Die Bron van ons hoop – Dag 6

Hoop vir ons kinders

In Rut 4:11 word daar na Jakob se vroue, Ragel en Lea, verwys as die vroue wat saam gebou het aan Israel – die moeders van die nasie. In Jeremia 31:15 word Ragel uitgebeeld as Israel, die bruid van God wat treur oor haar verlore seun, haar eersgeborene – die stam van Efraim.

In Matteus lees ons dat hierdie profesie van Jeremia waar geword het toe Herodes beveel dat alle seuns van twee jaar en jonger wat in Betlehem en omgewing gewoon het, doodgemaak moes word (Matteus 2:16-17).

Niks raak ʼn mens dieper en vervul jou meer met algehele skok en woede as berigte oor kinders wat misbruik en mishandel word nie. Jare gelede het ek met totale afsku gelees van die uitdelging van 148 kinders in Peshawar, Pakistan. Nie baie het verander sedert die kindermoorde in Herodes se tyd nie.

Kindermishandeling kom wêreldwyd voor. Onskuldige kinders is dikwels die slagoffers in ons gebroke, sondige wêreld.

Ouers, en diegene aan wie kinders toevertrou word, het ʼn veeleisende verantwoordelikheid. Hulle moet alles moontlik doen om die kinders te beskerm. Dit is ʼn plig wat hulle nie ligtelik kan opneem nie.

Soms word kinders juis deur diegene wat verantwoordelik is vir hulle sorg en veiligheid misbruik. In plaas van ʼn gelukkige en veilige omgewing bevind hierdie kinders hulle in ʼn nagmerrie van pyn en lyding.

In ʼn samelewing waar vroue volgens die Joodse wet geringe status gehad het en kinders absoluut geen, het Jesus sy houding teenoor kinders baie duidelik gestel: “Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: ‘Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle’ ” (Matteus 19:13-14).

Jonk en oud – Jesus is die hoop en toevlug vir almal wat na Hom toe kom.