Bible Society of South Africa

40 Dae Avontuur – Dag 5

WEEK 1 - Krag uit God se Woord

Bybelteks(te)

Water uit die rots

1Die hele volk Israel het in die eerste maand in die Sinwoestyn aangekom en toe by Kades oorgebly. Mirjam is daar oorlede en is ook daar begrawe.

2-3Omdat die volk geen drinkwater gehad het nie, het hulle saam teen Moses en Aäron rusie gemaak en gesê: “As ons maar liewer ook omgekom het toe ons volksgenote deur die Here om die lewe gebring is! 4Waarom het julle die volk van die Here na hierdie woestyn toe gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe? 5Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek en ons na hierdie ellendige plek toe gebring? Hierdie plek deug nie vir graan of vye, vir wingerde of granate nie, en daar is geen drinkwater nie.”

6Moses en Aäron het weggedraai van die volk af, en toe hulle by die ingang van die tent van ontmoeting kom, het hulle op hulle knieë geval terwyl die magtige teenwoordigheid van die Here vir hulle sigbaar word. 7Die Here sê toe vir Moses: 8“Vat Aäron se kierie en roep jy en jou broer Aäron die volk bymekaar. Julle moet dan in hulle teenwoordigheid met die rots praat, en daar sal water uitkom. Jy moet vir hulle water uit die rots laat kom, sodat die volk en hulle vee kan drink.”

9Moses het toe die kierie wat in die tabernakel was, gevat soos die Here hom beveel het 10en hy en Aäron het die volk by die rots laat bymekaarkom. Moses het vir hulle gesê: “Luister, julle wat julle teen die Here verset! Luister! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”

11Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink.

12Maar toe sê die Here vir Moses en Aäron: “Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan hulle gee nie.”

13Dit het gebeur by die Meribawaters waar die Israeliete met die Here rusie gemaak het, en waar Hy Hom as die Heilige aan hulle bekend gemaak het.

NUMERI 20:1-13AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die leë graf

1Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is. 2Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, 7ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. 8Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

JOHANNES 20:1-10AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS