Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 41

Bybelteks(te)

NUMERI 14

'n Opstand en sy gevolge

1Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”

4Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!”

5Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval. 6Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, 7en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. 8As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. 9Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

10Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi.

Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword. 11Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het? 12Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou 'n volk maak, groter en sterker as hulle!”

13-14Maar Moses het vir die Here gesê: “Die Egiptenaars sal dit hoor en dit vir die inwoners van hierdie land vertel. Dit is tog U wat hierdie volk deur u mag uit Egipte laat wegtrek het, en die inwoners van hierdie land het reeds gehoor dat U, Here, onder hierdie volk is, dat U duidelik waarneembaar verskyn het, dat u wolk oor hulle is, en dat U bedags in 'n wolkkolom en snags in 'n vuurkolom voor hulle uit gaan. 15As U hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u dade gehoor het, sê: 16‘Die Here was nie in staat om hierdie volk in te bring in die land wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.’

17“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het: 18‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’ 19Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”

20Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het. 21Nogtans, so seker as Ek leef en die hele aarde vol sal word van my magtige teenwoordigheid, 22nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, en wat My nou oor en oor getart het en nie na my woorde geluister het nie, 23sal die land wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie. 24Maar omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

25“Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte. Draai môre om en trek weg na die woestyn toe met die Rietseepad.”

26Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 27“Hoe lank sal hierdie slegte volk nog aanhou met hulle verset teen My? Ek het opgemerk hoe die Israeliete hulle teen My verset. 28Sê vir hulle: ‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het. 29In hierdie selfde woestyn sal die lyke bly lê van julle almal van twintig jaar en ouer wat in die sensus opgeneem is en wat teen My in verset gekom het. 30Nie een van julle sal die land betree wat Ek met 'n eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb seun van Jefunne, en Josua seun van Nun. 31En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry. 32Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê. 33Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê. 34Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’ 35Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.”

36Die manne vir wie Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele volk teen Moses in verset laat kom het deur die slegte gerug oor die land te versprei, 37almal wat vir die slegte gerug oor die land verantwoordelik was, het gesterwe deur 'n plaag wat deur die Here gestuur is. 38Van die manne wat die land gaan verken het, het net Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne bly lewe.

39Toe Moses vir al die Israeliete sê wat die Here gesê het, het die volk begin kerm en huil. 40Hulle het toe die oggend vroeg klaargemaak en na die hoë Bergland toe begin trek. “Ons was verkeerd,” het hulle gesê, “ons wil nou optrek na die plek toe wat die Here beloof het.”

41Maar Moses het gesê: “Waarom oortree julle die bevel van die Here? Julle sal nie die land verower nie. 42Moenie gaan nie, want die Here is nie by julle nie. Julle sal deur julle vyande verslaan word, 43want die Amalekiete en Kanaäniete sal julle daar inwag, en julle sal om die lewe gebring word. Die Here sal nie by julle wees nie, omdat julle van Hom af weggedraai het.”

44Hulle was egter vermetel genoeg om tog na die hoë Bergland toe te begin trek. Maar Moses en die verbondsark van die Here het nie die kamp verlaat nie. 45Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie Bergland woon, het afgekom en hulle verslaan en uitmekaar gejaag tot by Gorma.

NUMERI 15

Bykomende offers

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom wat Ek vir julle as woonplek gee, 3en julle vir My, die Here, van julle beeste of kleinvee 'n vuuroffer wil aanbied wat vir My aanvaarbaar is, 'n brandoffer of 'n ander diereoffer om 'n gelofte te betaal of as vrywillige offer, of by julle feestye, 4dan moet die een wat sy offer bring, vir My ook 'n graanoffer bring van een en 'n half kilogram meel, gemeng met een liter olie.

5“Saam met elke lam wat as brandoffer of ander diereoffer gebring word, moet jy 'n liter wyn as drankoffer aanbied.

6“Vir 'n ram moet jy 'n graanoffer aanbied van drie kilogram meel, gemeng met een en 'n derde liter olie, 7en daarby een en 'n derde liter wyn as drankoffer. Jy moet dit bring dat dit vir My, die Here, aanvaarbaar is.

8“As jy 'n jong bul as brandoffer of ander diereoffer aanbied om 'n gelofte te betaal of as ander maaltydoffer aan My, 9moet jy by die bul vier en 'n half kilogram meel, gemeng met twee liter olie, as graanoffer bring. 10Bring ook ongeveer twee liter wyn as drankoffer.

“So sal dit 'n vuuroffer wees wat deur My, die Here, aanvaar word. 11Elke bul, elke ram of lam van skape of bokke moet so aangebied word. 12Julle moet so maak met elke dier wat julle as vuuroffer aanbied. 13Elke landsburger wat 'n vuuroffer wil aanbied, wat deur My, die Here, aanvaar word, moet dit op dieselfde manier doen. 14'n Vreemdeling wat by julle woon, of iemand wat reeds vir geslagte onder julle is, moet ook 'n vuuroffer aanbied wat deur My aanvaar word. Hy moet presies dieselfde doen as julle. 15Daar moet in die gemeente dieselfde voorskrif wees vir julle en vir die vreemdeling wat by julle woon. Dit is 'n vaste voorskrif vir julle nageslag dat die vreemdeling net soos julle moet wees voor die Here. 16Een en dieselfde wet en bepaling moet op julle en op die vreemdeling wat by julle woon, van toepassing wees.”

17Die Here het ook vir Moses gesê: 18“Sê vir die Israeliete: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring, 19en julle eet van die land se brood, moet julle 'n offergawe vir My bring. 20Offer 'n ringbrood van julle eerste growwe meel, en bied dit aan as 'n offergawe van julle dorsvloer af. So moet julle dit offer. 21Al julle geslagte moet altyd weer 'n offergawe van die eerste growwe meel aan My gee.”

Onopsetlike sonde

22“Dit kan gebeur dat julle onopsetlik sondig en nie handel volgens al die gebooie wat Ek, die Here, aan Moses gegee het nie, 23dat julle nie handel volgens alles wat Ek julle deur Moses beveel het van die dag af waarop Ek dit gegee het en verder in julle nageslagte nie. 24As dit onopsetlik gedoen is sonder dat die gemeente daarvan bewus was, moet die hele gemeente 'n jong bul as brandoffer berei wat deur My, die Here, aanvaar word. Hulle moet dit berei saam met die voorgeskrewe graan- en drankoffer, en 'n bokram as sondeoffer. 25Die priester moet vir die hele gemeente van Israel versoening doen, en hulle sal vergewe word, want dit was onopsetlik, en hulle het vir hulle onopsetlike sonde hulle vuuroffer en hulle sondeoffer vir My gebring. 26Die hele gemeente van Israel en die vreemdeling wat by hulle woon, sal vergewe word, want hulle het onopsetlik gesondig. 27As een persoon onopsetlik sondig, moet hy 'n jaaroud bokooi as sondeoffer bring. 28Die priester moet vir die persoon wat onopsetlik gesondig het, voor My versoening doen, en as die versoening vir hom gedoen is, sal die sonde hom vergewe word. 29Een en dieselfde wet geld vir elkeen wat onopsetlik gesondig het, of hy 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling wat by julle woon.

30“Maar die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here, oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word. 31Omdat hy die woord van die Here verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra.”

'n Sabbatskender word gestraf

32Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle 'n man gekry wat op die sabbat hout bymekaarmaak. 33Die mense wat hom gekry het terwyl hy besig was om hout bymekaar te maak, het hom na Moses, Aäron en die hele gemeente toe gebring. 34Hulle het hom aangehou, want dit was nie duidelik wat hulle met hom moes doen nie.

35Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet beslis sterwe. Die hele gemeente moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.”

36Hulle het hom toe uitgebring buite die kamp en hom met klippe doodgegooi. So het hy dan gesterf, soos die Here vir Moses beveel het.

Klossies en gebooie

37Die Here het verder vir Moses gesê: 38“Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk. Dit geld ook vir hulle nageslag. Hulle moet 'n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk. 39As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. 40Julle moet aan al my gebooie dink en hulle onderhou sodat julle aan My gewy sal wees. 41Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte gebring het om vir julle 'n God te wees. Ek is die Here julle God.”

NUMERI 16

Opstand van Korag, Datan en Abiram

1Korag seun van Jishar, seun van Kehat, seun van Levi, het saam met die Rubeniete Datan en Abiram, seuns van Eliab, en On seun van Pelet 2teen Moses in opstand gekom. Saam met hulle was twee honderd en vyftig Israelitiese mans, leiers van die gemeenskap wat deur die volksvergadering aangewys is, manne van aansien. 3Hulle het as 'n groep teen Moses en Aäron saamgekom en vir hulle gesê: “Dit is nou genoeg. Die hele gemeente, elke lid daarvan, is gewyd, en die Here is by hulle. Waarom verhef julle julle dan bo die gemeente van die Here?”

4Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë geval en gebid. 5Daarna het hy vir Korag en sy hele bende gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat aan Hom behoort en wat gewy is en sal Hy hom toelaat om by die altaar te kom. Die persoon wat Hy verkies, sal Hy na die altaar toe laat kom. 6Korag, jy en almal by jou moet dít doen: vat môre vir julle vuurpanne, 7sit vuur daarin, plaas wierook daarop en bring dit altaar toe. Die man vir wie die Here verkies, is die gewyde. Julle Leviete matig julle te veel aan!”

8Verder het Moses vir Korag-hulle gesê: “Luister, Leviete! 9Is julle nie daarmee tevrede dat die God van Israel júlle uit die gemeente van Israel afgesonder het om in die heiligdom diens te doen en om die dienswerk in die tabernakel van die Here te verrig in belang van die gemeente vir wie julle bedien nie? 10Hy het jóú, Korag, en al jou Levitiese ampsgenote saam met jou laat diens doen in die heiligdom, maar nou wil julle ook nog die priesterskap inpalm! 11Dat julle julle teen Aäron verset, is niks nie, maar jy en jou hele bende het 'n komplot teen die Here gesmee.”

12Daarna het Moses vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep. Maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie. 13Is dit nie genoeg dat jy ons laat trek het uit 'n land wat oorloop van melk en heuning om ons in die woestyn te laat omkom nie? En nou wil jy ook nog gedurig oor ons baasspeel! 14Bowendien het jy ons nie gebring na 'n land toe wat oorloop van melk en heuning nie, en ook nie vir ons lande en wingerde gegee nie. Wil jy hierdie mense aanhou mislei? Ons sal nie kom nie!”

15Moses het baie kwaad geword en vir die Here gesê: “U moet hulle offergawe nie aanneem nie! Ek het nie 'n enkele donkie van hulle gevat nie en nie een van hulle benadeel nie.”

16Moses sê toe vir Korag: “Jy en jou hele bende moet môre na die altaar toe kom, jy en hulle en ook Aäron. 17Elkeen moet wierook in 'n vuurpan sit en dit na die altaar toe bring, elkeen van die twee honderd en vyftig man met sy eie vuurpan, en ook jy en Aäron, elkeen met sy vuurpan.” 18Almal het toe hulle vuurpanne gevat, vuur daarin gesit en wierook daarop geplaas, en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, ook Moses en Aäron.

19Net toe Korag die hele gemeente teenoor Moses-hulle by die ingang van die tent van ontmoeting laat saamkom, word die magtige teenwoordigheid van die Here vir die hele gemeente sigbaar. 20Die Here sê toe vir Moses en Aäron: 21“Gee pad van hierdie gemeente af, dat Ek hulle in 'n oogwink kan vernietig.”

22Maar Moses en Aäron het op hulle knieë geval en gebid: “O God, God wat aan alle mense die lewe gee, sal u toorn teen die hele gemeente ontvlam as net een mens gesondig het?”

23Toe sê die Here vir Moses: 24“Sê vir die gemeente: Gee pad van Korag, Datan en Abiram se tente af!”

25Daarna het Moses na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het hom gevolg. 26Hy sê toe vir die gemeente: “Gee pad van die tente van hierdie goddelose mense af! Moenie aan iets van hulle raak nie, dat julle nie deur al hulle sondes omkom nie.”

27Die gemeente het toe van Korag, Datan en Abiram se tente af padgegee. Datan en Abiram het uitgekom saam met hulle vrouens, hulle kinders en almal onder hulle sorg en voor hulle tente gaan staan. 28Toe sê Moses: “Hieraan sal julle weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen en dat dit nie uit myself is nie. 29As hierdie manne 'n gewone dood sterf en dit met hulle gaan soos dit met elke mens gaan, het die Here my nie gestuur nie! 30Maar as die Here iets nuuts laat gebeur en die aarde sy mond oopmaak en hulle insluk saam met alles wat aan hulle behoort, sodat hulle lewend in die doderyk afgaan, sal julle weet dat hierdie mense die Here geminag het.”

31Net toe Moses klaar gepraat het, skeur die grond onder hulle oop 32en maak die aarde sy mond oop en sluk vir Datan en Abiram met hulle gesinne in en ook vir Korag en al die manne by hom saam met hulle besittings. 33Hulle en alles wat aan hulle behoort, het lewend in die doderyk afgegaan; die aarde het hulle bedek, en so het hulle uit die gemeente verdwyn.

34Al die Israeliete in die omgewing het gevlug toe hulle die geskree hoor, want hulle het gedink: dalk sluk die aarde ons ook in! 35Toe het die Here 'n vuur gestuur en dit het die twee honderd en vyftig man wat die wierookoffer wou bring, verteer.

NUMERI 14:1-16:35AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS