Die Bron van ons hoop – Dag 10

Dit is belangrik om positief te wees

Jesus het sy volgelinge geleer toe Hy die bergrede lewer: “Julle is die lig vir die wêreld. ʼn Stad wat op ʼn berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ʼn mens nie ʼn lamp op en sit dit onder ʼn emmer nie maar op ʼn lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matteus 5:14-16)

Die boodskap is duidelik. Jesus, die Lig vir die wêreld, leer sy volgelinge om ligdraers vir die wêreld te word. Ons moet die lig van Christus beide in onsself en ons daaglikse aktiwiteite weerspieël.

Dit is ongelukkig ʼn realiteit dat baie Christene dikwels ʼn negatiewe uitkyk eerder as ʼn positiewe een het, en ook swyg oor hulle Christelike getuienis. Hulle voel dikwels veronreg deur die omstandighede waarin hulle hul bevind en het ook nie baie hoop dat sake in die nabye toekoms sal verbeter nie. Ongelukkig weerspieël hulle houding hulle wanhoop.

Sulke pessimisme is ʼn algemene menslike reaksie. Norman Vincent Peale (1898-1993) was ʼn Amerikaanse skrywer en predikant. Deur middel van sy topverkoperboek, The Power of Positive Thinking, het hy talle mense geïnspireer en gemotiveer deur sy konsep van positiewe denke. In die boek bevestig hy sy algehele verbondenheid aan die Here Jesus Christus: “Ek plaas vandag my lewe, my geliefdes, my werk in die Here se hande. Daar is geen gevaar in die Here se hande nie, net goed. Wat ook al gebeur, en wat ook al die resultate is, wanneer ek in die Here se hande is, is dit sy wil en dit is goed.”

Dit is nie maklik om positief te wees wanneer jy voel alles en almal het teen jou gedraai nie. Wanneer jy, in plaas daarvan om vrolik en vol selfvertroue deur die lewe te gaan, wanhopig probeer om al die uitdagings wat oor jou pad kom te hanteer, is dit juis dan dat die getuienis van Jesus vir jou uiters belangrik is: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Johannes 8:12).

Ons Here het ons beloof dat die Heilige Gees in ons lewens teenwoordig is (Johannes 14:16-17). Hy sal ons elke tree van die pad lei en ons help om helder ligte in hierdie wêreld tot eer van die Almagtige God te wees.