Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 92

Bybelteks(te)

2 SAMUEL 14

Absalom maak 'n plan om met die koning te praat

25In die hele Israel was daar niemand so mooi soos Absalom nie. Die mense het oral daaroor gepraat. Van kop tot tone het hy nie 'n enkele gebrek gehad nie. 26Teen die einde van die jaar het hy gewoonlik sy hare geskeer, want dit het te swaar geword. Volgens koninklike skaal het sy afgeskeerde hare meer as twee kilogram geweeg.

27Absalom het drie seuns en 'n dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was 'n baie mooi meisie.

28Hy was al twee jaar in Jerusalem terug sonder dat hy die koning gesien het. 29Toe laat Absalom vir Joab roep om hom na die koning toe te stuur, maar Joab wou nie kom nie. Hy het hom 'n tweede keer laat roep, maar hy het weer geweier om te kom. 30Absalom sê toe vir sy slawe: “Kyk, Joab het 'n stuk land net hier langs my. Hy het gars daarop. Gaan steek dit aan die brand.”

Die slawe van Absalom het toe so gemaak.

31Toe het Joab gou na Absalom se huis toe gekom. “En waarom steek jou slawe my stuk land aan die brand?” vra Joab vir hom.

32Hy het geantwoord: “Man, kyk, ek het jou laat weet: ‘Kom hiernatoe; ek wil jou na die koning toe stuur om te vra waarom ek uit Gesur gekom het.’ Dit sou vir my beter gewees het as ek nog daar was. Ek wil nou met die koning praat. As ek skuldig is, laat hy my dan doodmaak.”

33Joab het dit aan die koning gaan meedeel. Toe laat roep die koning vir Absalom, en hy het gekom. Hy het diep voor die koning gebuig, en die koning het hom gesoen.

2 SAMUEL 15

Absalom steel die harte van die volk

1Daarna het Absalom vir hom 'n kar en perde aangeskaf. Vyftig man het gewoonlik voor hom uit gehardloop. 2Hy het soggens vroeg opgestaan en langs die pad by die stadspoort gaan staan. Hy het elkeen wat met sy saak vir 'n beslissing na die koning toe gekom het, na hom toe geroep. “Uit watter stad is jy?” vra hy dan.

As die man antwoord: “Ek is 'n Israeliet,” 3sê Absalom vir hom: “Kyk, jy het 'n sterk, regverdige saak, maar by die koning sal niemand na jou luister nie.”

4Dan voeg Absalom by: “As ék maar net as regter in hierdie land aangestel word, sou ek 'n regverdige uitspraak lewer vir elkeen wat met 'n geding of saak na my toe kom.”

5As so iemand nader kom om voor hom te buig, slaan Absalom sy arms om hom en soen hom. 6So het hy gemaak met al die Israeliete wat vir regspraak na die koning toe gekom het, en op hierdie manier het hy die burgers se harte gesteel.

Absalom kom in opstand teen Dawid

7Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil graag my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, in Hebron gaan betaal, 8want terwyl ek op Gesur in Aram gebly het, het ek beloof: As die Here my veilig na Jerusalem toe laat terugkom, sal ek Hom met 'n offer vereer.”

9Die koning het geantwoord: “Gaan gerus maar.”

Hy het toe klaargemaak en na Hebron toe gegaan. 10Absalom het ook boodskappers na al die Israelitiese stamme toe gestuur om te sê: “As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron.”

11Saam met Absalom was daar twee honderd genooides wat te goeder trou uit Jerusalem saamgegaan het. Van die hele sameswering het hulle niks geweet nie. 12Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.

Dawid vlug uit Jerusalem uit

13Toe kom daar iemand by Dawid met die berig: “Die hele Israel is aan Absalom se kant.”

14Dawid het toe sy hele hofhouding wat by hom in Jerusalem was, beveel: “Maak klaar. Laat ons vlug, want Absalom sal geen genade vir ons hê nie. Maak gou voordat hy ons dalk inhaal en 'n groot ramp ons tref deurdat hy 'n bloedbad in die stad aanrig.”

15Hulle het die koning geantwoord: “Net soos die koning verkies. Ons is gereed.”

16Nadat hy tien byvrouens agtergelaat het om die paleis op te pas, het die koning en sy hele hofhouding te voet gevlug. 17Hy en al die inwoners het die stad te voet verlaat. By die laaste huis het hulle gaan staan. 18Daar het hy al sy amptenare by hom laat verbygaan; so ook sy hele lyfwag en al ses honderd man wat hom uit Gat gevolg het.

Terwyl die mense voor die koning verbytrek, 19vra hy vir Ittai die man uit Gat: “Waarom gaan jý ook saam met ons? Draai om en bly by die nuwe koning. Jy is 'n uitlander en uit jou eie gebied verban. 20Jy het maar onlangs hier aangekom, en nou maak ek jou dakloos as ek jou saam met ons laat gaan. Ek weet nie waar ek sal beland nie. Draai om en laat jou volksgenote ook omdraai. Dit is immers aan jou dat hulle trou en lojaliteit verskuldig is.”

21Ittai sê toe vir die koning: “Ek verklaar voor die Here en voor u: Ek bly by u, my koning in lewe en in dood.”

22Toe sê die koning: “Kom dan maar saam.”

Ittai die Gattiet en al die manne by hom is toe saam, en so ook al die afhanklikes wat by hom was. 23Al die mense, al die inwoners van die stad, het hardop geloop en huil. Die hele volk en die koning het deur Kedronspruit getrek en toe het die volk in die rigting van die woestyn koers gekies. 24Sadok en al die Leviete wat die verbondsark van God gedra het, was by die koning. Abjatar het ook saamgekom. Hulle het die ark van God neergesit totdat die volk uit die stad was.

25Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien. 26Maar as die Here sou te kenne gee: ‘Ek is nie meer tevrede met jou nie,’ sal ek dit aanvaar. Dan kan Hy met my maak soos Hy dit goedvind.”

27Verder het die koning vir die priester Sadok gesê: “Sien jy hoe staan sake? Gaan gerus terug stad toe; ook jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. Die twee seuns moet saam met julle teruggaan. 28En onthou, ek sal by die woestynpas wag totdat ek van julle hoor.”

29Daarna het Sadok en Abjatar die ark van God na Jerusalem toe teruggevat en daar gebly.

30Dawid het die Olyfberg huil-huil uitgeklim en as teken van sy droefheid was sy kop toegemaak en het hy kaalvoet geloop. Almal wat by hom was, het ook hulle koppe toegemaak en huil-huil die helling uitgeklim.

31Toe aan Dawid gesê is: “Agitofel is tussen die samesweerders by Absalom,” het hy gebid: “Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie.”

32Toe Dawid op die kruin kniel in die rigting van die ark van God het Gusai die Erekiet onverwags by hom aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. 33Dawid het vir hom gesê: “As jy saamgaan, sal jy vir my 'n oorlas wees. 34Maar as jy teruggaan stad toe en vir Absalom sê: ‘U Majesteit, ek is u onderdaan; ek was in u vader se diens, maar van hierdie oomblik af is ek u onderdaan,’ kan jy vir my Agitofel se raad tot niet maak. 35Kyk, die priesters Sadok en Abjatar sal daar by jou wees. Alles wat jy uit die paleis hoor, moet jy hulle vertel. 36Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar, en wat julle ook al hoor, kan julle vir my met hulle laat weet.”

37Gusai die vriend van Dawid het toe die stad ingegaan, en Absalom was op pad na Jerusalem toe.

2 SAMUEL 16

Siba bring kos vir Dawid

1Toe Dawid 'n entjie van die kruin af weg was, het Mefiboset se amptenaar Siba hom onverwags teëgekom. Op twee opgesaalde donkies het hy twee honderd brode, honderd pakkies rosyntjies en honderd pakkies voorvye en 'n kruik wyn gehad.

2“Wat het jy hier?” vra die koning vir hom, en Siba antwoord: “Die donkies is vir die koning-hulle om op te ry, en die brood en vye is kos vir u lyfwag; dié wat in die woestyn moeg word, kan die wyn drink.”

3“En waar is Saul se seun?” vra die koning.

“Nee, hy sit in Jerusalem. Hy dink mos: vandag sal Israel die koningskap van my pa aan my teruggee,” antwoord Siba.

4Toe sê die koning: “Nou kyk, alles wat aan Mefiboset behoort, is nou joune.”

“Ek sal altyd dankbaar bly,” sê Siba, “en ek hoop ek sal U Majesteit altyd tevrede stel.”

Simeï vloek vir Dawid

5Toe die koning by Bagurim kom, storm daar ewe skielik een van Saul se familielede op hom af. Sy naam was Simeï seun van Gera. So ver as hy gaan, het hy geloop en vloek. 6Hy het Dawid en al sy amptenare en die hele volk, ja, selfs al die dapper krygsmanne, links en regs onder die klippe gesteek.

7Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! 8Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy 'n moordenaar is.”

9Toe vra Seruja se seun Abisai vir die koning: “Waarom vloek hierdie lae hond die koning? Laat ek sy kop vir hom gaan afkap.”

10“Seun van Seruja, dit het niks met my of met jou te doen nie,” was die koning se antwoord. “Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie.”

11Verder het die koning vir al sy amptenare en vir Abisai gesê: “My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee. 12Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking.”

13Dawid en sy mense het toe pad langs verder getrek. Simeï het ál teen die berghang langs geloop en vloek en klippe gooi en stof opskop. 14Moeg het die koning en sy geselskap by die Jordaan aangekom en daar 'n bietjie gerus.

Agitofel se raad word verydel

15Maar Absalom en die hele Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by.

16Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom kom, sê Gusai vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”

17Toe vra Absalom vir hom: “Is dit hoe jy jou lojaliteit teenoor jou vriend wys? Waarom het jy nie saam met hom gegaan nie?”

18Gusai het geantwoord: “O nee! Ek skaar my by dié een vir wie die Here en hierdie manskappe en elke Israeliet gekies het. By hom staan ek. 19Per slot van rekening: wie sal ek dien? Is dit nie sy seun nie? Net soos ek u vader gedien het, sal ek u dien.”

20Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Kom, julle moet altwee raad gee oor wat ons nou te doen staan.”

21Agitofel se raad was: “Gaan slaap by u vader se byvrouens wat hy hier laat bly het om die paleis op te pas. Dan sal die hele Israel besef dat u teen u vader in opstand gekom het en dit sal al u volgelinge se hande sterk.”

22Daar is toe vir Absalom 'n tent op die dak opgeslaan, sodat hy voor die oë van die hele Israel by sy pa se byvrouens kon gaan slaap. 23In daardie tyd was Agitofel se raad asof hy dit van God gekry het. So was sy raad altyd, of dit nou al vir Dawid of vir Absalom was.

2 SAMUEL 17

1Agitofel het verder vir Absalom gesê: “Laat ek tog twaalf afdelings uitsoek en klaarmaak om Dawid vannag nog agterna te sit. 2Ek sal hom oorval terwyl hy moeg en moedeloos is. Ek sal verwarring in sy geledere skep, sodat die hele volk wat by hom is, sal vlug en ek die koning kan doodmaak waar hy alleen is. 3Dan sal ek die hele volk na u toe laat swaai. Nadat almal oorgeloop het, sal u die gunsteling wees en die hele volk sal eensgesind wees.”

4Die voorstel het aanneemlik gelyk vir Absalom en die leiers van Israel.

5Maar Absalom het gesê: “Roep eers vir Gusai die Erekiet. Laat ons ook hoor wat hý te sê het.”

6Gusai het ingekom, en Absalom het vir hom gesê: “Dit is die voorstel van Agitofel. Moet ons dit aanvaar of nie? Hoe dink jy?”

