Die oorwinning oor vyf Amoritiese konings
1Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai ingeneem en heeltemal vernietig het, dat hy met Ai en sy koning dieselfde gedoen het as wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en ook dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gemaak het en by hulle woon. 2Die mense van Jerusalem het baie bang geword, want Gibeon was 'n belangrike stad, soos 'n stad met 'n koning, en groter as Ai, en al sy manne was dapper vegters. 3Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe vir koning Hoham van Hebron, vir koning Piram van Jarmut, vir koning Jafia van Lakis en vir koning Debir van Eglon laat weet: 4“Kom help my dat ons Gibeon aanval; hulle het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.”
5Die vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe elkeen met sy hele leër gekom, hulle manskappe teen Gibeon ontplooi en die aanval begin. 6Die manne van Gibeon het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moet ons tog nie nou in die steek laat nie, u moet gou hiernatoe kom en ons red. U moet ons help, want al die Amoritiese konings in die Bergland het 'n bondgenootskap teen ons gesluit.”
7Josua en al sy manskappe, al die dapper vegters, het toe uit Gilgal vertrek. 8Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.”
9Josua het van Gilgal af die hele nag deur getrek en die Amoriete skielik oorval. 10Die Here het hulle paniekbevange laat word vir Israel. Israel het 'n groot slagting onder hulle aangerig in Gibeon, hulle agtervolg deur die pas na Bet-Goron toe en hulle bly doodmaak tot by Aseka en tot by Makkeda. 11Terwyl hulle op die vlug was vir Israel met die afdraand na Bet-Goron toe, het die Here van daar af tot by Aseka groot haelstene uit die lug op hulle laat val. Daar is meer van hulle deur die hael dood as wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is.
12Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê:
“Son, staan stil in Gibeon,
en maan, staan stil in Ajalonlaagte!”
13Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. 14So 'n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir 'n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.
15Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.
16Die vyf konings het gevlug en in 'n grot in Makkeda gaan wegkruip. 17Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle weggekruip het, 18en hy het beveel: “Rol groot klippe in die bek van die grot en sit daar manne om hulle op te pas. 19Maar julle moenie daar bly staan nie. Agtervolg julle vyande en val hulle van agter af aan. Moenie dat hulle by hulle stede kom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.” 20-21Toe Josua en die Israeliete klaar was met die groot slagting onder die vyande, is al die manskappe behoue terug na die kamp toe, na Josua toe in Makkeda. Die vyand is tot die laaste man toe doodgemaak, afgesien van die paar wat ontkom en die vestingstede gehaal het. Niemand het dit gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.
22Josua het gesê: “Maak oop die grot se bek en bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.” 23Hulle het dit gedoen, hulle het die vyf konings uit die grot uit na Josua toe gebring, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. 24Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, roep hy al die Israeliete en sê vir die offisiere wat met hom saamgegaan het: “Kom hier, sit julle voete op die konings se nekke.”
Hulle het dit toe gedoen, 25en Josua het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie, wees sterk, wees vasberade. So sal die Here maak met al julle vyande teen wie julle nog moet oorlog maak.”
26Daarna het Josua die konings doodgemaak. Hy het hulle elkeen aan 'n boom opgehang en hulle het daar bly hang tot die aand toe. 27Met sononder is hulle op bevel van Josua van die bome af afgehaal en in die grot gegooi waar hulle weggekruip het. Die bek van die grot is met groot klippe toegepak. Dié is tot vandag toe nog daar.