Die rol van bome in die Bybel – Dag 14

Die palmboom (deel 2) — Christus het oorwin!

In die antieke tye was die palm ʼn simbool van oorwinning en vrede. Palmtakke is gebruik wanneer ʼn koning of koningin gekroon is, of deur die mense wanneer hulle voor ʼn koning of generaal wat ʼn oorwinning behaal het, verskyn. Die mense het ook palmtakke geswaai uit blydskap oor die koms van ʼn nuwe Koning.

Toe Jesus op ʼn donkie in die strate van Jerusalem gery het, was die mense van Israel baie bewus dat hulle land deur buitelanders beset word. Regdeur hulle geskiedenis is hulle gereeld deur ander volke binnegeval. Maar elke keer het God hulle verlos. Op hierdie stadium van hulle geskiedenis was hulle weer op soek na die volgende Josua, die volgende Gideon, die volgende Dawid. Toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, het baie van hulle tot geloof in Hom gekom.

Hy was egter nie die koning wat hulle verwag het nie. Hy het nie ʼn staatsgreep uitgevoer of met ʼn revolusie begin nie. Toe hulle die palmtakke voor hom neergelê het en hom genooi het om hulle koning te word, het Jesus gedoen wat Hy altyd gedoen het — Hy het na die tempel toe gegaan om die mense daar te onderrig.

Alhoewel die mense van Jerusalem miskien teleurgesteld en ontnugter was, het Jesus tog die Heilige Stad as ʼn Koning binnegegaan. Hy sou binnekort ʼn kragtiger vyand as honderde Romeinse Ryke oorwin. Deur sy dood aan die kruis, sou ons sonde nie langer die skeidsmuur wees wat ons van God skei nie. Dood, die direkte gevolg van ons sondige natuur, is deur die magtige oorwinnaar, Jesus Christus, vertrap.