7Gusai het geantwoord: “Hierdie keer het Agitofel nie goeie raad gegee nie. 8U ken tog u vader en sy manskappe. Hulle is dapper vegters en hulle is boonop verbitter soos 'n beer wat in die veld van haar kleintjies beroof is. Daarby is u vader 'n uitgeslape krygsman. Hy sal nie by die volk oornag nie. 9Ek is seker hy kruip nou weg in 'n sloot of op een of ander plek. As daar aan die begin al van u manskappe omkom en dit rugbaar word, sal daar gesê word: ‘Daar was 'n slagting onder die manne wat vir Absalom volg.’ 10Dan sal selfs die dapperste man, die man met leeuemoed, bang word, want die hele Israel weet u vader is 'n vegter en hy het dapper manne by hom. 11Nee, ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: 'n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom opruk. 12Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie. 13As hy hom dalk in 'n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer 'n enkele klip oorbly nie.”

14Toe het Absalom en al die manskappe van Israel gesê: “Die raad van Gusai die Erekiet is beter as dié van Agitofel.”

Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.

Dawid ontvang berig uit Jerusalem en vlug deur die Jordaan

15Daarna het Gusai die priesters Sadok en Abjatar ingelig: “Só het Agitofel vir Absalom en die volksleiers aangeraai, maar só was my raad. 16Stuur nou gou en laat weet vir Dawid hy moenie vannag in die woestynpas slaap nie. Hy moet beslis verder trek, anders word hy en sy hele leër uitgewis.”

17Omdat hulle nie in die stad gesien moes word nie, het Jonatan en Agimaäs ondertussen by Rogelfontein gewag. 'n Slavin het hulle gaan inlig, en hulle moes weer vir koning Dawid gaan inlig. 18'n Jong seun het hulle egter gesien en Absalom daarvan vertel. Maar dié twee het weggeglip en by 'n man in Bagurim gaan wegkruip. In sy agterplaas was daar 'n put en hulle het daarin geklim. 19Sy vrou het 'n doek oor die put gespan en graan daar oor gegooi sodat niemand onraad kon merk nie.

20Absalom se manne het by die huis aangekom en vir die vrou gevra: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”

Sy het hulle geantwoord: “Hulle is hiervandaan rivier se kant toe.”

Nadat die manne tevergeefs gesoek het, is hulle terug Jerusalem toe. 21Toe hulle weg is, het Agimaäs en Jonatan uit die put geklim en vir Dawid gaan sê: “Trek gou deur die rivier, want Agitofel se raad is gevaarlik vir u.”

22Die koning en die hele volk by hom het klaargemaak en deur die Jordaan getrek tot ligdag, totdat almal deur die Jordaan was.

23Toe Agitofel sien sy raad word nie gevolg nie, het hy sy donkie opgesaal en na sy huis toe in sy tuisdorp gery. Daar het hy sy sake gereël en homself opgehang en gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe.

24Dawid het na Maganajim toe gegaan onderwyl Absalom en die hele Israel deur die Jordaan getrek het. 25Absalom het vir Amasa in Joab se plek oor die leër aangestel. Amasa was die seun van 'n sekere Ismaeliet Jeter wat gemeenskap gehad het met Abigal dogter van Nagas. Sy was 'n suster van Seruja, Joab se ma.

26Israel en Absalom het laer opgeslaan in Gilead. 27Toe Dawid in Maganajim aankom, is daar vir hom beddegoed gebring deur Sobi seun van Nagas van die Ammonitiese stad Rabba, en Makir seun van Ammiël van die stad Lo-Dabar, en Barsillai die Gileadiet van Rogelim. 28Hulle het toe die slaapplek reggemaak. Daar was ook nog erdebakke, koring, gars, meel, gebraaide koring, boontjies en lensies. 29Hulle het ook heuning, bokmelk en beesmelkkaas gebring sodat Dawid en sy mense kon eet en drink, want hulle het geweet die mense het moeg en honger en dors geword in die woestyn.

2 SAMUEL 14:25-17:29AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS