Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Die Heilige Gees – Dag 7

Die Heilige Gees bring nuwe lewe

Bybelteks(te)

ESEGIËL 36

26Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee.

ESEGIËL 36:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

ESEGIËL 37

Ek sal julle terugbring

1Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in 'n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

ESEGIËL 37:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Mense sal verskillend reageer as hulle hul in die middel van ʼn vallei vol droë bene bevind, maar nie eers ʼn chiropraktisyn sal voel dat hy enigiets van waarde daar kan doen nie! Esegiël reageer egter vanuit ʼn eerbiedige en gehoorsame hart.

Esegiël was tydens sy voorbereiding as priester saam met tienduisend gevangenes uit Juda na Babel verban. Op die ouderdom van 30 is Esegiël geroep om as profeet die kinders van die Here in Babel te help om te verstaan dat hulle bannelingskap as gevolg van hulle sonde ʼn lang tyd gaan duur, maar ook om aan hulle ʼn nuwe boodskap van hoop te bring. Esegiël het geweet dat dit moeilik sou wees want die Here het hom gewaarsku: “Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik” (Esegiël 3:7). Maar hy het God vertrou vir die nodige krag vir die taak.

Die woorde van Esegiël in die vers uit hoofstuk 37 skilder ʼn prentjie van verlatenheid, dood en hopeloosheid — die resultaat van gevoelloosheid teenoor God. Stel jou die toneel voor wat tot hierdie groot hoop droë bene in die laagte gelei het. Dood, waarvan die bene ʼn bewys is, en hopeloosheid wanneer ʼn mens besef dat diegene wat daar gesterf het, net so gelos is, dat hulle nooit terug huis toe na hulle families toe is nie, en dat hulle nooit ʼn waardige begrafnis gekry het nie. Dit verteenwoordig die geestelike toestand van die Jode in ballingskap, ver weg van hulle eie land, familie en plek van aanbidding.

ʼn Mens mag dink dat hierdie beeld van die bene die einde beteken, maar Esegiël weet dat niks by God onmoontlik is nie en hy antwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God” (Esegiël 37:3b). Die Here het toe deur Esegiël gewerk om die bene aanmekaar te sit, om senings en vleis aan te sit en hulle met vel te oortrek. Die Here het toe op hulle geblaas sodat hulle kon lewe. Die Here het daarna vir Esegiël beveel om te profeteer dat Hy hulle sal terugbring “na die land Israel toe” en Hy sal sy “Gees in [hulle] laat kom sodat [hulle] kan lewe” (Esegiël 37:12,14). Watter wonderlike hoop!

Verteenwoordig dit miskien ons eie toestand? Is daar miskien areas in jou lewe wat uitroep na die vernuwende krag van die Heilige Gees, miskien in jou verhouding met God, of jou huwelik? Miskien moet ons ook let op ons verhoudings in ons gesinne, of by die werk of na ons gesondheid kyk. ʼn Mens wil nie dat hierdie sake “droog” word net omdat ons hardvogtig en hardkoppig is, dinge verwaarloos en ʼn gebrek aan vergifnis het nie. Kom ons stort ons harte voor God uit en sien hoe Hy ons geloof verander en ons genees.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS