Die rol van bome in die Bybel – Dag 13

Die granaatboom — die geheel is beter as net dele daarvan

Granate is eksotiese, pragtige vrugte wat heel anders as enige ander vrug is. Hulle is omtrent die grootte van ʼn appel met ʼn harde leeragtige rooi of pienk skil. As jy ʼn granaat oopsny, sal jy sien dat die binnekant verdeel is deur ʼn bitter, wit gedeelte vol honderde sappige rooi pitte. In 1 Konings 7:13-22 lees ons ook van die granate wat op die twee pilare voorkom wat opgerig is by die ingang van die voorportaal van die tempel wat koning Salomo in Jerusalem gebou het.

Vir baie mense is die granaat simbolies. In die vroeë Joodse geloof is daar geglo dat die granaat tot 613 pitte het — een vir elk van die wette in die Tora. Die granaat word ook dikwels gesien in skilderye en standbeelde van die maagd Maria en baba Jesus waar dit baie keer dui op die opstanding en die ewige lewe.

In die vroeë Christelike kerk was die granaat ʼn simbool van die kerk. Die baie pitte verteenwoordig die baie gelowiges wat een algemene Christelike kerk vorm.

Elke pit, soos elkeen van ons, is volledig, maar saam vorm dit ʼn volmaakte geheel.