Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 307

Bybelteks(te)

GALASIËRS 1

1-2Van Paulus, 'n apostel, en van al die broers wat by my is.

Dat ek 'n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur 'n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het.

Aan die gemeentes in Galasië.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring. 5Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen.

Daar is geen ander evangelie nie

6Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en 'n ander evangelie aanneem. 7Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. 8Maar al sou een van ons of selfs 'n engel uit die hemel aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref! 9Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!

10Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.

Hoe Paulus 'n apostel geword het

11Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur 'n mens uitgedink nie. 12Ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of by 'n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in 'n openbaring aan my gegee.

13Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog 'n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. 14En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was 'n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders.

15Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het 16om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg 17of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe.

18Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. 19Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here. 20Wat ek aan julle skrywe, is nie leuens nie – God is my getuie.

21Daarna is ek na Sirië en Silisië toe. 22Die gemeentes van Christus in Judea het my toe nog nie persoonlik geken nie; 23hulle het net gehoor: “Die man deur wie ons vroeër vervolg is, verkondig nou die geloof wat hy destyds probeer uitroei het.” 24En hulle het God verheerlik oor my.

GALASIËRS 2

Paulus word deur die ander apostels erken

1Veertien jaar later het ek weer Jerusalem toe gegaan, hierdie keer ek en Barnabas, en ek het vir Titus ook saamgeneem. 2God het dit aan my geopenbaar dat ek moet gaan. Ek het toe die evangelie wat ek onder die heidennasies verkondig, aan die broers daar voorgelê en dit nog afsonderlik met die leiers bespreek. Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie.

3Hoewel Titus, wat saam met my was, 'n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie. 4Daar was wel sekere mense wat dit wou hê, maar dit was mense wat onder vals voorwendsels in die gemeente ingedring het en hulle as medegelowiges voorgedoen het. Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak. 5Aan hulle eise het ons egter nie 'n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word.

6Die leiers van die gemeente – wat hulle vroeër was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na 'n mens se uiterlike nie – die leiers van die gemeente het aan die evangelie wat ek verkondig, niks toegevoeg nie. 7Inteendeel, hulle het ingesien dat die taak aan my toevertrou is om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig, net soos dit aan Petrus toevertrou is om die evangelie aan die Jode te verkondig. 8Dieselfde God wat van Petrus 'n apostel vir die Jode gemaak het, het van my 'n apostel vir die nie-Jode gemaak.

9Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het Jakobus, Sefas en Johannes, wat beskou is as die pilare van die gemeente, my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode. 10Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.

In Antiogië wys Paulus vir Petrus tereg

11Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. 12Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis. 13Die ander Joodse gelowiges het ook saam met hom begin huigel, en selfs Barnabas het hom deur hulle huigelary laat meesleep.

14Toe ek sien dat hulle van die reguit pad van die evangeliese waarheid afwyk, het ek daar voor almal vir Sefas gesê: “Jy is 'n Jood, en jy hou jou nie meer aan die Joodse gebruike nie. As jy self leef asof jy nie 'n Jood is nie, hoe kan jy dan mense wat nooit Jode was nie, wil dwing om te lewe asof hulle Jode is?”

Geregtigheid uit die geloof

15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat 'n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot 'n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As 'n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

GALASIËRS 3

Die wet of die geloof

1Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang! 2Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? 3Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? 4Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! 5Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? 6So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”

7Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. 8Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word.

10Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” 11En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

12By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.”

13Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” 14Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.

Die wet en die belofte

15Broers, ek gaan nou 'n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As 'n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. 16God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling”, net een, en hierdie nakomeling is Christus.

17Hiermee wil ek dít sê: God het 'n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie. 18As 'n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur 'n belofte toegesê.

19Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van 'n tussenganger aan die volk gegee. 20Maar as daar net één is wat handel, is 'n tussenganger nie nodig nie, en God ís net een.

Slawe en seuns

21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As 'n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou 'n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

GALASIËRS 1:1-3:29AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS