Bible Society of South Africa

Dag 31 – Samuel Luister na God

Lees hoe Samuel na God luister.

Bybelteks(te)

Elkana en sy vrouens

1Daar was 'n man uit Ramatajim, 'n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. 2Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s'n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.

3Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here.

4Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. 5Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

Hanna lê 'n gelofte af

9Op 'n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.

11Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”

12Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.

14Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”

15Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”

17Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.”

Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. 19Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Samuel

Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. 20By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het 'n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”

21Toe Elkana en sy hele gesin gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal, 22het Hanna nie saamgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly.”

23Haar man Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy dit goedvind. Bly totdat jy hom gespeen het. Mag die Here sy woord bevestig!”

Hanna het toe gebly en haar kind gevoed totdat sy hom gespeen het.

Samuel word na die tempel toe geneem

24Toe sy hom gespeen het, het sy hom saamgeneem, en ook 'n driejaaroud bul, sestien kilogram meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo. 25Elkana-hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring, 26en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar, Meneer, ék is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. 27Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. 28Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.”

Toe het hulle die Here daar aanbid.

1En Hanna het gebid:

“Ek jubel in die Here,

ek is sterk in die Here.

Ek lag my vyande uit,

ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het.

2Daar is geen heilige soos die Here nie,

buiten U is daar nie een nie,

daar is geen rots soos ons God nie.

3“Julle moenie in hoogmoed bly praat nie,

moenie aanmatigende dinge sê nie,

want die Here is 'n God van diepe kennis,

dade word deur Hom getoets.

4“Die boog van die magtiges is verbreek,

dié wat gestruikel het, het nuwe krag gekry.

5Wie versadig was, moet hulle nou vir brood verhuur,

wie honger was, het oorgenoeg om te eet.

Die onvrugbare bring sewe in die wêreld,

die een met baie kinders kwyn weg.

6“Die Here maak dood en Hy maak lewend,

Hy laat afdaal na die doderyk toe

en Hy laat daaruit opkom.

7Die Here maak arm en Hy maak ryk,

Hy verneder, ook gee Hy aansien.

8Hy laat die geringes uit die stof opstaan,

Hy hef die armes op van die ashoop af

om hulle by vername mense te laat sit;

Hy skenk hulle 'n ereplek.

Aan die Here behoort die pilare van die aarde;

Hy het die aarde daarop gegrondves.

9“Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad,

maar die goddeloses word stil gemaak in die duisternis van die graf.

'n Mens oorwin nie deur eie krag nie!

10Dié wat teen die Here in opstand kom, word vernietig,

van bo uit die hemel verbrysel Hy hulle.

Die Here spreek reg tot by die eindes van die aarde,

Hy verleen krag aan sy koning,

Hy gee sterkte aan sy gesalfde.”

11Daarna het Elkana na sy huis toe gegaan in Rama, terwyl die seun Samuel die Here bly dien het onder toesig van die priester Eli. 12Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie.

Die priesters se reg by die offer

13Die reg van die priesters teenoor die volk was so: elke keer wanneer iemand 'n offer bring, kom die priester se slaaf met 'n drietandvurk in sy hand, en wanneer die vleis kook, 14steek hy die vurk in die kastrol of die bak of die pot of die pan. Alles wat die vurk optrek, vat die priester vir hom. Dit het hulle gedoen met al die Israeliete wat in Silo kom offer het.

Die sonde van Eli se seuns

15Maar nog voordat die vet aan die brand gesteek is, het 'n slaaf van die priester al gekom en aan die man wat offer, gesê: “Gee vleis om vir die priester te braai. Hy neem nie gekookte vleis van jou aan nie, net rou vleis.”

16As die man dan vir hom sê: “Laat hulle tog net eers die vet aan die brand steek, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld.”

17Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor.

Hanna se ander kinders

18Maar Samuel het die Here gedien. As 'n seun het Samuel al 'n linneskouerkleed gedra. 19Sy ma het elke jaar vir hom 'n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou 'n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.”

Daarna is hulle weer huis toe. 21Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword.

Die goddeloosheid van Eli se seuns

22Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, 23sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? 24Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. 25Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?”

Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak. 26Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.

Die oordeel oor Eli se geslag

27'n Man van God het by Eli gekom en vir hom gesê: “So sê die Here: Ek het My duidelik geopenbaar aan die huis van jou stamvader toe die volk in Egipte aan die farao's onderdanig was. 28Ek het jou stamvader vir My uit al die Israelitiese stamme as priester uitgekies om my altaar te bedien, om wierook aan die brand te steek en om 'n skouerkleed voor My te dra. Ek het jou familie al die vuuroffers van die Israeliete gegee. 29Waarom verag julle my diereoffer en my graanoffer waarvoor Ek voorskrifte in my woonplek gegee het? En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My, deurdat julle julle vet maak met die beste uit al die offers van my volk Israel?

30“Daarom lewer die Here die God van Israel uitspraak: Ek het nadruklik gesê: Jou huis en jou nageslag sal My altyd in die tempel dien.

“Maar nou sê Ek, die Here: Dit sal nie gebeur nie, want die een wat My eer, sal Ek eer, en die een wat My minag, sal Ek minag. 31Daar kom 'n tyd dat Ek die priesterskap van jou en jou familie af sal wegvat, en in jou familie sal niemand oud word nie. 32Jy sal in nood na my woonplek staan en kyk tussen al die weldade wat Ek aan Israel sal bewys. In jou familie sal niemand ooit oud word nie. 33Net een sal Ek nie van my altaar afsny nie. Maar wanneer Ek jou oë laat dof word en jou gees stil maak, sal die meerderheid van jou huis in die fleur van hulle lewe sterf. 34En wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal vir jou die teken wees: op dieselfde dag sal hulle albei sterf. 35Dan sal Ek vir my 'n betroubare priester aanstel. Volgens my wil en wens sal hy handel, en Ek sal vir hom 'n bestendige nageslag gee. Hy sal altyd diens doen as my gesalfde priester. 36Maar elkeen wat uit jou familie oorbly, sal voor my priester kom buig vir 'n geldstukkie of 'n snytjie brood en sê: Neem my tog op in een van die priesterordes dat ek 'n stukkie brood kan hê om te eet!”

Die eerste openbaring aan Samuel

1Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie. 2Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê, 3en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was, 4en toe roep die Here na Samuel.

Samuel het geantwoord: “Ek kom!”

5Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”

Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”

En Samuel het gaan lê.

6Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”

Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”

7Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie. 8Die Here het Samuel toe 'n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”

Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, 9en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”

Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.

10Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!”

En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”

11Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan 'n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end. 13Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie. 14Daarom bevestig Ek met 'n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”

15Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis van die Here oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel. 16Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”

Hy het gesê: “Ek kom!”

17Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”

18Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie.

En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”

Samuel, 'n betroubare profeet

19Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 20Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here. 21Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here.

1 SAMUEL 1:1-3:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS