Bible Society of South Africa

Dag 33 – Dawid en Goliat

Lees oor Dawid en Goliat.

Bybelteks(te)

Samuel salf 'n ander koning

1Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak 'n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My 'n koning.”

2Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”

En die Here sê vir hom: “Neem 'n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring.’ 3Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.”

4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?”

5En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.”

Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. 6Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here.

7Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

8Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. 10Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.”

Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” 12Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms.

Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.”

13Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan.

Dawid speel vir Saul op die lier

14Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat deur die Here gestuur is, het hom voortdurend ontstel. 15Die amptenare van Saul het vir hom gesê: “U word ontstel deur 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is. 16Die koning moet maar net praat, dan soek ons iemand wat die lier kan speel. As die boosaardige gees u pla, kan die man speel, en u sal beter voel.”

17Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk maar vir my uit na 'n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.”

18Een van die amptenare antwoord hom: “Ek het 'n seun van Isai die Betlehemmer hoor speel. Hy is 'n dapper man en 'n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het 'n goeie voorkoms. Die Here is by hom.”

19Saul het boodskappers na Isai toe gestuur met die versoek: “Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.”

20Isai het toe brood, 'n sak wyn en 'n klein bokkie gevat en dit op 'n donkie met sy seun Dawid na Saul toe gestuur. 21So het Dawid dan by Saul gekom en vir hom gewerk. Saul het baie van Dawid gehou, sodat hy Saul se wapendraer geword het. 22Saul het ook na Isai toe gestuur en laat vra: “Laat Dawid tog vir my werk, ek hou van hom.”

23Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar, en die boosaardige gees het van hom af padgegee.

Goliat verkleineer Saul se leër

1Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. 2Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. 3Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle. 4Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. 5Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. 6Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard. 7Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

8Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. 9As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”

10Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”

11Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

12Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. 13Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. 14Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, 15maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.

16Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. 18Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring. 19Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”

20Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. 21Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. 22Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, 23en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor. 24Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

25'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan – die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?”

30Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

Dawid verslaan die Filistyn

31Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal.

32“'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”

33Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.”

34Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde, 35gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” 37Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”

Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”

38Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek, 39en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.

Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.”

En Dawid het dit uitgetrek. 40Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop. 41Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was. 42Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms.

43Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?”

Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. 44Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.”

45Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het. 47Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.”

48Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop. 49Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond. 50Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie!

51Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap.

Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug. 52Die manskappe van Israel en Juda het opgestaan, die aanvalskreet uitgeskreeu en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne op die pad van Saärajim af tot by Gat en Ekron gelê het. 53Daarna het die Israeliete teruggekom van die strawwe agtervolging van die Filistyne af en hulle kamp geplunder. 54Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent gaan sit.

55Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner die hoof van die leër gevra: “Abner, wie se kind is dié jong man tog?”

Abner het geantwoord: “So seker as u leef, U Majesteit, ek weet nie.”

56Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jong man is.”

57Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog in sy hand. 58Saul het vir hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?”

“Die kind van u onderdaan Isai, uit Betlehem,” het Dawid geantwoord.

Dawid bly by Saul

1Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. 2Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. 3Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. 4Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. 5Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind.

Saul wantrou vir Dawid

6Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. 7Die vroue het gedans en gesing:

“Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende!”

8Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!”

9Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou.

10Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. 11Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen.

Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. 12Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. 13Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree 14en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. 15Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. 16Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.

1 SAMUEL 16:1-18:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS