Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 46

Bybelteks(te)

NUMERI 29

Offers by die huttefees

12“Op die vyftiende van die sewende maand moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees; dan mag julle geen gewone werk doen nie. Sewe dae lank moet julle die huttefees vier tot eer van die Here. 13Julle moet as brandoffer, as vuuroffer wat deur die Here aanvaar word, dertien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers bring, almal sonder liggaamsgebrek. 14Saam met elk van die dertien bulle moet julle 'n graanoffer bring van vyf kilogram meel gemeng met olie, saam met elk van die twee ramme drie kilogram, 15en saam met elk van die veertien lammers een en 'n half kilogram. 16Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

17“Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 18en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 19Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.

20“Op die derde dag moet julle elf bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 21en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 22Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring, afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

23“Op die vierde dag moet julle tien bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 24en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 25Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

26“Op die vyfde dag moet julle nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 27en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 28Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

29“Op die sesde dag moet julle ag bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 30en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 31Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graanoffer en die drankoffers daarby.

32“Op die sewende dag moet julle sewe bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 33en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 34Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

35“Die agste dag moet julle ook as 'n feesdag deurbring; dan mag julle geen gewone werk doen nie. 36Julle moet as brandoffer wat deur die Here aanvaar word, 'n bul, 'n ram en sewe jaaroud lammers offer, almal sonder liggaamsgebrek, 37en daarmee saam die hoeveelheid graan- en drankoffers soos dit bepaal is. 38Julle moet ook nog 'n bokram as sondeoffer bring afgesien van die gereelde brandoffer met die graan- en die drankoffer daarby.

39“Dit is dan die brandoffers, die graanoffers, die drankoffers en die maaltydoffers wat julle in julle feestye vir die Here moet bring, julle gelofteoffers en vrywillige offers.”

40Dit alles het Moses vir die Israeliete gesê soos die Here hom dit beveel het.

NUMERI 30

Voorskrifte oor geloftes

1Moses het vir die leiers van die Israelitiese stamme gesê: “Dit is wat die Here beveel het: 2As iemand aan die Here 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.

3“As 'n jong vrou wat nog in haar ouerhuis is, 'n gelofte aan die Here doen of 'n verpligting op haar neem, 4en haar pa hoor van die gelofte of die verpligting en hy maak nie daarteen beswaar nie, bly al die geloftes of die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. 5Maar as haar pa dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, is die geloftes of die verpligtinge wat sy op haar geneem het, nie van krag nie. Die Here sal dit nie teen haar hou nie omdat haar pa dit afgekeur het.

6“As 'n vrou trou nadat sy aan die Here geloftes gedoen het, of onnadenkend 'n verpligting op haar geneem het, 7en haar man hoor daarvan en maak die dag waarop hy daarvan hoor, geen beswaar nie, bly die geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. 8Maar as haar man dit afkeur wanneer hy daarvan hoor, verklaar hy die gelofte of die verpligtinge wat sy onnadenkend op haar geneem het, nietig, en sal die Here dit nie teen haar hou nie.

9“Enige gelofte wat 'n weduwee of 'n geskeide vrou gedoen het of enige verpligting wat sy op haar geneem het, bly van krag.

10“As 'n getroude vrou 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op haar neem, 11en haar man hoor daarvan en maak nie beswaar nie en keur dit nie af nie, bly al haar geloftes en die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. 12Maar as haar man die geloftes uitdruklik nietig verklaar wanneer hy daarvan hoor, is alles wat sy gesê het, haar geloftes of verpligtinge, nie van krag nie, en sal die Here dit nie teen haar hou nie. 13Elke gelofte of eed waarmee sy haarself wil kasty, kan deur haar man van krag gemaak of nietig verklaar word. 14As haar man nie voor die volgende dag beswaar maak nie, maak hy al haar geloftes of al die verpligtinge wat sy op haar geneem het, van krag. Hy het dit dan van krag gemaak deurdat hy geen beswaar gemaak het toe hy daarvan gehoor het nie. 15As hy egter die geloftes of verpligtinge eers lank nadat hy daarvan gehoor het, nietig verklaar, dra hy die skuld daarvoor, nie sy nie.”

16Dit is die voorskrifte wat die Here aan Moses gegee het oor die verhouding tussen 'n man en sy vrou, en tussen 'n pa en sy ongetroude dogter wat nog in haar ouerhuis is.

NUMERI 31

Wraak op die Midianiete

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Die Israeliete moet die Midianiete straf vir wat hulle julle aangedoen het. Daarna sal jy sterwe.”

3Moses het toe vir die volk gesê: “Bewapen manne vir die oorlog en laat hulle teen die Midianiete optrek om hulle te straf in die Naam van die Here. 4Stuur uit elke stam van Israel duisend man om te gaan veg.”

5Daar is toe twaalf duisend man uit die stamme van Israel aangewys, duisend uit elke stam, almal toegerus vir die oorlog. 6Moses het hulle, duisend uit elke stam, saam met Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur om te gaan veg. Pinehas het gewyde voorwerpe, die trompette om die seine te gee, saamgevat. 7Hulle het oorlog gemaak teen die Midianiete soos die Here vir Moses beveel het en al die mans doodgemaak. 8Onder die gesneuweldes was die vyf Midianitiese konings Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Die Israeliete het ook vir Bileam seun van Beor doodgemaak. 9Hulle het die Midianitiese vrouens met hulle kinders gevange geneem, en al die beeste, kleinvee en besittings buitgemaak. 10Die Israeliete het al die stede in die gebied van die Midianiete en al hulle ander blyplekke verbrand. 11Daarna het die Israeliete alles wat hulle gebuit en geroof het, mens en dier, gevat 12en die gevangenes, die roof en die buit na Moses en die priester Eleasar en die volk Israel toe gebring in die kamp in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan.

13Moses en die priester Eleasar en al die leiers van die volk het die leër buite die kamp gaan ontmoet. 14Moses was kwaad vir die bevelvoerders van die leër, die bevelvoerders oor duisend en oor honderd wat van die veldtog af teruggekom het. 15Hy het vir hulle gesê: “Julle het al die vrouens in die lewe laat bly, 16en deur toedoen van Bileam was juis húlle die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar 'n ramp oor die volk van die Here gekom het! 17Maak al die seuntjies dood en elke vrou wat al met 'n man gemeenskap gehad het. 18Maar elke dogter wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie, mag julle laat lewe en vir julle vat. 19Dié van julle wat iemand doodgemaak het of aan 'n lyk geraak het, moet sewe dae buite die kamp bly. Op die derde en die sewende dag moet julle julleself en julle gevangenes reinig. 20Julle moet ook al julle klere en alles wat van vel of bokhaar of hout gemaak is, reinig.”

21Die priester Eleasar het vir die soldate wat gaan oorlog maak het, gesê: “Die voorskrif wat die Here aan Moses geopenbaar het, is: 22goud, silwer, brons, yster, tin, lood, 23alles wat nie kan verbrand nie, moet deur julle met vuur gereinig word en daarna met reinigingswater. Alles wat kan verbrand, moet deur julle met reinigingswater gereinig word. 24Op die sewende dag moet julle julle klere was en sal julle rein wees. Daarna mag julle na die kamp toe terugkom.”

Verdeling van die buit

25Die Here het vir Moses gesê: 26“Jy en die priester Eleasar en die familiehoofde van die volk moet al die mense wat gevang is en die diere wat buitgemaak is, tel. 27Dan moet julle die buit verdeel tussen dié wat by die oorlog betrokke was en gaan veg het, en die res van die volk. 28Jy moet van die soldate wat gaan veg het, 'n offergawe vir die Here neem, een op vyf honderd uit die mense, beeste, donkies en kleinvee. 29Die bydrae wat jy uit hulle deel vat, moet jy aan die priester Eleasar gee as 'n offergawe aan die Here. 30Uit die deel van die res van die Israeliete moet jy een op vyftig vat, uit die mense, beeste, donkies, kleinvee en ander diere, en dit aan die Leviete gee wat die diens by die tabernakel van die Here behartig.”

31Moses en die priester Eleasar het gedoen soos die Here vir Moses beveel het. 32Die buit wat behoue gebly het uit wat die soldate geroof het, was ses honderd vyf en sewentig duisend stuks kleinvee, 33twee en sewentig duisend beeste, 34een en sestig duisend donkies, 35twee en dertig duisend vrouens wat nog nie met mans gemeenskap gehad het nie.

36Die soldate wat gaan veg het, se deel was drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee, 37waarvan ses honderd vyf en sewentig as offergawe aan die Here, 38ses en dertig duisend beeste, waarvan twee en sewentig as offergawe aan die Here, 39dertig duisend vyf honderd donkies waarvan een en sestig as offergawe aan die Here, 40en sestien duisend mense van wie twee en dertig as offergawe aan die Here.

41Moses het die offergawe aan die Here vir die priester Eleasar gegee soos die Here hom beveel het.

42Die ander Israeliete se deel wat deur Moses van dié van die soldate afgesonder is, 43die volk se helfte, was drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee, 44ses en dertig duisend beeste, 45dertig duisend vyf honderd donkies en 46sestien duisend mense. 47Van die Israeliete se helfte het Moses een uit elke vyftig persone en diere gevat soos die Here hom beveel het, en dit aan die Leviete gegee wat die diens by die tabernakel van die Here behartig.

48Toe het die bevelvoerders van die leërafdelings, die bevelvoerders oor duisend en oor honderd, na Moses toe gekom 49en gesê: “Ons het die soldate wat onder ons bevel was, getel, en daar word nie een vermis nie. 50Daarom bring ons as offergawe aan die Here al die goue goed wat ons gekry het: armkettings en armbande, seëlringe, oorringe en halskettings. Dit moet vir ons versoening doen by die Here.”

51Moses en die priester Eleasar het al die goue sierade in ontvangs geneem. 52Al die goud wat hulle van die bevelvoerders ontvang het en wat as offergawe aan die Here gegee is, het amper twee honderd kilogram geweeg. 53Die soldate het hulle buit vir hulleself gehou. 54Moses en die priester Eleasar het die goud by die bevelvoerders in ontvangs geneem en dit na die tent van ontmoeting toe gebring. Dit moes die Here altyd aan Israel herinner.

NUMERI 32

Die stamme oorkant die Jordaan

1Die stamme Ruben en Gad het groot troppe vee besit. Hulle het gesien dat die Jaser- en Gileadstreke goeie veewêreld is, 2en het toe vir Moses, die priester Eleasar en die volksleiers gaan sê: 3“Die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon 4wat deur die Here vir die volk Israel verower is, is goeie veewêreld, en ons het baie vee. 5As u dit goedvind,” het hulle gesê, “gee dan hierdie gebied vir ons as besitting en moet ons nie verplig om deur die Jordaan te trek nie.”

6Moses sê toe vir hulle: “Moet julle volksgenote gaan veg terwyl julle hier bly? 7Waarom wil julle die ander Israeliete ontmoedig om na die land toe te trek wat die Here vir hulle gegee het? 8So het julle voorvaders ook gemaak toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te verken. 9Hulle het tot by Eskolspruit gegaan en die land verken, en toe die Israeliete ontmoedig, sodat hulle nie na die land toe wou gaan wat die Here vir hulle gegee het nie. 10-11Dié dag het die Here baie kwaad geword omdat hulle Hom nie getrou gevolg het nie. Hy het met 'n eed verklaar dat die manne van twintig jaar en ouer wat uit Egipte getrek het, nie die land sou sien wat Hy met 'n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. 12Net Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua seun van Nun sal die land sien, want hulle het die Here getrou gevolg. 13Die Here was baie kwaad vir Israel en het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerf, totdat die hele geslag omgekom het wat in sy oë verkeerd gedoen het. 14En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel. 15As julle nou aan Hom ontrou is, sal Hy die hele volk nog langer in die woestyn laat bly en hulle tot niet laat gaan.”

16Hulle het toe vir Moses gesê: “Ons sal hier krale bou vir ons kleinvee en stede vir ons gesinne, 17maar ons sal dadelik ons wapens vat en aan die voorpunt van die Israeliete trek totdat ons hulle by hulle bestemming gebring het. Intussen kan ons gesinne in die versterkte stede woon en so sal hulle veilig wees teen die inwoners van die land. 18Ons sal nie na ons huise toe terugkom voordat elke Israeliet sy besitting ontvang het nie. 19Ons wil nie saam met hulle aan die westekant van die Jordaan ons besitting hê nie, ons wil ons besitting hier oos van die Jordaan hê.”

20Toe het Moses vir hulle gesê: “Doen dit dan. Vat julle wapens en trek op voor die ark van die Here uit om te gaan veg. 21Al julle gewapende manne moet deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek, totdat Hy sy vyande verslaan het. 22Eers wanneer die Here die land onderwerp het, mag julle terugkom en sal julle vrygestel wees van julle verpligting teenoor die Here en teenoor Israel. Dan kan julle hierdie gebied uit die hand van die Here ontvang as julle besitting. 23Maar as julle dit nie doen nie, sondig julle teen die Here en moet julle weet dat julle sonde julle sal agterhaal. 24Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het.”

25Die mense van Gad en Ruben het toe vir Moses gesê: “Ons sal doen soos u gesê het. 26Ons vrouens en kinders, ons kleinvee en ons beeste sal hier in die stede van Gilead bly, 27maar al ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg soos u gesê het.”

28Moses het toe vir die priester Eleasar, vir Josua seun van Nun en vir die leiers van die stamme van Israel 29gesê: “As die mense van Gad en Ruben, al hulle gewapende manne, saam met julle deur die Jordaan gaan en voor die ark van die Here uit optrek om te gaan veg, en die land aan julle onderwerp is, moet julle die Gileadgebied aan hulle as 'n besitting gee. 30Maar as hulle gewapende manne nie saam met julle gaan nie, moet hulle tussen julle in Kanaän 'n besitting kry.”

31Die mense van Gad en Ruben het toe geantwoord: “Ons sal doen wat die Here vir ons gesê het. 32Ons gewapende manne sal voor die ark van die Here uit optrek na Kanaän toe, maar ons besitting moet hier oos van die Jordaan wees.”

33Moses het toe die koninkryk van koning Sihon van die Amoriete, en die koninkryk van koning Og van Basan, die hele streek met sy stede en die gebied daar rondom, aan die stamme Gad en Ruben en aan die halwe stam van Manasse seun van Josef gegee.

34Die mense van Gad het Dibon, Atarot, Aroër, 35Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha, 36Bet-Nimra en Bet-Haram as vestingstede ingerig en ook krale vir hulle kleinvee gebou.

37Die mense van Ruben het die volgende stede herbou: Gesbon, Elale, Kirjatajim, 38Nebo, Baäl-Meon, waarvan die naam verander is, en Sibma. Hulle het die ander stede wat hulle herbou het, se name behou.

39Die afstammelinge van Makir seun van Manasse het na Gilead toe gegaan, dit verower en die Amoriete wat daar was, uitgedryf. 40Moses het Gilead toe aan die mense van Makir seun van Manasse gegee, en hulle het daar gaan woon.

41Jaïr, ook 'n afstammeling van Manasse, het die tentdorpe gaan verower, en hulle tentdorpe van Jaïr genoem.

42Nobag het Kenat en sy buitedorpe gaan verower, en die plek Nobag genoem, na homself.

NUMERI 29:12-32:42AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS