Die rol van bome in die Bybel – Dag 21

Die mooiste boom

ʼn Vriendin het op ʼn dag vir my ʼn gedig gestuur deur Alfred Joyce Kilmer (1886-1918)ʼn Amerikaanse digter, joernalis en litirêre kritikus. Die gedig getiteld “Trees” is in 1913 geskryf:

I think that I shall never see
A poem lovely as a tree.

A tree whose hungry mouth is prest
Against the earth’s sweet flowing breast;

A tree that looks at God all day,
And lifts her leafy arms to pray;

A tree that may in Summer wear
A nest of robins in her hair;

Upon whose bosom snow has lain;
Who intimately lives with rain.

Poems are made by fools like me,
But only God can make a tree.

Hoe pragtig beskryf die reëls van hierdie gedig ons reis die afgelope maand deur die bome van die Bybel! Dink net aan die majestueuse seder of die hoë sipres met takke wat soos in ʼn gebed na bo reik, aan die voëls wat nes maak in die wilgerboom langs die water en die bome wat afhanklik is van die reën.

Ons kan skepe en wolkekrabbers bou en slimfone ontwerp, maar ons kan nie ʼn boom maak nie. Net God kan die sierlike granaatboom, die palmboom wat in die woestyn floreer of die reuse eikeboom maak.

My vriendin skryf verder dat hierdie gedig haar aan Psalm 1 herinner, presies waar ons ons reis deur die bome begin het. Die Psalmdigter sê dat dit goed gaan met die mens wat die woord van die Here oordink en dat “hy is soos ʼn boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” Kom ons wees soos ʼn boom wat geanker is in God, gesnoei word deur sy Woord en wat deur sy Gees water ontvang sodat ons kan voortgaan om goeie vrugte te dra.