Begin nuut … – Dag 14
Begin nuut … om te volhard
Bybelteks(te)
JAKOBUS 1
Geloof en wysheid
Bid jy reeds ʼn geruime tyd vir ʼn spesifieke deurbraak sonder dat dit gebeur? Lees dan gerus die storie getiteld Die Klippie van Sukses:
Rafael Solano het op ʼn dag in 1942 op ʼn rots in die droë Venezolaanse rivierbed gaan sit. Hy was moeg en mismoedig. Vir maande het hy en twee ander mans daagliks in die rivier na spoeldiamante gesoek, maar sonder enige sukses.
Een van Rafael se vriende het nader gestaan om te vra of iets hom pla. Rafael het na die klippie in sy hand gekyk en geantwoord: “Ek is klaar. Dit help nie om langer te soek nie. Hierdie is seker die 999 999ste klippie wat ek optel en steeds is dit nie ʼn diamant nie!”
Die ander twee mans het geskok na mekaar gekyk. Was dit die einde van hulle droom om diamante te ontdek? Een van die mans het geantwoord: “Nou maar goed, Rafael. Tel dan ten minste nog een klippie op sodat ons kan sê ons het deur ʼn miljoen klippe gekyk.” Rafael het geknik, vorentoe gebuk en ʼn klip uit die hoop klippe voor hom uitgehaal. Dit was so groot soos ʼn hoendereier. “Hier,” het hy gesê en dit aan sy vriend oorhandig.
Daardie “miljoenste klippie” sou later as The Liberator, die grootste en suiwerste spoeldiamant wat nog ooit ontdek is, bekendstaan. ʼn Juwelier van New York, Harry Winston, het dit by Rafael gekoop vir $200 000.
Wat sou gebeur het as Rafael besluit het om nie daardie laaste klippie op te tel nie? Of wat sou met die basketbalspeler, Michael Jordon, gebeur het as hy op hoërskool moed opgegee het nadat hy uit sy skool se basketbalspan gelaat was? Wat as Dr. Seuss moed opgegee het nadat die 23ste uitgewer sy kinderboek afgekeur het voordat die 24ste uitgewer hierdie boek aanvaar het en ses miljoen kopieë daarvan verkoop het?
God ken ons hartsbegeertes en Hy weet wat die beste plan vir ons lewens is. Al wat Hy van ons benodig is deursettingsvermoë en vertroue. Luister na die woorde in Jakobus 1:2-4: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”
Moenie moed opgee as jy al vir ʼn geruime tyd vir ʼn deurbraak bid nie. God is besig om agter die skerms te werk en alles in plek te stel sodat jy op die regte tyd jou deurbraak kan beleef. Hou moed. Wie weet, dalk is jou deurbraak net soos Rafael sin een klippie weg! Sterkte.