Bible Society of South Africa

40 Dae Avontuur – Dag 16

WEEK 3 - Volhard met die hulp van die Here

Bybelteks(te)

Die besluit om die muur te herstel

11Ek het in Jerusalem aangekom, en na ek drie dae daar was, 12is ek die nag stilletjies uit met 'n paar man by my. Ek het vir niemand gesê wat my God my in die hart gegee het om vir Jerusalem te doen nie. Behalwe my rydier het ek geen diere by my gehad nie. 13Ek is dié nag deur die Dalpoort na die Jakkalsfontein en die Vullispoort toe en het die mure van Jerusalem nagegaan waar hulle afgebreek was en ook die poorte wat verbrand was. 14Toe ek by die Fonteinpoort en die Koningsdam kom, was daar nie plek vir my rydier om verby te kom nie, 15en moes ek in die nag met die vallei op boontoe sodat ek die muur kon nagaan. Daarna het ek omgedraai en is ek weer deur die Dalpoort en terug huis toe.

16Die ampsdraers het nie geweet waarheen ek was en wat ek gedoen het nie. Tot dusver het ek niks laat blyk teenoor die Judeërs, die priesters, die vooraanstaande burgers, die ampsdraers of die ander wat die werk moes doen nie. 17Maar toe sê ek vir hulle: “Julle sien self die benarde toestand waarin ons sit. Jerusalem lê in puin en sy poorte is verbrand. Kom ons herbou die muur van Jerusalem, dat dié vernedering nie langer op ons rus nie.”

18Ek het hulle toe vertel hoe my God sy goeie hand oor my gehou het en wat die koning vir my gesê het. Hulle het gesê: “Kom ons bou!” en hulle het die goeie werk aangepak.

NEHEMIA 2:11-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.

FILIPPENSE 4:4-9AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS