Bible Society of South Africa

Dag 22 – Die goue kalf

Lees oor die goue kalf en die tweede stel kliptafels.

Bybelteks(te)

Die goue kalf

1Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.”

2Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.”

3Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. 4Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak.

Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”

5Toe Aäron dit hoor, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!”

6Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. 7Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. 8Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”

9Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit 'n opstandige volk is hierdie. 10Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot 'n groot nasie maak.”

11Maar Moses het by die Here sy God gepleit en gesê: “Here, waarom is U toornig op u volk vir wie U deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte bevry het? 12Waarom moet die Egiptenaars kan sê: ‘Hy het die Israeliete bevry met die bose plan om hulle tussen die berge dood te maak en hulle heeltemal te vernietig’?

“Laat u toorn bedaar en wees u volk genadig. Moet tog nie dié ramp oor hulle laat kom nie. 13Dink aan wat U met 'n eed beloof het aan u dienaars, aan Abraham, Isak en Israel toe U vir hulle gesê het: Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Die hele landstreek wat Ek belowe het, sal Ek vir julle nageslag gee om vir altyd in besit te neem.”

14Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

15Daarna het Moses omgedraai en van die berg af gegaan met die twee plat klippe waarop die getuienis was, in sy hand. Aan weerskante was daar op hulle geskryf, 16en dit was die werk van God. Dit was 'n inskripsie wat deur God op die klippe gegraveer is.

17Toe Josua die volk hoor lawaai, sê hy vir Moses: “Daar is oorlog in die kamp!”

18Maar Moses het gesê:

“Dit klink nie na oorwinning nie,

dit klink nie na neerlaag nie,

wat ek hoor, klink na feesviering.”

19Toe Moses naby die kamp kom en die kalf en die dansery sien, het hy woedend geword en die twee plat klippe in sy hand flenters gegooi teen die voet van die berg. 20Daarna vat hy die kalf wat hulle gemaak het, gooi dit in die vuur, maal dit fyn soos stof en strooi dit op die water. Toe laat hy die Israeliete die water drink.

21Moses het vir Aäron gesê: “Wat het hierdie volk jou aangedoen dat jy hulle hierdie groot sonde laat doen het?”

22Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. 23Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.’ 24Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”

25Toe Moses hoor dat dit die volk is wat op loop gesit het, en dat dit Aäron is wat hulle op loop laat sit het, sodat hulle 'n spot by hulle vyande geword het, 26het hy by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!”

Al die Leviete het om hom bymekaargekom.

27Moses sê toe vir hulle: “So sê die Here die God van Israel: Elkeen moet sy swaard vat, kruis en dwars deur die kamp gaan en doodmaak, ongeag of dit familie, vriende of bure is.”

28Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het, en daardie dag is sowat drie duisend om die lewe gebring.

29Toe het Moses vir die Leviete gesê: “Vandag is julle gewy vir diens aan die Here, want julle het selfs teen seuns en broers opgetree. Om hierdie rede gee die Here vandag aan julle hierdie besondere voorreg.”

30Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.”

31Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak. 32Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”

33Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. 34Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.”

35Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het.

Die Here wil nie saam met sy volk trek nie

1Toe het die Here vir Moses gesê: “Trek nou hiervandaan af weg, jy en die volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het. Trek na die land toe wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit aan julle nageslag gee.’ 2Ek sal my engel voor jou uit stuur en Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdryf. 3Julle is so 'n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.”

4Toe die volk van hierdie harde uitspraak verneem, het hulle getreur en geen juwele gedra nie. 5Daarop het die Here vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle is 'n moedswillige volk. As Ek net 'n oomblikkie saam met julle trek, sal Ek julle verdelg. Sit al julle juwele weg. Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen.”

6Vandat hulle van Horebberg af verder getrek het, het die Israeliete nie meer juwele gedra nie.

Die tent van ontmoeting

7Moses het 'n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. 8Elke keer wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. 9Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat.

10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. 11Die Here het direk met Moses gepraat soos 'n man met sy vriend. Daarna is Moses terug kamp toe, maar sy assistent, die jongman Josua seun van Nun, het nie die tent van ontmoeting verlaat nie.

12Op 'n keer het Moses vir die Here gesê: “Kyk, U beveel my om met hierdie volk te trek, sonder om my mee te deel vir wie U saam met my stuur. Tog het U gesê: ‘Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.’ 13As U my dan goedgesind is, maak my u wil bekend, sodat ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag. Onthou tog hierdie nasie is u volk.”

14Toe het die Here gevra: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

15Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. 16Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.”

17Die Here het vir Moses geantwoord: “Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”

18Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

19Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm. 20Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

21Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan. 22As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

Die tien gebooie word weer opgeskryf. Verskillende ander wette

1Die Here het vir Moses gesê: “Kap vir jou twee plat klippe net soos die voriges. Ek sal op die klippe die gebooie skryf wat op die voriges was wat jy stukkend gegooi het. 2Maak môreoggend klaar en klim die oggend nog Sinaiberg uit. Wag vir My daar op die top van die berg.

3“Niemand mag saam met jou opklim nie. Nêrens op die berg mag daar selfs iemand gesien word nie. Die kleinvee en beeste mag ook nie naby die berg wei nie.”

4Moses het toe twee plat klippe soos die voriges gekap. Nadat hy vroeg die oggend opgestaan het, het hy net soos die Here hom beveel het, Sinaiberg uitgeklim met die twee plat klippe in sy hand.

5Die Here het in 'n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. 6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

8Moses het toe vinnig gebuig in eerbied 9en gesê: “As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom.”

10Toe het die Here gesê: “Ek sluit nou 'n verbond met julle. Voor jou hele volk gaan Ek magtige dade doen wat nog nooit tevore op die hele aarde onder enige nasie gedoen is nie. Die hele volk by wie jy is, sal sien wat Ek, die Here, doen. Wat Ek vir jou gaan doen, sal hulle met ontsag vervul.

11“Wat Ek julle nou hier gaan beveel, moet julle gehoorsaam. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit verdryf. 12Moenie 'n verdrag sluit met die inwoners van die land waarheen julle gaan nie. Hulle sal julle tot 'n val bring.

13“Nee, vernietig hulle altare, breek hulle klippilare af en kap hulle gewyde pale stukkend. 14Julle mag nie 'n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis.’

15“Julle mag nie 'n verdrag met die inwoners van die land sluit nie. Wanneer hulle onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode en vir hulle gode offers bring, sal die mense julle uitnooi na hulle offermaaltye toe, en julle sal daaraan deel hê. 16Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.

17“Julle mag nie afgodsbeelde maak nie.

18“Julle moet die fees van die ongesuurde brood vier. Soos Ek julle beveel het, moet julle sewe dae ongesuurde brood eet, van die vasgestelde dag van die maand Abib af, want dit is die dag waarop julle uit Egipte weggetrek het.

19“Elke eersgebore seun behoort aan My; so ook al die manlike eerstelinge van julle beeste en skape. 20Julle moet elke donkie se eerste hingsvulletjie loskoop met 'n skaap. As julle dit nie doen nie, moet julle die vul se nek breek. Alle eersgebore seuns moet ook losgekoop word.

“Niemand mag sonder 'n offer voor My verskyn nie.

21“Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus.

22“Jy moet die fees van die weke vier; dit is die fees aan die begin van die koringoes.

“Dan is daar nog die fees van die insameling aan die einde van die jaar.

23“Drie keer per jaar moet alle mans voor My, die Here, verskyn, voor My, die Here die God van Israel.

24“Ek sal nasies voor jou uit verdryf en vir jou 'n land gee. Drie keer per jaar moet jy voor My, die Here jou God, verskyn. Dan sal Ek sorg dat niemand jou land begeer nie.

25“As jy vir die offer slag, moet jy sorg dat die offerbloed weggehou word van iets wat suurdeeg in het.

“Die paasoffer mag nie tot die volgende oggend oorstaan nie.

26“Die keur van die eerste produkte van jou lande moet jy na my huis toe bring, die huis van die Here jou God.

“Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”

27Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.”

28Moses was veertig dae en nagte by die Here. In dié tyd het Moses geen kos geëet of water gedrink nie. Hy het die verbondsbepalings, die tien gebooie, op die plat klippe geskryf. 29Toe hy van Sinaiberg af gaan met die twee plat klippe in sy hand, die klippe waarop die getuienis was, was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. 30Toe Aäron en die Israeliete opmerk dat sy gesig blink, was hulle bang om naby hom te kom. 31Eers toe Moses hulle nader roep, het Aäron en al die leiers van die volk na hom toe gekom, en hy het met hulle gepraat. 32Daarna het al die Israeliete nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het. 33Toe Moses klaar met hulle gepraat het, het hy sy gesig met 'n doek toegemaak. 34Wanneer Moses na die Here toe gaan om met Hom te praat, verwyder hy die doek tot na sy terugkoms. Wanneer hy van die Here af terugkom, sê hy vir die Israeliete wat die Here hom beveel het. 35Wanneer die Israeliete sy gesig sien blink, trek Moses die doek oor sy gesig totdat hy weer met die Here gaan praat.

EKSODUS 32:1-34:35AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS