Bible Society of South Africa

40 Dae Avontuur – Dag 40

WEEK 6 - Die groot geheim

Bybelteks(te)

My Gees sal altyd by julle bly

1Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 2Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: 3Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?

4Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. 5My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!

HAGGAI 2:1-5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vermaning en aansporing

17Maar julle, geliefdes, moet die dinge onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus voorheen reeds vir julle geleer het. 18Hulle het vir julle gesê: “Daar sal in die laaste dae mense wees wie se lewe deur hulle eie goddelose begeertes beheers word, en hulle sal met julle die spot dryf.”

19Hierdie mense bring verdeeldheid; hulle word deur hulle natuurlike drange beheers en nie deur die Gees van God nie. 20Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. 21Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.

JUDAS 1:17-21AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS