Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 296

Bybelteks(te)

LUKAS 17

Uitsprake van Jesus

1Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. 2So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word. 3Wees dus self op julle hoede.

“As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. 4Selfs as hy sewe maal op 'n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”

6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

7“Sê nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ 9'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Jesus genees tien melaatse mans

11Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan 13en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

14Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.”

Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was 'n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood is nie?”

19En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Die koms van die koninkryk

20Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. 21Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”

22Daarna sê Hy vir die dissipels: “Daar sal dae kom wanneer julle daarna sal verlang om net een van die dae van die Seun van die mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. Hulle sal wel vir julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’ 23Maar moenie gaan nie en moenie agter hulle aanloop nie! 24Soos die weerlig wat uitslaan, die hele lugruim van die een kant na die ander verlig, so sal die Seun van die mens kom as die dag van sy koms daar is. 25Maar eers moet Hy baie ly en deur die mense van hierdie tyd verwerp word.

26“Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: 27hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis. 28In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou. 29Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis. 30Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.

31“Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie. 32Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het! 33Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou. 34Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 35Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.”

37Toe vra hulle Hom: “Waar, Here?”

Hy sê vir hulle: “Waar aas lê, daar sal aasvoëls ook bymekaarkom.”

LUKAS 18

Die gelykenis van die weduwee en die regter

1Jesus het vir hulle 'n gelykenis vertel om duidelik te maak dat 'n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. 2Hy het gesê: “In 'n sekere stad was daar 'n regter wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie. 3En in dieselfde stad het 'n weduwee gewoon wat hom herhaaldelik kom vra het: ‘Doen aan my reg in my saak teen my teenparty.’ 4'n Tyd lank wou hy nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan 'n mens steur ek my nie, 5maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.”

6Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. 7Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!

“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?”

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’

13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Jesus en die kindertjies

15Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. 16Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 17Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Die ryk jongman

18'n Man van aansien het aan Jesus die vraag gestel: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

19Jesus het geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. 20Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis gee nie, eer jou vader en moeder.”

21Maar hy antwoord: “Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou.”

22Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

23Toe hy dit hoor, was hy diep teleurgesteld, want hy was baie ryk.

24Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: “Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. 25Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Maar wie kan dan gered word?”

27Daarop antwoord Hy: “Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.”

28Toe sê Petrus: “Kyk, óns het van ons besittings afgesien en U gevolg.”

29En Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van die koninkryk van God afgesien het van huis of vrou of broers of ouers of kinders nie, 30of hy ontvang in hierdie tyd al baie keer soveel terug, en in die tyd wat kom, die ewige lewe.”

Jesus kondig die derde keer sy dood en opstanding aan

31Jesus het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. 32Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, 33Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.”

34Maar van hierdie dinge het hulle niks begryp nie. Die woorde was vir hulle duister, en hulle het nie verstaan waaroor Hy praat nie.

Die blinde man by Jerigo

35Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, 36die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. 37Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier verby.”

38Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”

39Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!”

40Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: 41“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.”

42Jesus sê vir hom: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.”

43En onmiddellik kon hy sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

LUKAS 17:1-18:43AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS