Die Bron van ons hoop – Dag 7

Hoop vir die nederiges

Jesus kondig vir die tweede keer aan dat Hy gaan sterf en dat Hy na drie dae weer uit die dood gaan opstaan. Probeer jou voorstel hoe onsteld die dissipels moes wees! Markus vertel dat hulle nie verstaan het wat Jesus bedoel nie, maar dat hulle te bang was om Hom te vra (Markus 9:32). Matteus sê die dissipels was bedroef hieroor (Matteus 17:23).

Soos dit maar in die mens se aard is, het die dissipels gou onder mekaar begin stry oor wie van hulle die belangrikste is. Uiteindelik vra hulle vir Jesus. Markus 9:35-37 was Jesus se antwoord.

Stel jou voor. Jesus neem ʼn kindjie in sy arms en plaas hom voor die dissipels – ʼn kindjie wat in die Joodse samelewing van die tyd geen status gehad het nie.

In Galasiërs definieer Paulus hierdie gebrek aan status in die Joodse samelewing soos volg: “Hierby wil ek nog dít sê: Solank ʼn erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ʼn slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom” (Galasiërs 4:1).

Deur ʼn kind aan hulle voor te hou as ʼn rolmodel, dwing Jesus sy dissipels om kreatief te dink!

Die dissipels wou weet watter een van hulle die belangrikste is. Jesus se antwoord is dat hulle nooit die koninkryk van die hemel sal binnegaan tensy hulle nie bereid is om soos kindertjies te word nie.

Jesus gee sy dissipels ʼn radikale les oor nederigheid. Hulle moet geloof soos kinders hê – en dit het ook betrekking op ons!

Kindertjies het hulle ouers onvoorwaardelik lief en is afhanklik van hulle vir alles wat hulle nodig het. Hulle ouers is die fokus van hulle bestaan en beteken vir hulle alles.

Dit is ook hoe ons houding teenoor ons hemelse Vader moet wees. Die beste manier om dit te doen is om Hom in alles eerste te stel en ander in sy Naam te dien.