Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 331

Bybelteks(te)

FILEMON 1

1Van Paulus, 'n gevangene ter wille van Christus Jesus, en van ons broer Timoteus.

Aan Filemon, ons vriend en medewerker, 2en aan ons suster Affia en aan Argippus, ons medestryder, en aan die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaarkom.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Filemon se liefde en geloof

4Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God 5omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys. 6My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou 'n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. 7Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het.

Paulus pleit vir Onesimus

8Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, 9doen ek liewer 'n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus, wat 'n ou man is en nou ook 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. 10Ek doen 'n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. 11Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my.

12Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom.

13Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie 'n gevangene is. 14Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. 15Miskien was hy 'n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, 16nou nie langer net as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf: as 'n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my; hoeveel te meer sal hy dit dan nie vir jou wees nie, as mens en as broer in die Here.

17Dus, as jy my as deelgenoot in die geloof beskou, ontvang hom net soos jy my sou ontvang. 18As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. 19Hier skryf ek, Paulus, met my eie hand: “Ek sal betaal.”

Ek hoef jou natuurlik nie daaraan te herinner dat wat jy is, jy aan my te danke het nie.

20Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos 'n broer in Christus. 21Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet ook dat jy selfs meer as dit sal doen. 22Hou sommer ook vir my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee.

Groete en heilwense

23Epafras, wat saam met my ter wille van Christus Jesus 'n gevangene is, stuur vir jou groete; 24ook my medewerkers Markus, Aristargos, Demas en Lukas stuur groete.

25Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees!

FILEMON 1:1-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

HANDELINGE 27

Paulus se reis na Rome toe

1Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig. 2Ons het weggevaar aan boord van 'n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, 'n Masedoniër van Tessalonika. 3Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien.

4Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was. 5Met Silisië en Pamfilië aan ons regterkant het ons die see oorgesteek en Mira in Lisië bereik. 6Daar het die offisier 'n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit.

7Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar. 8Ons het met moeite langs die kus op gevaar en 'n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.

9Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe: 10“Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.”

11Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het. 12Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was 'n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê. Daar sou hulle kon oorwinter.

Die storm op see

13'n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die manne het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Die anker is gelig, en hulle het so na moontlik aan die kus van Kreta gevaar. 14Maar dit was nie lank nie toe waai daar 'n stormwind van die land af, die Noordoos, genoem die Eurakilon. 15Die wind het die skip meegesleur. Omdat dit onmoontlik was om die skip se boeg wind op te hou, het ons dit opgegee en wind af gedrywe. 16Ons het 'n bietjie beskutting gevind toe ons onderkant die eilandjie Kauda langs kom. Daar kon ons darem met moeite die bootjie van die skip in veiligheid bring. 17Nadat die matrose die bootjie opgehaal het, het hulle as noodmaatreël 'n paar toue styf onder om die skip vasgemaak. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis verpletter sou word, het hulle die dryfanker laat sak en die skip sommerso laat drywe.

18Omdat ons baie swaar gekry het in die storm, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi. 19Die dag daarna het hulle eiehandig ook die skip se toerusting in die see gegooi. 20Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word.

21Nadat hulle 'n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. 22Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. 23Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien. 24Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’ 25Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. 26Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.”

27Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom. 28Hulle het 'n dieplood uitgegooi en 'n diepte van ses en dertig meter gekry. 'n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter. 29Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word. 30Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. 31Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val.

33Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet. 34Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.”

35Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. 36Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet. 37Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord. 38Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak.

Die skipbreuk

39Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het 'n baai met 'n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon. 40Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer. 41Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan. 42Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. 43Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. 44Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.

HANDELINGE 28

Paulus op die eiland Malta

1Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons gehoor dat dit die eiland Malta is. 2Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons. Omdat dit begin reën het en koud was, het hulle 'n vuur aangesteek en ons almal daarby verwelkom. 3Paulus het 'n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar 'n slang uitgekom, en dit het aan sy hand vasgebyt. 4Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man moet beslis 'n moordenaar wees. Al is hy uit die see gered, wil die goddelike wraak hom nie laat lewe nie.”

5Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. 6Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle 'n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is 'n god.

7Daar was 'n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, 'n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons vriendelik ontvang en ons drie dae lank as sy gaste gehuisves. 8Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.

9Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak. 10Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het.

Van Malta af Rome toe

11Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, 'n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het. 12Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly.

13Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar 'n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli. 14Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe. 15Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

Paulus in Rome

16Na ons aankoms in Rome het Paulus die vergunning gekry om op sy eie te woon met 'n soldaat om hom te bewaak.

17Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek in Jerusalem gevange geneem en aan die Romeine uitgelewer. 18Hulle het my verhoor en wou my loslaat omdat daar geen rede was om my ter dood te veroordeel nie. 19Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, is ek gedwing om my op die keiser te beroep. Dit beteken egter nie dat ek 'n aanklag teen my volk gaan inbring nie. 20Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te ontmoet en met u te praat. Ek is in hierdie boeie ter wille van Hom vir wie Israel verwag.”

21Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor u van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het berig oor u gebring of iets kwaads van u gesê nie. 22Ons wil graag hoor wat u dink, want al wat ons weet, is dat daar oral teenstand teen hierdie rigting is.”

23Hulle het toe 'n datum met hom afgespreek, en op daardie dag het daar nog meer mense na die plek toe gekom waar hy gebly het. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus die koninkryk van God vir hulle verduidelik en hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus. 24Deur sy uiteensetting het daar party oortuig geraak, maar ander wou nie glo nie. 25Hulle was dit nie met mekaar eens nie en het weggegaan, maar Paulus het nog eers dít vir hulle gesê: “Hoe waar is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het! 26Hy het gesê:

“Gaan na hierdie volk toe en sê vir hulle:

Julle sal hoor en hoor en tog niks verstaan nie;

en kyk en kyk en tog niks sien nie.

27Hierdie volk se verstand is afgestomp:

hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak,

sodat hulle nie

met hulle oë kan sien

en met hulle ore kan hoor

en met hulle verstand verstaan

en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.

28“Julle moet nou goed verstaan dat God se boodskap van redding na die heidennasies toe gestuur word. Húlle sal luister.”

30Paulus het 'n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het almal ontvang wat hom kom besoek het. 31Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.

HANDELINGE 27:1-28:31AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS