Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 347

Bybelteks(te)

HEBREËRS 11

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie.

4Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood.

5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see.

13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak.

17-18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.

27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.

29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

30Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.

31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

32En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word. 36Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.

39En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

HEBREËRS 12

Die oog moet op Jesus gevestig wees

1Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Die Here tug dié wat Hy liefhet

4Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle 'n stryd om lewe of dood geword het nie. 5Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:

“My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie,

6want die Here tug hom wat Hy liefhet,

Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.”

7Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien 'n kind wat nie deur sy vader getug word nie? 8As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. 9Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? 10Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

11Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

12Versterk daarom die slap hande en die lam knieë 13en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

Moenie die genade van God verwerp nie

14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18Julle het immers nie gekom by 'n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs 'n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word, was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28Laat ons wat 'n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is 'n verterende vuur.

HEBREËRS 13

Die Christelike lewenswandel

1As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê:

“Die Here is my helper,

ek ken geen vrees nie:

wat kan 'n mens aan my doen?”

Loof God deur Jesus Christus

7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

10Ons het 'n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. 15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God 'n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

17Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

18Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. 19Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.

Gebed vir die lesers

20God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. 21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Laaste versoek en groete

22Broers, dit is my dringende versoek: Julle moet geduldig na hierdie woorde luister waarmee ek julle bemoedig het, al het ek dit net kortliks aan julle geskrywe.

23Julle weet seker al dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy gou genoeg kom, bring ek hom saam wanneer ek julle besoek.

24Groete aan al julle voorgangers en aan al die gelowiges. Dié wat van Italië afkomstig is, stuur ook vir julle groete.

25Die genade van God sal by julle almal wees!

HEBREËRS 11:1-13:25AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS