Bible Society of South Africa

Dag 36 – Dawid en Batseba

Lees oor Dawid en Batseba.

Bybelteks(te)

Dawid pleeg owerspel en moord

1In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op 'n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou. 3Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: “Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet.”

4Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe.

5Die vrou het swanger geword en vir Dawid laat weet: “Ek is swanger.”

6Dawid het op sy beurt 'n boodskap na Joab toe gestuur: “Stuur vir Urija die Hetiet hiernatoe.”

Joab het hom na Dawid toe gestuur.

7Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog. 8Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus 'n bietjie.”

Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog 'n geskenk agter hom aangestuur. 9Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning. 10Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.”

Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”

11Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!”

12Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! Môre stuur ek jou terug.”

Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. 13Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.

14Die volgende oggend het Dawid 'n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. 15In dié brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija 'n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”

16Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op 'n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders.

17Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom. 18Joab het Dawid laat inlig oor die verloop van die geveg.

19Hy het die boodskapper beveel: “As jy vir die koning die verloop van die geveg klaar vertel het 20en net as hy begin kwaad word en jou vra: ‘Waarom het julle so naby die stad gaan veg? Het julle nie gedink aan die mense wat bo van die muur af skiet nie? 21Wie het vir Abimelek seun van Jerubbeset doodgemaak? Is dit nie 'n vrou wat 'n maalklip bo van die muur af op hom gegooi het, sodat hy in Tebes gesterf het nie? Waarom het julle so naby die muur gekom?’ dan moet jy sê: Ook u manskap Urija die Hetiet het gesneuwel.”

22Die boodskapper het vir Dawid alles gaan vertel wat Joab hom beveel het. 23Hy het vir Dawid gesê: “Die vyand het dapper teen ons geveg. Hulle het tot in die oop veld na ons toe uitgekom en toe ons hulle tot by die stadspoort terugdruk, 24het die boogskutters bo van die muur af u manskappe begin raakskiet. So het party van die koning se soldate gesneuwel, en ook Urija die Hetiet het so gesterf.”

25Dawid het die boodskapper beveel: “Sê vir Joab: ‘Jy moet jou dit nie te veel aantrek nie. Dit gebeur nou maar eenmaal so dat mense sneuwel. Veg dapper in jou stryd teen die stad en verwoes dit.’ En praat hom moed in.”

26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Natan kondig Dawid se straf aan

1Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos 'n eie dogter. 4Daar het 'n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5-6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, 'n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”

En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 14Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe.”

15Natan het huis toe gegaan, en die Here het die kind wat Urija se vrou vir Dawid in die wêreld gebring het, getref. Die kind het ernstig siek geword. 16Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê. 17Die hoofde van sy huishouding het hom probeer oorreed om van die grond af op te staan, maar hy wou nie. Hy het nie saam met hulle aan tafel verskyn nie. 18Op die sewende dag het die kind gesterwe, en Dawid se amptenare was bang om hom te vertel dat die kind dood is.

Hulle het gesê: “En nou? Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, en hy het nie na ons geluister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy sal 'n onbesonne ding aanvang.”

19Dawid het agtergekom dat sy amptenare onder mekaar fluister en hy het afgelei dat die kind dood is. “Is die kind dood?” het hy gevra. “Hy is dood,” was hulle antwoord.

20Toe het Dawid van die grond af opgestaan. Hy het gaan was, reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom toe gegaan om te aanbid. Hierna is hy huis toe en het hy kos gevra. Hulle het hom 'n ete voorgesit en hy het geëet.

21Sy amptenare vra hom toe: “Wat doen u nou? Toe die kind nog gelewe het, het u gevas en gehuil. Nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”

22Sy antwoord was: “Terwyl die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink: wie weet, dalk is die Here my genadig, en dan sal die kind lewe. 23Maar nou is hy dood. Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie.”

24Daarna het Dawid sy vrou Batseba getroos. Hy het by haar slaapkamer ingegaan en by haar geslaap. Sy het 'n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad 25en het hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”.

2 SAMUEL 11:1-12:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS