God, volgens sy belofte, Jesus as Verlosser vir Israel laat voortkom. 24Voor Jesus se koms het Johannes die hele Israel opgeroep om hulle te bekeer en te laat doop. 25En toe hy aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is nie Hy nie. Maar kyk, Hy kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy skoene los te maak nie.’

26“Broers, nakomelinge van Abraham, en julle, godvresendes, aan ons het God hierdie boodskap van die verlossing gestuur. 27Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan. 28En alhoewel hulle geen grond vir die doodstraf kon kry nie, het hulle tog vir Pilatus gevra om Jesus om die lewe te bring. 29Nadat hulle aan Jesus alles gedoen het wat van Hom in die Skrif geskrywe staan, is Hy van die kruis afgehaal en begrawe. 30Maar God het Hom uit die dood opgewek. 31Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.

32“En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders 33vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan. So staan daar dan ook in die tweede psalm geskrywe:

“Jy is my Seun,

vandag het Ek aan jou die lewe gegee.

34“God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit vergaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê:

“Ek sal vir julle die heilige en betroubare beloftes

vervul wat Ek aan Dawid toegesê het.

35“Daarom sê God ook op 'n ander plek:

“U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

36“En volgens die besluit van God het Dawid tog gesterwe nadat hy die mense van sy tyd gedien het. Hy is by sy voorvaders begrawe, en sy liggaam het vergaan. 37Maar Jesus se liggaam het nie vergaan nie; God het Hom uit die dood opgewek.

38-39“Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie. 40Pas dan op dat wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie:

41“Kyk, julle verag God!

Julle sal verstom staan en te gronde gaan,

want in julle tyd doen Ek iets

wat julle beslis nie sal glo

as iemand dit vir julle vertel nie!

42Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. 43Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie, 47want so lui die Here se opdrag aan ons:

“Ek het U gegee as 'n lig vir die nasies,

sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.

48Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. 50Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. 52Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

Paulus en Barnabas in Ikonium

1In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het. 2Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits. 3Ten spyte hiervan het die apostels 'n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen. 4Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels. 5Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig. 6Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië. 7Daar het hulle toe die evangelie verkondig.

Paulus en Barnabas in Listra

8In Listra was daar 'n man met gebreklike voete. Hy was van sy geboorte af verlam en kon nooit loop nie. 9Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word. 10Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!”

Die man het opgespring en hy kon loop. 11Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!”

12Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was. 13Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring. 14Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu: 15“Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 16Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, 17maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.”

18Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.

19Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is. 20Daar het die gelowiges rondom hom kom staan, en hy het opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Paulus en Barnabas keer na Antiogië in Sirië terug

21Paulus en Barnabas het die evangelie ook in Derbe verkondig, en baie mense het daar gelowig geword.

Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië toe teruggegaan. 22Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om getrou te bly in die geloof. “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom,” het hulle gesê.

23In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

24Die apostels het verder deur Pisidië na Pamfilië toe gegaan. 25Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna na Attalië toe vertrek. 26Daarvandaan is hulle met 'n skip terug na Antiogië toe, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het. 27By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. 28Die apostels het 'n geruime tyd daar by die gelowiges deurgebring.

HANDELINGE 13:1-14:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS