Bible Society of South Africa

Dag 24 – Trek deur die Jordaan

Lees hoe die volk van Israel die Jordaan oorsteek.

Bybelteks(te)

Die Israeliete steek die Jordaan oor

1Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. 2Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan 3en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, 4sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet 'n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.”

5Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.”

6Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.”

Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop.

7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

1Nadat die hele nasie deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê: 2“Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, 3en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.”

4Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, 5en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen 'n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. 6Dit moet onder julle as 'n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ 7moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete 'n blywende herinnering daaraan.”

8Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit.

9Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar.

10Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die Jordaan bly staan tot alles afgehandel was wat die Here vir Josua opgedra het om vir die volk te sê in ooreenstemming met alles wat Moses vir Josua beveel het. Die volk was haastig om deur te gaan. 11Toe die volk klaar deur is, het die ark van die Here deurgegaan. Die priesters was voor die volk. 12Die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam het, soos Moses hulle beveel het, in formasie voor die Israeliete getrek. 13Omtrent veertig duisend gewapende manne het vir die oorlog die rivier deurgegaan voor die ark van die Here uit na die Jerigovlakte toe.

14Die Here het daardie dag aan Josua hoë aansien gegee in die oë van die hele Israel. Hulle het sy lewe lank aan hom eerbied betoon soos aan Moses.

15Die Here het vir Josua gesê: 16“Sê vir die priesters wat die ark met die getuienis dra, hulle moet uit die Jordaan kom.”

17Josua het toe die priesters beveel om uit die Jordaan te kom, 18en toe die priesters wat die verbondsark van die Here dra, uit die Jordaan kom en hulle voetsole die grond aan die kant raak, het die rivier se waters weer op hulle ou plek begin loop. Soos tevore het hy weer al sy oewers oorstroom.

19Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaan gekom en kamp opgeslaan in Gilgal, oos van Jerigo. 20Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel 21en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa's vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ 22moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. 23Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. 24Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.

JOSUA 3:1-4:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS