Bible Society of South Africa
Neville Turley

Die Bron van ons hoop – Dag 4

Die krag van hoop

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

Die lewende hoop en die egte geloof

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 PETRUS 1:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Moet nooit die krag van hoop onderskat nie. Dit maak nie saak hoe verpletter of depressief jy is nie, hoop kan jou in staat stel om weer jou kop te lig en die lewe in die oë te kyk.

Die apostel Petrus is ʼn perfekte voorbeeld van die dinamiese krag van hoop. Meer as enige van die ander dissipels het Petrus Jesus erken vir wie Hy werklik is: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matteus 16:16). Maar wat Petrus nie besef het nie, is dat die Messias sy lewe moes aflê.

Toe dit gebeur, net soos Jesus gesê het dit sou, het Petrus op ʼn afstand gevolg (Lukas 22:54). Petrus was ʼn getuie van die lyding van Christus (1 Petrus 5:1) maar toe Hy sterf, het die hoop in Petrus gesterf. Na Jesus se finale verhoor lees ons nie weer oor Petrus tot die oggend van die opstanding nie.

Toe Petrus self die opgestane Christus gesien het (Lukas 24:34), het hoop opnuut in sy hart opgevlam. Die Here het régtig opgestaan. Hierdie wete het Petrus se lewe verander. Dit was ook die geval met die ander dissipels en met baie ander wat die opgestane Here gesien en toe geglo het.

Vervul met die Heilige Gees, het hulle die evangelie van die lewende hoop wat God aan ons geskenk het vreesloos verkondig – dat diegene wat in Jesus Christus glo, ryke seëninge in die hemel sal ontvang.

Halleluja! Loof die Here.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS