Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 345

Bybelteks(te)

HEBREËRS 5

1Elke hoëpriester is 'n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:

“Jy is my Seun,

van vandag af is Ek jou Vader.”

6En op 'n ander plek sê Hy:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Waarskuwing teen afvalligheid

11In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer. 12Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie. 13Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. 14Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

HEBREËRS 6

1Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit 'n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, 2die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie. 3Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.

4Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting. 7Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

9Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. 10God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. 11Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Die sekerheid van die belofte van God

13Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met 'n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met 'n eed by Homself bevestig 14en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou 'n baie groot nageslag gee.” 15En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is. 16Mense lê 'n eed af by iemand groter as hulleself. Vir hulle is dit die bevestiging van 'n saak, en dit sluit alle teëspraak uit. 17En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met 'n eed gewaarborg. 18Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, 'n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. 19Hierdie hoop besit ons as 'n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

HEBREËRS 7

Die uitnemendheid van die priesterskap van Melgisedek bo dié van Aäron

1Melgisedek was koning van Salem en priester van God die Allerhoogste. Dit is Melgisedek wat vir Abraham tegemoet gegaan en hom geseën het toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings verslaan het, 2en dit is ook aan hom dat Abraham 'n tiende van al die oorlogsbuit gegee het. In die eerste plek, sy naam Melgisedek beteken: koning van geregtigheid; en hy was ook koning van Salem, en dit beteken: koning van vrede. 3Niks is bekend omtrent sy vader en moeder of sy afstamming of die begin en einde van sy lewe nie. Hy is soos die Seun van God en hy bly priester vir altyd.

4Let nou op hoe groot hierdie man was aan wie Abraham, die stamvader, 'n tiende van die beste oorlogsbuit gegee het. 5Die priesters wat van Levi afstam, het volgens die bepaling van die wet die reg om 'n tiende in te vorder van die volk, dit wil sê van hulle broers, wat net soos hulle ook afstammelinge van Abraham is. 6Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het van Abraham 'n tiende geneem en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën. 7Dit is onbetwisbaar dat dit altyd die mindere is wat deur die meerdere geseën word. 8In die geval van die Levitiese priesters is dit sterflike mense wat tiendes invorder, maar in die geval van Melgisedek iemand van wie getuig word dat hy lewe. 9'n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, 10want Levi was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.

Christus en die Levitiese priesterskap

11Dit was in samehang met die Levitiese priesterskap dat die volk die wet van Moses ontvang het. As hierdie priesterskap volmaaktheid kon bewerk, waarom was dit dan nog nodig dat 'n ander priester volgens die priesterorde van Melgisedek aangestel moes word, van wie daar nie gesê word dat hy 'n priester volgens die orde van Aäron sou wees nie?

12As daar 'n ander priesterskap kom, volg noodwendig ook 'n verandering van die wet. 13Hy van wie hierdie dinge gesê word, behoort juis tot 'n ander stam, waaruit niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie. 14Dit is algemeen bekend dat ons Here van Juda afstam, en in verband met daardie stam het Moses niks oor die priesterskap gesê nie. 15Die saak word nog duideliker as ons daaraan dink dat die ander priester wat te voorskyn tree, ooreenkom met Melgisedek, 16deurdat Hy priester word nie deur die bepaling van die wet oor menslike afstamming nie, maar deur die krag van onvernietigbare lewe. 17Van Hom word getuig:

“Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.”

18Aan die een kant word die vroeëre bepaling dus afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan: 19die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het 'n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader.

20Dit het nie sonder die bevestiging met 'n eed plaasgevind nie. Die Leviete het wel priesters geword sonder die bevestiging met 'n eed, 21maar Jesus met 'n eed deur God, wat vir Hom gesê het:

“Die Here het dit met 'n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: ‘Jy is priester vir ewig.’ ”

22So het Jesus ook van 'n beter verbond borg geword.

23Daar is ook 'n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý 'n priesterskap wat nie op 'n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so 'n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd 'n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met 'n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

HEBREËRS 8

Die Hoëpriester van 'n nuwe en beter verbond

1Die hoofsaak van wat gesê is, is dit: ons het 'n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterkant van die troon van die Majesteit in die hemel. 2Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur 'n mens nie. 3Elke hoëpriester word aangestel om gawes en offers te bring; daarom moet ook hierdie Een iets hê om te offer. 4As Hy nog op aarde was, sou Hy nie eens priester kon wees nie, omdat volgens die wet daar reeds priesters is wat die gawes offer. 5Hulle bedien egter slegs 'n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.” 6Maar nou het Jesus 'n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van 'n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.

7As daar aan die eerste verbond niks kortgekom het nie, sou 'n tweede nie nodig gewees het nie. 8Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê:

“Kyk, daar kom 'n tyd, sê die Here,

dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit.

9Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het

op die dag toe Ek hulle

aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie,

want hulle het nie my verbond gehou nie,

en Ek het hulle verwerp, sê die Here.

10Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit,

sê die Here:

Ek sal hulle my wette in die verstand gee,

op hulle harte sal Ek dit skrywe;

Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.

11Dan hoef niemand meer

sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie.

Hulle almal, klein en groot, sal My ken.

12Oor hulle ongeregtighede

sal Ek genadig wees en aan hulle sondes

nooit meer dink nie.”

13Deur van 'n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.

HEBREËRS 5:1-8:13AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS