Bible Society of South Africa

Dag 29 – Simson verslaan die Filistyne

Lees hoe Simson die Filistyne verslaan.

Bybelteks(te)

Simson

1Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle veertig jaar lank oorgegee in die mag van die Filistyne.

2Daar was 'n man uit Sora uit die stam van Dan. Sy naam was Manoag. Sy vrou was kinderloos. 3Die Engel van die Here het aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy is nou kinderloos, maar jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring. 4Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink nie en ook nie iets onreins eet nie. 5Trouens, jy is reeds swanger en jy sal 'n seun in die wêreld bring. Sy hare mag nie geskeer word nie, want die kind sal van sy geboorte af aan God gewy wees. Hy sal die Israeliete begin red uit die mag van die Filistyne.”

6Die vrou het toe vir haar man gaan sê: “Daar het 'n man van God by my gekom. Hy het gelyk soos 'n engel van God, 'n man met gesag. Ek het hom nie gevra waarvandaan hy kom nie, en hy het my nie gesê wat sy naam is nie. 7Hy het vir my gesê: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun in die wêreld bring. Jy mag voortaan nie wyn of bier drink nie en ook nie enigiets onreins eet nie, want die kind sal van sy geboorte af tot met sy dood aan God gewy wees.”

8Toe het Manoag tot die Here gebid: “Here, laat die man van God vir wie U gestuur het, asseblief weer na ons toe kom dat hy ons kan leer wat ons moet doen met die kind wat gebore sal word.”

9God het Manoag se gebed verhoor, en die Engel van God het weer na die vrou toe gekom. Sy het in die veld gesit, en haar man Manoag was nie by haar nie. 10Toe hardloop sy gou en sê vir haar man: “Die man wat nou die dag na my toe gekom het, het weer aan my verskyn.”

11Manoag is toe dadelik agter sy vrou aan. Hy het by die man gekom en vir hom gevra: “Is u die man wat met my vrou gepraat het?”

Die Man het geantwoord: “Ja, Ek is.”

12Manoag het vir hom gevra: “Wanneer u belofte waar word, hoe moet die kind hom dan gedra en wat moet hy doen?”

13Die Engel van die Here het vir Manoag geantwoord: “Jou vrou moet alles doen wat Ek vir haar gesê het. 14Sy mag nie die opbrengs van 'n wingerdstok eet nie, en sy mag nie wyn of bier drink nie. Sy mag ook nie iets onreins eet nie. Sy moet alles doen wat Ek vir haar gesê het.”

15Toe sê Manoag vir die Engel van die Here: “Wag tog 'n rukkie, dan maak ons vir u 'n bokkie gaar.”

16Die Engel van die Here sê toe vir Manoag: “Al laat jy My 'n rukkie wag, sal Ek nie jou kos eet nie. Maar as jy 'n brandoffer wil bring, moet jy dit vir die Here bring.”

Manoag het nie besef dat dit die Engel van die Here is nie, 17en toe sê Manoag vir die Engel: “Wat is u naam? Wanneer u belofte waar word, wil ons aan u eer betoon.”

18Hy het vir Manoag geantwoord: “Waarom vra jy my Naam? Dit is te wonderlik om uit te spreek.”

19Toe vat Manoag die bokkie, en hy sit dit saam met 'n graanoffer op 'n klip as offer vir die Here. Terwyl Manoag en sy vrou staan en kyk, het die Here 'n wonder laat gebeur. 20Die vlam het van die altaar af opgegaan hemel toe en die Engel van die Here het in die altaarvlam opgestyg. Manoag en sy vrou het dit gesien en hulle het platgeval op die grond.

21Die Engel van die Here het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie, maar Manoag het besef dat dit die Engel van die Here was. 22Toe sê Manoag vir sy vrou: “Ons gaan beslis sterf, want ons het God gesien,” 23maar sy sê vir haar man: “As die Here ons wou doodmaak, sou Hy nie die brandoffer en graanoffer van ons aangeneem het nie. Hy sou ons ook nie hierdie wonderlike ding laat sien het en ons vandag hierdie nuus meegedeel het nie.”

24Die vrou het 'n seun in die wêreld gebring en sy het hom Simson genoem. Die kind het groot geword en die Here het hom geseën: 25die Gees van die Here het hom in Magane-Dan, tussen Sora en Estaol, begin lei.

1Op 'n keer is Simson na Timna toe en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie. 2Hy het teruggegaan en vir sy ouers vertel: “Ek het 'n vrou in Timna gesien, 'n Filistynse meisie. Gaan kry haar vir my as vrou.”

3Maar sy ouers vra vir hom: “Is daar nie onder jou familie of onder al jou volksgenote 'n vrou nie dat jy na die heidene, die Filistyne, toe moet gaan om te trou?”

Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my, want ek hou van haar.”

4Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers.

5Simson en sy ouers is toe na Timna toe. By die wingerde van Timna het 'n jong leeu brullend op Simson afgestorm. 6Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur asof dit 'n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie. 7Hy het toe met die Filistynse vrou gaan praat, en hy het van haar gehou.

8Toe hy 'n ruk later terug is Timna toe om met haar te gaan trou, het hy afgedraai om na die geraamte van die leeu te gaan kyk. Daar was 'n swerm bye met heuning in die karkas. 9Hy het heuning in sy hand gevat en daarvan geloop en eet. Toe hy by sy ouers kom, het hy vir hulle ook gegee, en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die karkas van 'n leeu gekry het nie. 10Toe sy pa-hulle by die vrou aankom, het Simson daar 'n feesmaal gehou: dit was 'n gewoonte onder die jongmanne.

11Toe die Filistyne hom sien, het hulle dertig vriende by hom laat bly. 12Hy het vir hulle gesê: “Laat ek julle 'n raaisel vra. As julle my die raaisel se antwoord binne die sewe feesdae kan gee, sal ek vir julle dertig linnehemde en dertig stelle klere gee, 13maar as julle dit nie kan doen nie, moet julle vir my dertig linnehemde en dertig stelle klere gee.”

Hulle het hom geantwoord: “Gee jou raaisel! Ons wil dit hoor!”

14Simson sê toe:

“Uit 'n eter kom daar iets te ete,

uit 'n sterke kom daar iets soets.”

Die derde dag kon hulle nog nie die antwoord gee nie. 15Die sewende dag sê hulle toe vir Simson se vrou: “Haal jou man oor om die antwoord op die raaisel aan ons bekend te maak, anders verbrand ons jou en jou familie. Het jy ons hierheen genooi om ons kaal uit te trek?”

16Simson se vrou het by hom gehuil en gesê: “Jy haat my. Jy het my nie lief nie. Jy het my mense 'n raaisel gevra sonder om vir my te sê wat dit beteken.”

Hy het vir haar gesê: “Hoe sou ek dit vir jou vertel? Ek het dit selfs nie vir my ouers vertel nie.”

17Sy het die hele sewe dae van die fees by hom geneul en op die sewende dag het hy dit vir haar vertel, want sy het hom bly lastig val. Sy het toe die antwoord op die raaisel vir haar mense gegee.

18Op die sewende dag, net voor sononder, sê die mense van die stad toe vir Simson:

“Wat is soeter as heuning?

Wat is sterker as 'n leeu?”

Hy sê toe vir hulle:

“Julle het met my kalf geploeg

anders sou julle nie die antwoord

op my raaisel gevind het nie!”

19Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en hy is af Askelon toe. Daar het hy dertig man doodgeslaan en hulle klere gevat en vir die mans gegee wat die raaisel uitgelê het. Hy was baie kwaad en is na sy pa se huis toe. 20Simson se vrou is toe aan die vriend gegee wat sy strooijonker was.

1'n Ruk later, in die koringoestyd, het Simson vir sy vrou gaan kuier en 'n bokkie saamgevat. Hy het gesê: “Ek wil by my vrou gaan slaap.”

Maar haar pa wou hom nie toelaat nie. 2Haar pa het gesê: “Ek was doodseker dat jy haar nou haat, en daarom het ek haar vir jou strooijonker gegee. Haar jonger suster is mooier as sy. Jy kan haar kry in jou vrou se plek.”

3Maar Simson sê vir hulle: “Hierdie keer het ek die Filistyne niks verkeerds aangedoen nie. Ek gaan 'n ramp oor hulle bring.”

4Hy het toe drie honderd jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Hy het fakkels gevat en tussen elke twee sterte 'n fakkel vasgemaak. 5Hy het toe die fakkels aan die brand gesteek en die jakkalse tussen die graan van die Filistyne losgelaat. Hy het die miedens en die graan op die land aan die brand gesteek, ook die wingerde en die olyfboorde.

6Toe die Filistyne vra: “Wie het dit gedoen?” is daar gesê: “Simson, die skoonseun van die man uit Timna, want hy het Simson se vrou met sy strooijonker laat trou.”

Die Filistyne het toe gekom en haar en haar pa verbrand.

7Simson het vir hulle gesê: “As dít is wat julle doen, sal ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.”

8Hy het hulle verwoed aangeval en 'n groot slagting aangerig. Toe het hy vertrek en in die rotskloof by Etam gaan woon.

9Die Filistyne het in Juda gaan kamp opslaan en 'n strooptog teen Legi uitgevoer. 10Toe vra die mense van Juda: “Waarom het julle teen ons opgetrek?” en die Filistyne antwoord: “Om vir Simson te vang en met hom te doen wat hy met ons gedoen het.”

11Toe gaan drie duisend man van Juda na die rotskloof toe by Etam en hulle vra vir Simson: “Het jy nie besef dat die Filistyne oor ons heers nie? Wat het jy ons nou aangedoen?”

Hy het hulle geantwoord: “Ek het die Filistyne net aangedoen wat hulle mý aangedoen het.”

12Die manne van Juda sê toe vir hom: “Ons het jou kom boei om jou aan die Filistyne uit te lewer.”

Simson het vir hulle gesê: “Lê eers vir my 'n eed af dat julle my nie om die lewe sal bring nie.”

13Hulle het hom beloof: “Goed! Ons sal jou nie doodmaak nie. Ons sal jou net boei en aan die Filistyne uitlewer.”

Die manne het hom toe met twee nuwe toue vasgebind en hom van die rots af weggevat. 14Toe hy in Legi kom, het die Filistyne hard geskreeu en op hom afgestorm. Maar die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak, en die toue om sy arms was soos garingdraadjies wat brand, en sy boeie het van sy hande afgeval. 15Toe kry Simson die vars kakebeen van 'n donkie in die hande en hy vat dit vas en slaan 'n duisend Filistyne daarmee dood. 16Toe sê hy:

“Met die kakebeen van 'n donkie

het ek 'n hopie van hulle gemaak,

met die kakebeen van 'n donkie

het ek duisend man doodgeslaan.”

17Toe hy dit gesê het, het hy die kakebeen weggegooi en die plek Kakebeenshoogte genoem.

18Simson was baie dors en toe roep hy tot die Here: “U het hierdie groot oorwinning deur my moontlik gemaak. Moet ek nou van dors sterf en in die hande van die heidene val?”

19Toe het God die holte by Legi oopgebreek en daar het water uitgekom en Simson het gedrink en weer nuwe krag gekry. Daarom word die fontein in Legi nou nog Roepersfontein genoem.

20Simson was in die tyd van die Filistyne twintig jaar lank leier van die Israeliete.

Simson in Gasa

1Simson is op 'n keer na Gasa toe. Daar het hy 'n prostituut gesien en by haar huis ingegaan. 2Daar is toe vir die mense van Gasa vertel: “Simson het hierheen gekom.”

Hulle het die huis omsingel en hom die hele nag deur voorgelê by die stadspoort. Hulle het die hele nag in stilte gewag en gedink: môre ligdag maak ons hom dood.

3Maar Simson het net bly lê tot middernag. Toe staan hy op, vat die stadspoort se deure met hulle kosyne en al en ruk hulle so toegesluit uit. Hy het alles op sy skouer teen die berg regoor Hebron opgedra.

Simson en Delila

4'n Ruk later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorekvallei. Haar naam was Delila. 5Die leiers van die Filistyne is toe na haar toe, en hulle het vir haar gesê: “Verlei hom en vind uit waarin lê sy groot krag en hoe ons hom kan oorrompel om hom vas te bind en in ons mag te kry. Elkeen van ons sal jou dan dertien kilogram silwer gee.”

6Delila het toe vir Simson gevra: “Sê my tog waarin lê jou groot krag, en waarmee kan 'n mens jou vasbind om jou in sy mag te kry?”

7Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe boogsnare wat nog klam is, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

8Die leiers van die Filistyne het vir haar sewe boogsnare wat nog klam is, gebring en sy het hom daarmee vasgebind. 9Daar het ook manne in haar kamer weggekruip. Toe sê sy vir Simson: “Die Filistyne is hier, Simson!”

Hy het die boogsnare gebreek soos 'n vlam garingdraad breek, en die geheim van sy krag het onbekend gebly.

10Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het 'n gek van my gemaak en vir my leuens vertel. Sê my tog nou waarmee kan 'n mens jou vasbind.”

11Hy het gesê: “As ek behoorlik vasgebind word met nuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

12Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind, en toe sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”

Daar het weer manne in haar kamer weggekruip, maar Simson het die toue aan sy arms gebreek asof dit garingdraad was.

13Delila het vir Simson gesê: “Hoe lank gaan jy nog 'n gek van my maak en vir my leuens vertel? Sê my tog waarmee kan jy vasgebind word.”

Hy sê toe vir haar: “Jy moet net my sewe haarlokke in jou materiaal op die weefstoel vasweef.”

14Toe sy alles klaar met 'n pen vasgesteek het, sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”

Hy het wakker geskrik en die materiaal met pen en al uit die weefstoel losgeruk.

15Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg en my nie vertel waarin jou groot krag lê nie.”

16So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf.

17Toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Hy het vir haar gesê: “My hare is nooit geskeer nie, want ek is van my geboorte af aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn en ek sal magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

18Delila het besef dat hy haar hierdie keer sy lewensgeheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat roep: “Kom hierdie keer! Hy het my sy lewensgeheim vertel.”

Hulle het toe na haar toe gekom en die geld saamgebring. 19Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en sy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. 20Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.

Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. 21Die Filistyne het hom gegryp en sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met 'n dubbele bronsketting geboei. In die tronk moes hy die meul draai.

22Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.

Simson se laaste daad

23Die leiers van die Filistyne het bymekaargekom om 'n groot offer te bring vir hulle god Dagon en om fees te vier. Hulle het gesê:

“Ons god het ons vyand Simson in ons mag oorgegee.”

24Toe die Filistyne hom sien, het hulle hulle god geprys en gesê:

“Ons god het ons vyand in ons mag oorgegee,

ons vyand wat ons land verwoes het, hy wat so baie van ons doodgemaak het!”

25Toe die Filistyne lekker vrolik was, het hulle gesê: “Roep vir Simson dat hy ons kom vermaak.”

Hulle het toe vir Simson uit die tronk laat kom, en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die tempelpilare laat staan, 26en hy het vir die helper wat hom aan die hand vasgehou het, gesê: “Laat my so staan dat ek die pilare kan voel waarop die tempel rus en dat ek daarteen kan leun.”

27Die tempel was vol mans en vrouens. Al die leiers van die Filistyne was daar, en op die dak was omtrent drie duisend mans en vrouens wat gekyk het hoe Simson hulle vermaak.

28Toe roep Simson tot die Here: “Here my God, dink tog aan my! Maak my tog net hierdie een keer sterk, o God, dat ek my met een daad op die Filistyne kan wreek oor my twee oë!”

29Simson het die twee middelpilare waarop die tempel rus, vasgevat en teen hulle geleun met sy regterarm om die een en sy linkerarm om die ander. 30Toe sê hy: “Laat my sterf saam met die Filistyne.”

Hy het met al sy krag getrek, en die tempel het ingeval op die leiers van die Filistyne en op die mense daarin. So het Simson met sy dood meer mense doodgemaak as in sy lewe.

31Daarna het sy broers en sy hele familie gekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom gevat en gaan begrawe tussen Sora en Estaol, in sy pa Manoag se graf.

Simson was twintig jaar lank leier van die Israeliete.

RIGTERS 13:1-16:31AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS