Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 337

Bybelteks(te)

MARKUS 4

Die gelykenis van die saaier

1Jesus het weer die mense langs die see begin leer. 'n Baie groot menigte het by Hom saamgedrom, sodat Hy op die see in 'n skuit gaan sit het. Die hele menigte was langs die see op die strand. 2Hy het hulle baie deur gelykenisse geleer. So het Hy onder andere gesê terwyl Hy hulle leer:

3“Luister hier! 'n Saaier het eendag gaan saai. 4Met die saai het 'n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. 5'n Ander deel daarvan het op 'n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. 6Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. 7'n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. 8Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en 'n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.”

9Verder het Hy gesê: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

Die doel met die gelykenisse

10Toe hulle alleen was, het die mense wat saam met die twaalf by Hom was, Hom oor die gelykenisse uitgevra, 11en Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse, 12sodat

“hulle kyk en kyk en tog nie sien nie,

en hoor en hoor en tog nie verstaan nie,

dat hulle hulle nie miskien bekeer en vergewe word nie.

Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

13Hy sê toe vir hulle: “Julle begryp nie eens hierdie gelykenis nie. Hoe sal julle dan al die ander gelykenisse kan verstaan?

14“Die saaier saai die woord. 15Daar is mense by wie daar soos op 'n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is. 16Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. 17Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig. 18Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, 19maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. 20Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.”

Julle moet luister

21Hy het vir hulle gesê: “'n Lamp kom mos nie onder 'n emmer of onder 'n bed nie? Is dit nie bedoel om op 'n staander gesit te word nie? 22Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom. 23As iemand ore het en kan hoor, moet hy luister!”

24Hy het ook vir hulle gesê: “Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. 25Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.”

Die gelykenis van die saad wat vanself groei

26Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land 27en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. 28Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. 29En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

Die gelykenis van die mosterdsaadjie

30Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? 31Dit is soos 'n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. 32Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.”

Die gebruik van gelykenisse

33Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. 34Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

Jesus maak die storm stil

35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar 'n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”

Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

MARKUS 5

Die besetene van Gerasa

1Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. 2Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af 'n man met 'n onrein gees Hom tegemoet gekom.

3Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met 'n ketting vasbind nie, 4want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. 5Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe.

6Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval 7en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” 8want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”

9Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.”

10Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. 11Daar naby teen die berg het 'n groot trop varke geloop. 12Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!”

13Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip.

14Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. 15Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. 16Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. 17Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan.

18Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. 19Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.”

20Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het 'n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, 'n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. 'n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

MARKUS 4:1-5:43AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS