Die rol van bome in die Bybel – Dag 8

Die sederboom (deel 1) — gee aan God jou beste

Die hout van die seders van Libanon is sterk, reguit, met ʼn heerlike geur en om dié redes was dit baie gesog in antieke tye. Dit was altyd die eerste keuse wanneer ʼn tempel of paleis gebou moes word, en daar is ten duurste daarvoor betaal. Hierdie bome het gehelp dat die Fenisiërs ʼn belangrike plek onder die nasies beklee het, en dit het die simbool geword waaraan hulle en hulle afstammelinge geken is. Vandag kom die seder steeds op die Libanese vlag voor.

Die waarde van die seder is baie duidelik in die Bybel — dit word talle kere genoem. Wanneer mense iets waardevol besit het, is daar ʼn kis van sederhout gemaak om dit in te bewaar. Huise in die tyd van Dawid is van klip gebou, maar het baie gelek. Arm mense moes maar die nattigheid verduur, maar ryk mense het hulle huise met sederhout geïsoleer wat daartoe gelei het dat hulle huise so dig soos ons moderne huise was.

Om dié rede kon Dawid te midde van sy rykdom sê: “Kyk, ek woon in ʼn huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ʼn tent.” Hy het verwys na sy paleis wat met sederhout geïsoleer was. Wat hy eintlik gesê het was: “My huis is selfs beter as dié van God. Ek gee nie vir God die beste nie.”

Dink na oor jou eie lewe. Gee jy vir God die beste?