Die rol van bome in die Bybel – Dag 6

Die vyeboom (deel 2) — wees waaksaam!

Soos die vyeboom ons daaraan herinner dat die somer kom, so het Jesus sy dissipels (en ook vir ons) herinner dat Hy weer gaan kom. Die vroeë kerk het egter geglo dat Jesus nog in hulle leeftyd sou terugkeer. Hierdie gedeelte in Markus verseker hulle, en ons, dat niemand die presiese datum van sy wederkoms ken nie. In 2011 het Harold Camping Christus se wederkoms vir 21 Mei voorspel — natuurlik het dit nie gebeur nie. Baie mense het reeds probeer om die datum van die wederkoms van Christus te voorspel, en hulle was almal verkeerd.

Geskiedkundiges vertel ons dat die vroeë Christene mekaar gegroet het met die woorde “Hy het opgestaan” en wanneer hulle afskeid neem, met die woorde “Die Here kom weer.” Deur hierdie woorde het hulle mekaar bemoedig en voortdurend daaraan herinner dat hulle deur Christus verlos is en dat Hy weer sal kom. Ons voel bemoedig wanneer ons die bloeisels aan die bome sien, want dan weet ons die somer is amper hier en die koue, donker dae van die winter is verby. Ons weet dat Jesus weer sal kom — so kom ons bemoedig mekaar vandag om waaksaam te wees en uit te sien na dié dag wanneer Christus weer gaan kom en alles nuut sal maak, net soos die vyeboom.