Bible Society of South Africa

Bybelleesrooster – Dag 219

Bybelteks(te)

ESEGIËL 10

1Ek sien toe bokant die gewelf bo die koppe van die gerubs iets soos saffier met die vorm van 'n troon. Dit was sigbaar bokant die gerubs. 2Die Here het vir die man in linneklere gesê: “Gaan in tussen die wiele onder die gerubs, maak jou twee hande daar tussen die gerubs vol kole en strooi dit oor die stad.”

Die man het gegaan terwyl ek kyk. 3Die gerubs het regs van die tempel gestaan toe die man daar aankom, en die wolk het die binneste voorhof gevul. 4Die magtige teenwoordigheid van die Here het van bo die gerubs af opgestyg en bokant die tempel se drumpel gaan staan. Die tempel is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die magtige teenwoordigheid van die Here. 5Die geruis van die gerubs se vlerke kon tot in die buitenste voorhof gehoor word. Dit was soos die gedruis wanneer die almagtige God praat. 6Toe Hy die man met die linneklere beveel: “Gaan vat vuur tussen die wiele, tussen die gerubs,” het hy langs 'n wiel gaan staan. 7'n Gerub het sy hand daar tussen die gerubs uit na die vuur toe uitgesteek wat tussen die gerubs was, en kole gevat en dit gesit in die twee hande van die man met die linneklere aan. Die man het dit gevat en uitgekom.

8Onder die vlerke van die gerubs het iets sigbaar geword; dit het gelyk soos menshande. 9Ek het langs die gerubs vier wiele gesien, een langs elke gerub. Die voorkoms van die wiele was dié van edelstene. 10Hulle het eenders gelyk, en dit was of daar 'n wiel dwars binne 'n wiel was. 11Hulle kon beweeg in die rigting van enige van hulle vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. 12Die gerubs se lywe, hulle rûe, hulle hande en vlerke en al vier wiele was rondom vol oë. 13Iemand het vir my gesê dit is wiele. 14Elke gerub het vier gesigte gehad: die eerste was dié van 'n gerub, die tweede dié van 'n mens, die derde dié van 'n leeu, die vierde dié van 'n arend. 15Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde wesens as wat ek by die Kebarrivier gesien het. 16Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg langs hulle, en wanneer die gerubs hulle vlerke gespan het om van die grond af op te styg, het die wiele nie van koers verander nie en langs hulle gebly. 17Wanneer die gerubs gestaan het, het die wiele gestaan, en wanneer die gerubs opgestyg het, het die wiele opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele.

18Die magtige teenwoordigheid van die Here het van die tempel se drumpel af beweeg en bokant die gerubs gaan staan. 19Die gerubs het hulle vlerke gespan en voor my oë van die grond af opgestyg. Toe hulle beweeg, is die wiele saam met hulle. Die gerubs het by die ingang van die oostelike poort van die huis van die Here gaan staan, en die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant hulle. 20Dit was dieselfde wesens as wat ek onder die God van Israel gesien het by die Kebarrivier, en ek het besef dit is gerubs. 21Elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en onder hulle vlerke het dit gelyk of daar menshande is. 22Hulle gesigte het gelyk soos die gesigte wat ek by die Kebarrivier gesien het. Elke wese het reg vooruit beweeg.

ESEGIËL 11

1Die Gees het my opgetel en my gebring na die oostelike poort van die huis van die Here, die poort wat oos kyk. Daar by die ingang van die poort was vyf en twintig man, en tussen hulle het ek vir Jaäsanja seun van Assur en vir Pelatja seun van Benaja gesien, leiers van die volk. 2Die Here het vir my gesê: “Mens, dit is die manne wat die sonde bedink en die slegte leiding in hierdie stad gee. 3Hulle sê: ‘Dit is nie nou tyd om huise te bou nie. Die stad is die pot en ons is die vleis.’ 4Tree op as profeet teen hulle, tree op as profeet, mens.”

5Die Gees van die Here het oor my gekom en vir my gesê: “Jy moet sê: So sê die Here: Julle het dit gesê, Israel, Ek ken die gedagtes wat by julle opkom. 6Julle het baie mense in hierdie stad vermoor, julle het sy strate vol lyke gemaak.

7“Maar,” so sê die Here my God, “die vleis is die mense vir wie julle in die stad doodgemaak het, en die stad is die pot, en vir julle sal Ek daar uithaal. 8Julle is bang vir die swaard, en die swaard sal Ek oor julle bring,” sê die Here my God.

9“Ek sal julle uit die stad uithaal en julle in die mag van vreemdes oorgee en julle straf. 10Julle sal met die swaard doodgemaak word. Ek sal julle straf op die grense van Israel, en julle sal besef dat Ek die Here is. 11Die stad sal nie die pot wees en julle die vleis in hom nie: op die grense van Israel sal Ek julle straf. 12Dan sal julle besef dat Ek die Here is volgens wie se voorskrifte julle nie geleef het nie en wie se bepalings julle nie uitgevoer het nie. Maar julle het geleef volgens die gebruike van die nasies rondom julle.”

13Terwyl ek besig was om so as profeet op te tree, het Pelatja seun van Benaja gesterf. Ek het op my gesig geval en hard geroep: “Ag, Here my God, gaan U 'n einde maak aan wat van Israel oor is?”

14Toe kom die woord van die Here tot my: 15“Mens, dit is van jou broers, jou familie en die hele Israel dat die inwoners van Jerusalem sê: ‘Hulle is ver van die Here af, en hierdie land is vir ons as besitting gegee.’ 16Daarom moet jy sê: So sê die Here my God: Ek het hulle ver weg gevat na ander nasies toe en hulle oor ander lande verstrooi, maar in dié tyd het Ek self vir hulle 'n heiligdom gebly in die lande waarheen hulle is.

17“Jy moet sê: So sê die Here my God: Ek gaan julle dan ook nou bymekaarmaak tussen die ander nasies uit, julle versamel uit die ander lande waarheen Ek julle verstrooi het, en vir julle die land Israel teruggee. 18Hulle sal hierheen kom en al die walglike, afskuwelike goed uit die stad uit verwyder. 19Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n hart van vleis gee. 20Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. 21Dié wat die walglike, afskuwelike dinge bly doen, se dade sal op hulle eie kop afkom.”

Dit het die Here my God gesê.

22Toe het die gerubs hulle vlerke gespan, en die wiele het saam met hulle beweeg. Die magtige teenwoordigheid van die God van Israel was bokant die gerubs. 23Die magtige teenwoordigheid van die Here het uit die stad uit opgestyg en op die berg oos van die stad gaan staan.

24Daarna het die Gees my opgetel en my teruggebring na die land van die Galdeërs toe, na die ballinge toe. Dit het gebeur in die gesig wat ek deur die Gees van God gesien het. Die gesig was toe verby. 25Ek het alles wat die Here my laat sien het, vir die ballinge vertel.

ESEGIËL 12

Hulle sal in ballingskap gaan

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, jy woon tussen 'n weerbarstige volk. Hulle het oë om te sien, maar hulle sien nie. Hulle het ore om te hoor, maar hulle hoor nie. Hulle is 'n weerbarstige volk. 3Jy, mens, moet die goed vat wat jy saam met jou in ballingskap sou wou neem en vandag nog weggaan van waar jy is na 'n ander plek toe asof jy in ballingskap weggaan. Hulle moet jou dit kan sien doen. Miskien sien hulle dit raak, maar hulle is 'n weerbarstige volk. 4Jy moet die goed wat jy in ballingskap sou wou saamvat, vandag uitbring waar hulle dit sien, en vanaand terwyl hulle jou sien, moet jy vertrek asof jy in ballingskap weggaan. 5Breek voor hulle oë 'n gat in die muur en gaan daardeur. 6Sit die goed voor hulle oë op jou skouers en vertrek in die donker. Maak jou gesig toe sodat jy nie die land sien nie. Ek maak jou 'n teken vir Israel.”

7Ek het gedoen wat my beveel is. Ek het die dag my goed wat ek in ballingskap sou wou saamvat, uitgebring en die aand het ek met my hande 'n gat deur die muur gebreek. Ek het in die donker vertrek terwyl ek my goed voor hulle oë op my skouers gedra het.

8Die môre het die woord van die Here tot my gekom: 9“Mens, die weerbarstige volk Israel het vir jou gevra wat maak jy. 10Sê vir hulle: So sê die Here my God: Hierdie uitspraak gaan oor die koning in Jerusalem en oor al die Israeliete wat in die stad is.

11“Jy moet sê: ‘Ek is vir julle 'n teken. Soos ek gedoen het, so sal met julle gedoen word.’

“Hulle sal gevangenes word en in ballingskap weggevoer word. 12Die koning wat tussen hulle is, sal sy goed in die donker op sy skouers sit en vertrek. Hy sal 'n gat deur die muur breek om deur te gaan en hy sal sy gesig toemaak sodat hy nie die land kan sien nie. 13Ek gooi my vangnet oor hom, hy sal gevang word in my net, en Ek sal hom na Babel, na Galdeërland toe bring, maar hy sal dit nie sien nie en sal daar sterf. 14Almal by hom wat hom help, al sy soldate wat hom help, sal Ek in al die windrigtings verstrooi en hulle met die swaard agtervolg. 15Wanneer Ek hulle uitmekaargejaag het onder die nasies in en hulle oor baie lande verstrooi het, sal hulle besef dat Ek die Here is. 16Maar Ek sal 'n paar van hulle laat oorbly ná die oorlog, die hongersnood en die pes sodat hulle van hulle afskuwelike dade kan vertel waar hulle onder die nasies kom en die nasies sal besef dat Ek die Here is.”

17Die woord van die Here het tot my gekom: 18“Mens, jy moet jou kos al bewende eet en jou water met ontsteltenis en met kommer drink. 19En jy moet vir die burgers van die land sê: So sê die Here my God vir die inwoners van Jerusalem, vir die land Israel: Hulle sal hulle kos met kommer eet en hulle water met huiwering drink, want die land sal gestroop word van alles wat daarin is omdat almal wat daar gewoon het, soveel geweld gepleeg het. 20Die stede wat bewoon is, sal puinhope word en die land sal verlate wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

Wat Ek gesê het, sal nou gebeur

21Die woord van die Here het tot my gekom: 22“Mens, wat se spreekwoord is dit wat julle oor die land Israel het? Julle sê: ‘Die tyd gaan verby en daar kom niks van al die gesigte nie.’ 23Sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek maak 'n end aan dié spreekwoord. Hulle sal hom nie weer in Israel gebruik nie. Sê vir hulle: Die tyd kom vinnig nader en so ook die vervulling van elke gesig. 24Daar sal nie meer vertel word van gesigte wat nie daar was nie, en daar sal nie meer gladde waarsêerpraatjies onder Israel wees nie. 25Ek, die Here, sê wat Ek sê, en dit gebeur en word nie meer uitgestel nie. In julle tyd, weerbarstige volk, sê Ek dit, en Ek sal dit doen,” sê die Here my God.

26Die woord van die Here het tot my gekom: 27“Mens, die Israeliete sê: ‘Dié gesig wat hy sien, gaan oor lang tye, hy kondig dinge aan vir die verre toekoms.’ 28Sê vir hulle: So sê die Here my God: Niks van wat Ek gesê het, sal meer uitgestel word nie. Wat Ek gesê het, sal nou gebeur,” sê die Here my God.

ESEGIËL 13

Jou profete is soos jakkalse tussen die puinhope

1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, tree jy as profeet op teen die mense wat hulle as profete van Israel voordoen. Sê vir dié mense wat as profete optree uit hulle eie verbeelding: Hoor die woord van die Here! 3So sê die Here my God: Ellende wag vir die verwaande profete wat geen gesigte gesien het nie en hulle deur hulle eie gedagtes laat lei. 4Jou profete is soos jakkalse tussen die puinhope, Israel. 5Hulle het nie gegaan na waar die muur omgeval het en weer 'n muur om Israel gebou sodat hy staande kan bly in die oorlog wanneer die oordeelsdag van die Here kom nie. 6Hulle het gesigte gesien wat nie daar was nie en hulle waarsêery is leuens. Hulle sê: ‘Die Here sê’ al het Hy hulle nie gestuur nie, en dan verwag hulle dat Hy moet laat uitkom wat hulle sê. 7Hulle sien gesigte wat nie daar was nie en hulle verkondig leuens as waarsêery, hulle sê: ‘Die Here sê’, maar Ek het dit nie gesê nie.

8“Daarom,” so sê die Here my God, “omdat wat hulle sê, vals is en omdat wat hulle as gesigte sien, leuens is, is Ek hulle teenstander,” sê die Here my God.

9“Ek tree op teen die profete wat gesigte sien wat nie daar was nie en wat leuens uitgee vir waarsêery. Hulle sal nie plek hê in die vertroulike byeenkoms van my volk nie, nie opgeskryf word in die boek van Israel nie en nie op die grondgebied van Israel kom nie. Dan sal hulle besef dat Ek die Here God is.

10“Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk 'n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.

11“Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek. 12Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’

13“Daarom,” so sê die Here my God, “laat Ek stormwinde losbreek in my gramskap, laat Ek stortreëns in my toorn, haelstene in my gramskap kom om alles te vernietig. 14Ek breek die muur af wat julle so netjies afgewit het, Ek maak hom gelyk met die grond. Sy fondamente sal sigbaar word, hy sal val en julle sal in sy puin aan julle einde kom. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. 15-16Ek sal my gramskap laat uitwoed teen die muur en teen dié wat hom afgewit het en Ek sal vir julle sê: Daar is nie meer 'n muur nie en dié wat hom afgewit het, die profete van Israel, is nie meer daar nie. Dit is hulle wat vir Jerusalem as profete opgetree het, vir die stad gesigte gesien het oor hoe goed dit sou gaan terwyl dit nie goed sou gaan nie.”

Dit is wat die Here my God gesê het.

17“Mens, praat met die vroue van jou volk, dié wat as profete optree uit hulle eie verbeelding, wees jy 'n profeet teen hulle. 18Jy moet sê: So sê die Here my God: Ellende wag vir dié wat toorbande om hulle gewrigte vaswerk en sluiers van allerlei lengtes aansit om mense in hulle mag te kry. Kan julle my volk in julle mag kry en julle eie lewens behou? 19Julle het my Naam ontwy onder my volk vir 'n paar handevol gars en 'n paar stukkies brood. Julle het mense doodgemaak wat nie moes gesterwe het nie, julle het mense in die lewe laat bly wat nie moes bly lewe het nie. Julle het dit gedoen deur my volk te belieg, hulle wat so graag leuens hoor.

20“Daarom,” so sê die Here my God, “pluk Ek die toorbande van julle arms af, die bande waarmee julle mense soos voëltjies in julle mag gekry het, en laat Ek die mense vry vir wie julle so in julle mag gekry het. 21Ek ruk julle sluiers af en red my volk uit julle mag. Hulle sal nie meer 'n magtelose prooi in julle hande wees nie. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. 22Julle het met julle leuens mense wat my wil wou doen, laat moed verloor; Ek het hulle nie smart aangedoen nie. Julle het goddelose mense aangemoedig om hulle nie van hulle verkeerde lewe te bekeer en so hulle lewens te behou nie. 23Daarom sal julle nie meer gesigte sien wat nie daar is nie en sal julle nie met julle waarsêery aangaan nie. Ek sal my volk red uit julle mag. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 10:1-13:23AFR83Maak oop in die Bybelleser
Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS