Bible Society of South Africa

Dag 3 – Die sondvloed

Lees die sondvloed.

Bybelteks(te)

Die sondvloed

5Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, 6was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief. 7Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”

8Maar Noag is deur die Here begenadig.

9Hier volg die verhaal van Noag.

Noag was 'n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.

10Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.

11Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; 12Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot. 13Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.

14“Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark maak en dit binne en buite met pik dig maak. 15Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy hoogte dertien en 'n half meter. 16Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak.

17“Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die aarde is, sal omkom, 18maar met jou wil Ek 'n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou skoondogters. 19Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly. 20Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly. 21Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees.”

22Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.

1Toe sê die Here vir Noag: “Jy en jou hele gesin moet in die ark ingaan. Ek het jou gesien en onder hierdie geslag bevind Ek jou regverdig. 2Van al die rein diere moet jy sewe pare, manlik en vroulik, saamvat en van al die onrein diere net een paar, manlik en vroulik. 3Ook uit die voëls moet jy sewe pare, mannetjies en wyfies, saamvat. Dit moet jy doen om al die soorte op die hele aarde aan die lewe te laat bly. 4Oor sewe dae sal Ek dit veertig dae en nagte lank laat reën en alles wat leef, wat Ek gemaak het, wegvee van die aarde af.”

5Noag het alles gedoen soos die Here hom beveel het.

6Noag was ses honderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het. 7Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het in die ark ingegaan vir die vloedwaters. 8Die rein en die onrein diere, die voëls, en die diere wat kruip, 9het in pare, manlik en vroulik, na Noag toe in die ark gekom soos God vir Noag gesê het. 10Op die sewende dag het die vloedwaters oor die aarde gekom.

11Presies op die sewentiende dag van die tweede maand van die ses honderdste jaar van Noag het die fonteine van die groot waters oopgebreek. Die vensters van die hemel is oopgemaak, 12sodat daar 'n stortreën op die aarde geval het, veertig dae en veertig nagte lank.

13Dit was die dag waarop Noag en sy seuns, Sem, Gam en Jafet, en sy vrou en sy drie skoondogters almal saam in die ark ingegaan het. 14Hulle, en elke soort wilde dier en mak dier, en al die soorte diere wat kruip, en elke soort voël, alles wat vlieg, het ingegaan. 15Van al wat leef, het daar pare-pare na Noag toe in die ark gekom. 16Hulle het ingekom, manlik en vroulik, soos God vir Noag gesê het. En toe het die Here die ark agter Noag toegesluit.

17Die oorstroming het oor die aarde gekom, veertig dae lank, en die water het al hoe meer geword. Dit het die ark opgelig en die ark het begin opstyg bokant die aarde. 18Maar die waters het nog meer en nog sterker geword op die aarde en die ark het op die waters begin dryf. 19Die waters op die aarde het nog meer en meer geword, sodat hulle al die hoë berge wat daar onder die hemel is, bedek het. 20Die water het amper sewe meter bokant die berge gestyg en dit bedek.

21Al wat op die aarde geleef het, het omgekom: diere wat kruip, voëls, mak diere, wilde diere, ja, alles wat op aarde wemel, ook al die mense; 22alles wat die lewensasem in die neus gehad het, alles wat op land geleef het, is dood. 23So het God alles wat op die aarde geleef het, uitgewis: mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, hulle almal is weggevee van die aarde af. Net Noag en dié by hom in die ark is gespaar. 24Die water het die aarde honderd en vyftig dae lank oorstroom.

GENESIS 6:5-7:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS